Skip to main content

Genesis 11

God bring ‘n taalverwarring en beweeg Tera om na Kanaän te trek

Genesis 11 handel oor drie onderwerpe.  In die eerste plek word die verhaal van die toring van Babel en die taalverwarring vertel – 11:1-9.  In die tweede plek word die geslagsregister van Sem waaruit Abraham gebore is aan die orde gestel met ‘n duidelike datering aan die hand van die sondvloed – 11:10-26.  In die derde plek word die familiegeskiedenis van Tera vertel, die vader van Abram en patriarg van die res van die aartsvaders wie se verhale in die res van Genesis 12-50 vertel sal word – 11:27-32.

Dit is duidelik dat die Here sy plan om die mens te gebruik om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar nie laat vaar nie.  Hy keer met die taalverwarring dat ‘n sekulêre en godlose beskawing in Babel tot stand kom wat sy planne met die mens sou fnuik.  Agter die skerms is Hy ook besig in die lewe van Tera om die trek na Kanaän te begin.  Selfs toe Tera nie die trek voltooi nie, word God nie daardeur gestuit nie, maar gaan voort met sy roeping van Abram, die vader van die gelowiges, soos ons in Genesis 12 gaan agterkom.

Watter wonderlike getuienis van God se werk agter en deur alles wat ‘n impak het regdeur die geskiedenis.  Dit herinner my aan Richard Niebuhr se stelling dat ons altyd met dié God moet rekening hou in alles wat ons doen: “God is acting in all actions upon you.  So respond to all action upon you as to respond to his action.” (The Responsible Self)

Die toring van Babel en die taalverwarring – 11:1-9

Die verhaal begin met die opmerking dat die hele wêreld een taal (“een lip” soos dit letterlik daar staan) gehad het.  ‘n Mens kry nie ‘n direkte ooreenkoms hiermee in van die antieke verhale nie, hoewel daar tog in die Sumeriese epos, Enmerkar en die Heer van Aratta, moontlik ‘n versugting na en droom van een wêreldtaal voorkom.  Sommige beskou dié versugting as die beskrywing van ‘n vervloë goue tydperk.  Ander dink dat dit as ‘n droom vir die toekoms gesien moet word.

In hulle migrasie na die ooste het hulle in Sinar (Babilonië) in Mesopotamië gekom en daar gaan woon.  Daar is nie antieke verhale wat ooreenkom met die bou van die toring van Babel nie, alhoewel die bou van ziggoerats wydverspreid in Babilonië voorgekom het.  Die toring van Babel is waarskynlik in die vorm van dié struktuur gebou wat bestaan het uit ‘n aantal trappe of terasse wat soos ‘n piramide al hoe smaller word na bo, maar waar anders as met ‘n piramide, daar ‘n platvlak bo-op was waar bv. offers gebring is.  Dit is ook van stene gebou, presies soos dit hier beskryf is: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.”  In plaas van klip het hulle dus stene gebruik, en in plaas van klei, wat meer verganklik was, asfalt.

Die feit dat hulle die toring wou bou: “waarvan die punt tot in die hemel reik” is waarskynlik ‘n aanduiding daarvan dat hulle die grens tussen mens en God wou oorsteek, op soortgelyke wyse as waarop die “hemelwesens” in Genesis 6 die teenoorgestelde grens – van God na die (vrou)mense – oorgesteek het. Maar, daamee wou hulle eintlik vir hulleself ‘n naam maak, onafhanklik van God self, en het hulleself daarmee in sy plek probeer plaas.

Dat God “afkom” om te kyk na wat hulle aanvang, gee ‘n stukkie ironiese kommentaar op die nuutste poging van die mens om sonder God ‘n beskawing te bou.  Net soos dit die geval was met Kain wat ‘n beskawing gebou het sonder God, só doen die mens dit ná die vloed weer.  Anders as met Set se nageslag wat die naam van die Here aangeroep het, maak die mens vir hulleself naam en vind hulle identiteit in hulle eie prestasies.

Dit is daarom besonder interessant om die botsing van bedoelinge in dié verhaal raak te sien.  God se bedoeling van die begin af is dat mense oor die hele aarde sal versprei.  Hy het hulle geseën om vrugbaar te wees en die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.  Die mens se bedoeling in hierdie oergeskiedenis is om op een plek te bly, ‘n stad te bou met ‘n toring wat aan die hemel raak, om so beroemd te raak vir hulle prestasies en ‘n naam te maak vir hulleself.  Die res van die skepping kan, volgens hulle, gerus maar aan hulleself oorgelaat word.

Naas die bedreiging van die “sondeval” en “broedermoord” is hierdie dus ‘n derde bedreiging, die bedreiging wat kom deurdat die mense die aarde aan homself oorlaat.  Dit sou een van die gevolge wees van die poging om in die vlakte van Sinar ’n tuiste vir almal te vind.  Die aarde sou gevolglik nie bewoon, bewerk en bewaar kon word nie.

Die Here besluit om hulle taal te verwar om hulle te stuit in hulle poging om ‘n koninkryk sonder Hom op te rig.  Maar, daarmee het Hy nie bedoel dat Hy teen ontwikkeling of beskawing is nie.  Hy wou eerder ’n tuiskoms verseker – vir mense, plante en diere – oor die hele aarde.  Die toring van Babel het in die pad van dié doelwit van God gestaan.  Trouens, soos Wenham sê: “Genesis holds that the confusion of languages is a divine antidote to human arrogance.

Die begeerte om in internasionale harmonie te bly, was dus moontlik “redelik” op daardie tydstip, maar dit het ongelukkig ‘n poging behels om ‘n “Wêreld-eenheid” op ‘n humanistiese basis te handhaaf, sonder God. Die enorme toring wat hulle beplan het om op te rig, sou dien as ‘n soort van “Verenigde Nasies” hoofkwartier wat al Noag se nageslag as ‘t ware “polities korrek” sou hou sonder enige betekenisvolle inagneming van die oppergesag van God. Hulle ingesteldheid het veronderstel dat die mens baie mooi sonder God kan klaarkom en al hul persoonlike en maatskaplike probleme suksesvol kon oplos bloot deur saam te werk.

God se reaksie op hierdie uitdaging was vinnig en beslissend. Die resultaat van menslike onafhanklikheid is wedersydse vervreemding. As gevolg van sonde word ons so egoïsties dat ons mekaar nie meer kan verstaan nie, en ons wend baie keer ook nie eers ‘n poging aan om dit te doen nie.

Die mense het dus skielik gevind dat hulle nie in staat was om te begryp wat hul mede-werkers vir hulle probeer sê het nie, veral as hulle uit ‘n ander familie kom. Hulle het dus hul vermoë om saam te werk, verloor, en moes hul groot bouprojek laat vaar. Weereens, soos voor die vloed, het die menslike geslag gefaal om in die verbondsverhouding te bly met die God wat hulle na sy eie beeld geskep het.

In dié verband is dit merkwaardig om die droom van die profeet Sefanja – ‘n tydgenoot van Jeremia, Nahum, Obadja en moontlik Joël, wat verantwoordelik was vir die negende boek van die Twaalf Kleiner Profete – in ag te neem.  Hy droom van ‘n tyd wat die lippe van die nasies weer rein gemaak sal word, om die Here te aanbid (Sef. 3:9).

Sommige verbind dié reinheid met ‘n suiwer taal, soos dit inderdaad vertaal kan word: “For then will I turn to the people a pure language.” (KJV).  Soos Peterson ook vertaal: “In the end I will turn things around for the people.  I’ll give them a language undistorted, unpolluted, Words to address God in worship and, united, to serve me with their shoulders to the wheel.” (The Message).

Dié gedagte word ‘n werklikheid met die talewonder op Pinksterdag waar Petrus en die ander dissipels waarskynlik Noordwes Aramees (moontlik ‘n Gallilese dialek), die omgangstaal in die tyd van Jesus, praat, maar godvresende Jode, uit die vyftien nasies wat daar genoem word, die boodskap in hulle eie taal hoor soos die Heilige Gees dit moontlik gemaak het (Hand. 2).

Die nageslag van Sem – 11:10-26

Die vierde deel van die Oergeskiedenis fokus op die geslagsregister van Sem.  Dit word op die patroon van die geslagsregister van Adam gegee wat geëindig het met Noag en sy drie seuns (Gen. 5).  Dit sluit dus naatloos daarby aan, hoewel daar geen interessante brokkies nuus oor van die persone ingesluit word nie.

In tien geslagte wat ‘n tydperk van 290 jaar omspan, beweeg die oergeskiedenis van Sem, die seun van Noag, na die aartsvadertyd, Abraham, die seun van Tera.  Dit beteken dat Abram 367 jaar ná die vloed na Kanaän getrek het toe hy 75 jaar oud was (Gen. 12:4 – Arpaksad is twee jaar ná die vloed gebore).

Dit is duidelik dat Sem se nageslag al hoe korter gelewe het ná die geboorte van Peleg wat verbind word met die verdeling van die aarde weens die taalverwarring.  Tog het Sem (600) , Arpaksad (438), en Selag (433) nog gelewe in die tyd toe Abram die trek na Kanaän aangedurf het.  Sestig jaar voor Tera dood is, het Abram die pad gevat agter die roeping van die Here aan.

Die nageslag van Tera – 11:27-32

Met die vyfde en laaste deel van die oergeskiedenis word die oorgang na die patriargale geskiedenis beslissend gemaak.  Tera word die vader van Abram, Nahor en Haran in Ur van die Galdeërs (waarskynlik suid-Mesopotamië naby die Persiese Golf, hoewel daar ook goeie redes vir ‘n Turkse interpretasie is).  Haran is vroeg dood, maar hy het twee dogters gehad, Milka (ouma van Rebekka) en Jiska.  Die naam van sy vrou word nie genoem nie.  Die teks maak nie iets van die feit dat Nahor met een van dié dogters van sy broer Haran getroud is nie.  Isak sal ook later met sy kleinniggie Rebekka trou uit dieselfde geslag.

Die vermelding van Sarai, Abram se vrou, se onvrugbaarheid is ‘n belangrike opmerking in die lig van die verhaal wat hierna sal volg veral in die lig van die feit dat God die nageslag van Noag en Sem geseën het en die opdrag gegee het om vrugbaar te wees en die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.

Dit is ook interessant dat Tera sy kleinseun Lot, seun van Haran, sowel as vir Abram en sy vrou Sarai neem om te trek na Kanaän.  Onthou dat Abram reeds in Ur geroep is (Gen. 15:7; Hand. 7:2).  Dit beteken dat Tera op een of ander manier hierby ingetrek is.  Hulle het egter net tot in Haran (plek naby die Eufraat in Mesopotamië) getrek en daar het dié inisiatief gestop.  Tera het daar gesterf.  Dit laat die opening vir die nuwe geskiedenis wat God met Abram sal skryf…

Boodskap

Aldrie die groot bedreigings van Genesis 1-11 vir God se goeie skepping bestaan steeds vandag nog.

  1. Die skepping word bedreig deur die verhouding met God af te skeep (Gen. 3 en 6),
  2. deur nie in vreedsame naasbestaan met ons medemense te lewe nie (Gen. 4)
  3. sowel as om die aarde nie te bewoon, bewerk en bewaar nie (Gen. 11).

Die gevolge is ook steeds dieselfde.  Ongehoorsaamheid aan God se riglyne vir die lewe stel jou tuiste by God, jou tuiste by ander, en jou tuiste op die aarde in gevaar.

Een toepassing hiervan is om na te dink oor waar die wortels van die onrus in ons land en op ander plekke in die wêreld lê.  Dink maar net na wat vandag in die breër Midde-Ooste gebied gebeur – Sirië, Turkye, Iran, Palestina-Israel en die vlugtelinge krisis in baie dele van die wêreld.

Die rede daarvoor lê ook telkens in die feit dat mense nalaat om in liefde teenoor God, hulle naaste en hulle omgewing te lewe.  Die gevolge van dié wanbalans lê in die ervaring van mense dat hulle hul verbintenis met die land en die samelewing verloor, en dan praat ons nie eers van die effek op plante en diere of die Godsbewussyn nie.

Dit vorm na my mening die kern van die diskoers ook in ons land rondom land en landsbesit waaroor so baie berig word. Dit kom na my mening uit ‘n diepgewortelde dissonansie, ‘n gevoel van nie-behoort, ‘n ervaring by baie dat daar nie ‘n toekoms vir hulle is nie, dat hulle nie ‘n tuiste in hierdie land het nie.

Ons word daarom geroep om ‘n verskil te maak.  Nie om aan alle eise gehoor te gee nie.  Vir seker nie.  Maar om die boodskap van Genesis 1-11 prakties te maak, om mee te werk aan die klem wat God plaas op die ruimte wat nodig is om te bewoon, bewerk en bewaar.  En dit vir alle mense.

Dié boodskap kom ooreen met die NT boodskap, hoewel dit daar ook duidelik is dat God op pad is met die heelal na ’n finale herskepping.  God gaan die hele wêreld laat herleef en nuut maak.  Dit sluit alles in: mens, dier, plant, en aarde (Matt. 19:28).  Dit is ook die droom van Johannes (Openb. 21:1-8).

En dit is een van die take waarby die Gees ons intrek (Rom. 8:18-30).  Soos die skepping sug om van die verganklikheid verlos te word, en dit sluit die hele ekologie in – die habitat van die mens, dier en plant – so sug die kinders van God, bygestaan deur die sug van die Gees, om volledige verlossing.

En dit is waaraan ons ons lewe wy, aan God, ons medemense en die omgewing.

Plekname in die Bybel

Indien jy belangstel in die plekname van die Bybel, en spesifiek hoe ‘n mens dit met plekname van vandag kan verbind, kan jy OpenBible gebruik.  Enige naam wat in ’n Bybelboek genoem word, is beskikbaar by Openbible.  Kry daar die name van die Bybelse plekke en tik dit so akkuraat as moontlik by Google Earth in. Dan kan jy uit satellietfoto’s sien hoe die presiese plek vandag lyk. Jy moet natuurlik ook Google Earth op jou rekenaar installeer!

(Met erkenning aan Bybel-Media vir dié wenk)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda