Skip to main content

2 Konings 23:31-24:6; 2 Kronieke 36:1-8

Jehoagas en Jojakim word in ballingskap weggevoer

Ons kom by die laaste 23 jaar van die koninkryk van Juda en die vier laaste konings van Juda: Jehoagas/Joahas (Sallum), Jojakim (Eljakim), Jojagin en Sedekia (Mattanja) – 609-586 v.C. Ons lees vandag die verhaal van die kort regering van Jehoagas wat eindig met sy ballingskap en sterfte in Egipte, sowel as die verhaal van die afgryslike koning Jojakim, sy ouer broer, wat vir hom ook eindig in ballingskap, in Babilonië (2 Konings 23:31-24:6; 2 Kronieke 36:1-8).

Teks en konteks

Jehoagas/Joahas

Die burgers van die land maak Jehoagas/Joahas koning om sy pa Josia op te volg op die jeugdige ouderdom van 23, gebore vir Josia toe dié net 16 jaar oud was. Jeremia noem hom Sallum (Jer. 22:11). Hy was die 4de oudste van Josia se kinders met Joganan, Jojakim en Sedekia ouer as hy (1 Kron. 3:15). Let op dat sy ma Gamutal ‘n dogter van Jeremia uit Libna was, maar dit is nie die profeet Jeremia nie.

Joahas het egter nie veel tyd vir regeer nie en word na net 3 maande deur die koning van Egipte, Nego/Neko, gevange geneem, en uiteindelik na Egipte weggevoer, waarskynlik as straf vir die koppige dwaasheid van Josia wat in die konflik met Nego gesterf het. Kronieke gee geen beoordeling van sy regering nie, hoewel Konings vermeld dat hy die Here nie gedien het nie en in Egipte gesterf het (2 Kon. 23:30-34), soos Jeremia ook voorspel het (Jer. 22:11-12).

Juda kry ’n stywe boete van silwer en goud vir die koning van Egipte. Nego maak Jehoagas se ouer broer, Eljakim, koning oor Juda, maar verander sy naam na Jojakim, waarskynlik om sy mag oor hom daarmee te bevestig en aan die volk te kommunikeer dat Juda nou onderdanig is aan Egipte.

Jojakim

Hoewel Jojakim 11 jaar in Jerusalem regeer, staan sy regering ook in die teken van die afvalligheid van sy voorsate. Kronieke gee nie enige detail nie, maar verkwalik Jojakim vir die “afskuwelike dinge” wat hy sou gedoen het. Konings wyt egter steeds die opeenvolgende konflikte wat Juda beleef veral aan die sonde van Manasse wat nog ’n groot invloed in die land gehad het, veral weens die onskuldige bloed wat in die land vergiet is (2 Kon. 24:4).

Jeremia brei daarop uit – soos ons later sal lees – en wys hoe Jojakim kwistig daaraan meegedoen het: hy het sy huis met onreg gebou, sy mense sonder betaling laat werk, nie die saak van die swakke en arme behartig (soos sy pa Josia) nie, homself verryk ten koste van ander en (soos sy grootjie Manasse) mense onskuldig laat doodmaak (Jer. 22:13-19).

Jeremia se oordeel oor Jojakim is: “Hy sal soos ’n donkie begrawe word: hy sal van hier weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.” (Jer. 22:19).

Kronieke sluit hierby aan en sê dat Jojakim met bronskettings geboei is om na Babel weggevoer te word, hoewel geleerdes verskil oor die uitkoms hiervan. Die Hebreeus kan verstaan word asof Jojakim geboei is om weggevoer te word, maar dat die uitkoms daarvan oopgelaat word: “geboei met bronskettings om na Babel toe te vat …” Dit kan dus beteken dat hy nooit daar uitgekom het nie.

Hoe dit ook al sy, dit gebeur in 597 v.C. en Jerusalem word vir die eerste keer ingeneem deur koning Nebukadnesar van Babel – volgens Konings, weens Jojakim se opstand teen Nebukadnesar na ’n tydperk van 3 jaar se onderdanigheid (2 Kon. 24:1). Die tempel word geplunder en Jojakim se regering op 36 jarige ouderdom beëindig.

Onthou dat Daniël reeds in die 3de jaar (ongeveer 606 v.C.) van Jojakim na Babel weggevoer is in een van Nebukadnesar se eerste veldtogte teen Juda (Dan 1:1). Dit was een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die koning van Babel was. Dit moes ook ’n impak gehad het op Jojakim se seun, Jojagin, wat uiteindelik in ballingskap begenadig is, soos ons 2 Konings 25 lees.

Boodskap en betekenis

Ons sien hier ‘n kant van God wat ons nie maklik eien nie. Die God wat ons in Jesus ken as die vergewensgesinde, die een wat belowe dat Hy ons sonde so ver van ons af sal verwyder as die ooste van die weste af is, dié God besluit om Juda uit sy teenwoordigheid te verwyder.

Hoekom? Uiteraard was dit weens die konings van dié tyd, Jojakim en na hom Jojagin, wat volhard het in die sondes van hulle voorvaders. Jojakim het byvoorbeeld die Woord van God geminag deur dit te verbrand (Jer 36) en die woord van Jeremia in die wind geslaan. Maar volgens die skrywers van Konings was dit veral weens die sonde van Manasse en die onskuldige bloed wat hy in Jerusalem vergiet het:

“en die Here wou dit nie vergewe nie.”

Maar dit is nie al nie. Uit die boek Jeremia kan ‘n mens agterkom dat dié sondes ook wyd deur die priesters, profete en die gewone Judeërs nagevolg is (bv. Jer 23). Die hele samelewing het verword en was aan die Here ongehoorsaam. Vergelyk bv. die oordeel van die Here oor hoe hulle met vrygelate slawe gesondig het (Jer 34) deur hulle weer in slawerny te dompel. Maar, daaroor later.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar