Skip to main content

Jeremia 7:1-8:3

Moenie op die tempel vertrou nie

Terug by die verhaal van Jeremia word hy opdrag gegee om in die poort van die huis van die Here te gaan staan, en aan die volk die woord van die Here te verkondig (Jer 7:1-15). Hoewel daar nie ’n tydsaanduiding in hierdie hoofstuk is wanneer dit gebeur het nie, dui die inhoudelike ooreenkoms met die soortgelyke opdrag in Jeremia 26 daarop dat dit oor dieselfde opdrag gaan. Jeremia 26 word aan die begin van koning Jojakim se regeringstyd geplaas (Jer 26:1) wat dus ook van toepassing is op Jeremia 7. Die tyd is dus ongeveer 609-608 v.C.

Waar die verhaal van hoofstuk 26 uitmond op die interaksie tussen Jeremia en die volk wat amper sy dood beteken, fokus hoofstuk 7 egter op die interaksie tussen die Here en Jeremia. Vandaar die feit dat albei interaksies in die boek opgeneem is.

In drie gesprekke van God met Jeremia in hoofstuk 7 word hy soos te vore verbied om vir die volk in te tree (Jer 7:16-20), gewaarsku dat hulle nie na hom sal luister nie (Jer 7:24-29), en oortuig dat hulle ongehoorsaamheid onafwendbaar sal lei tot ballingskap (Jer 7:30-8:3).

Die gesprek van God met Jeremia word onderbreek deur ‘n boodskap wat waarskynlik aan die volk gerig was oor die nutteloosheid om offers te bring en nie terselfdertyd aan God gehoorsaam te wees nie (Jer 7:21-23).

Teks en konteks

Jeremia 7:1-15 – Jeremia bring die woord van die Here in die tempel

Dit kan wees dat Jeremia sy beurt as priester gebruik het om in die poort van die huis van die Here te gaan staan om dié opdrag van die Here uit te voer. Soos verskeie Psalms ons herinner, was dit ’n belangrike deel van die verrigtinge by die tempel, om jouself te ondersoek en gereed te maak om die tempel binne te gaan (Ps. 15; 24; 95 ens.). “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? … Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat, … sy medemens nie kwaad aandoen nie en niemand beledig nie … en hom nie laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie.” (dele uit Ps. 15:1-5).

Jeremia sluit dus hierby aan om die volk te waarsku om hulle lewe en hulle dade reg te maak, om die voorreg van die land te kan bly geniet. En hy spel die dinge uit wat hulle lewens moet kenmerk, om aan mekaar reg te doen, om nie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aan te doen nie, om nie onskuldige bloed in die land te vergiet nie en ook nie ander gode te dien nie. Hulle sosiale en morele lewe moet hulle geestelike verbintenis aan God reflekteer, anders trek hulle ’n streep deur hulle verhouding met die Here.

Die probleem was dat die volk gedink het dat God só verbind was aan die tempel dat dit outomaties beteken het dat Hy Jerusalem sou beskerm, en daarmee saam ook vir hulle. Hulle het dus met die valse idee geleef dat hulle veilig is. Die Here dwarsboom egter dié leuen met ’n oproep uit die wet van die Here en koppel hulle voortgesette verblyf in die land aan die nakoming van die wet, opgesom in aspekte van die tweede tafel van die wet wat hulle nie mag doen nie: steel (8ste), moor (6de), egbreuk pleeg (7de), vals ede aflê (9de) en daarby ook nog aspekte van die eerste tafel van die wet wat hulle oortree deur wierookoffers te bring vir Baäl (1ste en 2de gebod). Sonder gehoorsaamheid sal hulle nie behoue bly nie.

Die Here verwys dan na die voorbeeld van Silo, so 50 km noord van Jerusalem, die plek waar die tabernakel met die ark eers geplaas is voor die tempel in Jerusalem gebou is. Weens die ongehoorsaamheid van die volk is die ark toentertyd weggevoer in “ballingskap” en die tabernakel verwoes in die tyd van Eli. Die dorpie self is verwoes in 722 v.C. met die noordryk se wegvoering in ballingskap. Psalm 78:59-64 verwys na die gebeure waar die Here die volk die onderspit laat delf het in die oorlog by Silo en die ark weggevoer is.

Die Here roep nou weereens dié gebeure in herinnering as waarskuwing dat hulle misplaaste vertroue in die tempel hulle suur gaan bekom. Die verwerping en gevolglike vernietiging blyk onafwendbaar te wees.

Jeremia 7:16-20 – God weier dat Jeremia vir die volk intree

Die ontstellende waarheid wat in dié gesprek met Jeremia na vore kom, is dat genadetyd verbygaan en dat selfs die grootste voorbidder dan nie meer ‘n oor by God het nie. “Jy moenie vir hierdie volk bid nie. Moet My nie ter wille van hulle smeek nie en by My vir hulle voorspraak probeer doen nie. Ek sal nie na jou luister nie.”

Op dieselfde manier as wat die Here dit al twee keer vir Jeremia gesê het. In Jer. 11:14 word Jeremia op soortgelyke manier belet om te bid vir die volk en in Jer. 15:1 gaan die Here selfs so ver as om te sê: “Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie.” En onthou, Moses en Samuel (wat grootgeword het in die heiligdom by Silo!) was by uitstek bekend as voorbidders wie se gebede God verhoor het: “Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het. Hulle het die Here aangeroep en Hy het hulle gebed verhoor.” (Ps 99:6)

Ook Esegiël wat net hierna in ballingskap met sy bediening begin, kry die ontstellende boodskap dat dinge só sleg kan gaan in ’n volk dat voorbidding ‘n baie beperkte invloed sal hê. Die Here verkondig aan hom die wrede waarheid dat as God uiteindelik sy oordeelsbesluit in werking stel: “sou selfs daardie drie manne van ouds, Noag, Daniël en Job wat volgens my wil geleef het, net hulleself in die lewe kon hou.” (Eseg. 14:14).

Vir Jeremia verduidelik die Here die rede waarom dit so is. Die volk, klein en groot, vereer eerder die koningin van die hemel (waarskynlik Isjtar/Astarte), as vir God. Daardeur maak hulle nie vir God seer nie, maar hulleself, omdat hulle skande oor hulleself bring. God se toorn kom daarom oor die land en sy mense , die ekologie sowel as die ekonomie en sal deur niks, selfs nie gebed nie, tot bedaring gebring word nie.

Jeremia 7:21-23 – God eis gehoorsaamheid eerder as offers

Terselfdertyd leer die Here tog die volk iets van Homself, miskien by dieselfde geleentheid waar Jeremia by die tempel opgetree het. Hy soek nie brandoffers nie. Hy soek gehoorsaamheid. Hulle verhouding met God hang van hulle gehoorsaamheid af, nie van hulle offerkultus nie. Hulle moet leef soos die Here hulle beveel. Dan sal dit goed gaan met hulle.

Jeremia 7:24-29 – God waarsku Jeremia dat die volk nie na hom sal luister nie

In die res van die hoofstuk fokus die Here op Jeremia en waarsku hom dat die volk nie na Hom sal luister nie. Immers, hulle het nie na God geluister nie. Hoekom sal hulle na Jeremia luister wat God se woord aan hulle bring. Die Here gooi ’n blik terug na die verlede waar Hy op vele wyses met die volk deur sy dienaars die profete gepraat het, maar tevergeefs.

Hoewel Jeremia op dié punt nie antwoord nie, is dit natuurlik sy probleem, soos hy later dit gaan formuleer. Waarom kry hy die taak om iets te sê, selfs tot vervelens toe, as hulle in elk geval nie gaan luister nie. Die Here gee egter vir hom steeds die opdrag om te praat, maar verander die toon daarvan na dié van ’n klaaglied. Hy word ook aangesê om sy hare af te sny, soos ’n wafferse Simson, om sy nasireërskap te verbreek as ’n simbool daarvan dat die volk hulle verhouding met God verbreek het, en Hy hulle daarom verwerp het.

Jeremia 7:30-8:3 – God kondig die ballingskap aan

In hierdie verse word die afskuwelike afgodediens van die Judeërs wat selfs kinderoffers ingesluit het, aangevat, iets wat selfs nie in God se gedagtes opgekom het nie. Die hoogtes Tofet en Ben-Hinnom vallei net suid van Jerusalem was dus doodgewoon in die oë van die Here ’n Moorddal, ’n plek waar kinders om die lewe gebring is. Josia het probeer om ’n einde daaraan te maak, maar blykbaar nie daarin geslaag nie (2 Kon. 23:10).

Daarom doen die Here nou die vreeslike ding om hulle voorsate se grafte te ontheilig as ’n straf vir hulle ontheiliging van hulle eie kinders se lewens. Daarmee gee Hy die vernietigende boodskap dat Hy hulle totaal sal vernietig soos Hy selfs die bene van hulle voorsate sal uitwis. En as iemand die oordeel miskien sou vryspring, sal die dood vir hulle verkieslik wees bo die lewe in die plekke waarheen die Here hulle sal verdrywe.

Boodskap en betekenis

’n Mens sug eintlik ’n sug van verligting as jy dié oordeelswoorde klaar gelees het. Dit is nie lekker leesstof nie! Daar is geen hoop in nie. As selfs gebed nie meer werk nie, dan het dit regtig laat geword. Maar dit is natuurlik presies wat die Here wil kommunikeer. Dinge kan só uitrafel dat die dood bo die lewe verkies word.

Ek dink die enigste positiewe boodskap wat uit dié gedeelte kom en wat my dié dag kan dra, is dat die Here se belofte steeds is, selfs wanneer Hy oordeel preek, dat Hy ’n God sal wees vir enigiemand wat Hom gehoorsaam en leef soos Hy dit wil (Jer. 7:23).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar