Skip to main content

2 Korintiërs 12

As ek swak is, is ek sterk

Paulus brei in hierdie hoofstuk uit oor die paradoks van sy ervaringe, verbluffende hoogtepunte en uitmergelende laagtepunte (2 Kor. 12:1-10) en weer oor sy besorgdheid oor die Korintiërs wat hy met die metafoor van ouers teenoor kinders uitdruk (2 Kor. 12:11-21).

Teks en konteks

Die paradoks van verbluffende hoogtepunte en uitmergelende laagtepunte – 2 Korintiërs 12:1-10

Dit lyk op die oog af asof Paulus van ‘n ander persoon as hyself praat in vers 2-4. Dit is egter waarskynlik dat Paulus hier oor homself in die derde persoon skryf, en wel om die volgende redes:

  • Hy is besig om sy apostoliese gesag te verdedig, en dit sou nie sin maak om oor iemand anders se gesigte en openbarings te skryf nie.
  • Ons lees op ‘n paar ander plekke van gesigte wat hy gehad het (vgl. Hand. 9:3; 16:9; 22:17; 27:24; Gal. 1:12).
  • Vers 6 is ‘n verskuilde aanduiding dat dit wel hy is: “al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat.”
  • Hy wil nie eintlik oor iets praat waaroor hulle nie ‘n oordeel sal kan uitspreek nie, maar nou dwing hulle hom op dwaas te wees, om die aansprake van die valse apostels te troef.

Paulus sê dat dit veertien jaar gelede gebeur het. As hy na homself verwys, dui dit op die tyd in Arabië toe hy in die leerskool van die Here Jesus self was. Dit is eintlik nog ‘n rede waarom ‘n mens Paulus as dié persoon kan eien.

Dit wil voorkom asof die derde hemel en die paradys dieselfde plek is, dit is, die plek waar hy in die teenwoordigheid van God sou wees.

Die doring in Paulus se vlees is in die verlede veral met siektes verbind (bv. ‘n oogsiekte op voetspoor van Gal. 4:13-15, wat vertel dat hy siek geword het, en hulle met hom deernis gehad het, en “as dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het”).

Die feit dat die doring in die vlees aan “’n engel van Satan” wat Paulus met die vuis slaan, verbind word, kan daarteenoor dui op iemand wat hom besonder sterk teengestaan het.

Miskien juis een van die “super-apostels.” Want, Paulus het juis in die vorige hoofstuk dié apostels aan die Satan as ‘n engel van die lig verbind. Maar, hoewel laasgenoemde opsie vir my baie sin maak, bly dit eintlik ‘n onopgeloste raaisel.

Paulus se beskrywing van God se krag wat tot sy volle werking kom wanneer ons swak is, is nie net ‘n goeie beskrywing van die lewe van ‘n apostel nie, maar ook ‘n bemoediging vir elkeen wat op een of ander stadium in sy lewe ontberinge ly in die navolging van Jesus.

Des te meer, omdat die ontberinge baie keer deel van die lewe van ‘n mens se bediening raak. En dan is dit goed om te hoor dat Paulus ook moes vrede maak met sy uitdagings, want die Here se belofte is: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.”

Daarom kon Paulus besluit om liewer op sy swakhede te roem, want dit is juis dan wat Christus se krag hom kan beskut. Swakhede is daarom iets om oor bly te wees, want daardeur kom God se krag tot sy volle werking.

Let ook op hoe Paulus dan die merktekens van ‘n apostel uitspel (wat juis in swakheid na vore kom): tekens, wonders en kragtige dade (vers 12). Dit kan ook as ‘n meetinstrument aangelê word vir mense vandag wat graag die term apostel op hulle eie bediening van toepassing wil maak.

Paulus se besorgdheid oor hulle soos ouers teenoor kinders – 2 Korintiërs 12:11-21

Paulus is ook baie duidelik oor wat sy doel met sy bediening aan hulle is: “Alles wat ons doen, geliefdes, is in belang van julle geestelike opbou.” Want, hy is baie besorgd dat hulle onderlinge onenigheid, jaloesie, woede-uitbarstings, selfsug, kwaadpratery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid hulle van die pad af kan verlei.

Daarom is hy vir die derde keer op pad na hulle toe uit besorgdheid oor hulle geestelike volwassenheid. Maar, hy soek hulle groei nie hulle geld nie, geïllustreer met die metafoor van ouers wat spaar vir hulle kinders se opvoeding, en nie andersom nie. Dit geld Titus en dit geld Paulus se bediening aan hulle.

Let ook op hoe Paulus treur oor die dinge wat verkeerd is by hulle, veral dié mense wat hulle nie bekeer het van die onreinheid en onsedelikheid en losbandigheid wat hulle bedryf het nie.

Boodskap en betekenis

Die paradoks van apostelskap staan uit in hierdie gedeelte. God se krag kom juis tot volle werking in menslike swakheid. Paulus deel aan die een kant die buitengewone geestelike ervaring wat hy gehad het, maar plaas die fokus nie op die visioen nie, maar eerdeer op die “doring in die vlees” wat hom nederig gehou het. Of dit nou siekte of teenstand was, Paulus aanvaar dit as ‘n goddelike manier om hom afhanklik van Christus te hou.

Sy kernboodskap is daarom: “As ek swak is, is ek sterk” – want in sy swakhede beleef hy die krag van Christus. Dit is die boodskap wat elke gelowiges bemoedig wat swaarkry of struikel in diens van Christus.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…