Skip to main content

2 Korintiërs 12

As ek swak is, is ek sterk

Paulus brei in hierdie hoofstuk uit oor die paradoks van sy ervaringe, verbluffende hoogtepunte en uitmergelende laagtepunte (2 Kor. 12:1-10) en weer oor sy besorgdheid oor die Korintiërs wat hy met die metafoor van ouers teenoor kinders uitdruk (2 Kor. 12:11-21).

Teks en konteks

Die paradoks van verbluffende hoogtepunte en uitmergelende laagtepunte – 2 Korintiërs 12:1-10

Dit lyk op die oog af asof Paulus van ‘n ander persoon as hyself praat in vers 2-4. Dit is egter waarskynlik dat Paulus hier oor homself in die derde persoon skryf, en wel om die volgende redes:

  • Hy is besig om sy apostoliese gesag te verdedig, en dit sou nie sin maak om oor iemand anders se gesigte en openbarings te skryf nie.
  • Ons lees op ‘n paar ander plekke van gesigte wat hy gehad het (vgl. Hand. 9:3; 16:9; 22:17; 27:24; Gal. 1:12).
  • Vers 6 is ‘n verskuilde aanduiding dat dit wel hy is: “al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat.”
  • Hy wil nie eintlik oor iets praat waaroor hulle nie ‘n oordeel sal kan uitspreek nie, maar nou dwing hulle hom op dwaas te wees, om die aansprake van die valse apostels te troef.

Paulus sê dat dit veertien jaar gelede gebeur het. As hy na homself verwys, dui dit op die tyd in Arabië toe hy in die leerskool van die Here Jesus self was. Dit is eintlik nog ‘n rede waarom ‘n mens Paulus as dié persoon kan eien.

Dit wil voorkom asof die derde hemel en die paradys dieselfde plek is, dit is, die plek waar hy in die teenwoordigheid van God sou wees.

Die doring in Paulus se vlees is in die verlede veral met siektes verbind (bv. ‘n oogsiekte op voetspoor van Gal. 4:13-15, wat vertel dat hy siek geword het, en hulle met hom deernis gehad het, en “as dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het”).

Die feit dat die doring in die vlees aan “’n engel van Satan” wat Paulus met die vuis slaan, verbind word, kan daarteenoor dui op iemand wat hom besonder sterk teengestaan het.

Miskien juis een van die “super-apostels.” Want, Paulus het juis in die vorige hoofstuk dié apostels aan die Satan as ‘n engel van die lig verbind. Maar, hoewel laasgenoemde opsie vir my baie sin maak, bly dit eintlik ‘n onopgeloste raaisel.

Paulus se beskrywing van God se krag wat tot sy volle werking kom wanneer ons swak is, is nie net ‘n goeie beskrywing van die lewe van ‘n apostel nie, maar ook ‘n bemoediging vir elkeen wat op een of ander stadium in sy lewe ontberinge ly in die navolging van Jesus.

Des te meer, omdat die ontberinge baie keer deel van die lewe van ‘n mens se bediening raak. En dan is dit goed om te hoor dat Paulus ook moes vrede maak met sy uitdagings, want die Here se belofte is: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.”

Daarom kon Paulus besluit om liewer op sy swakhede te roem, want dit is juis dan wat Christus se krag hom kan beskut. Swakhede is daarom iets om oor bly te wees, want daardeur kom God se krag tot sy volle werking.

Let ook op hoe Paulus dan die merktekens van ‘n apostel uitspel (wat juis in swakheid na vore kom): tekens, wonders en kragtige dade (vers 12). Dit kan ook as ‘n meetinstrument aangelê word vir mense vandag wat graag die term apostel op hulle eie bediening van toepassing wil maak.

Paulus se besorgdheid oor hulle soos ouers teenoor kinders – 2 Korintiërs 12:11-21

Paulus is ook baie duidelik oor wat sy doel met sy bediening aan hulle is: “Alles wat ons doen, geliefdes, is in belang van julle geestelike opbou.” Want, hy is baie besorgd dat hulle onderlinge onenigheid, jaloesie, woede-uitbarstings, selfsug, kwaadpratery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid hulle van die pad af kan verlei.

Daarom is hy vir die derde keer op pad na hulle toe uit besorgdheid oor hulle geestelike volwassenheid. Maar, hy soek hulle groei nie hulle geld nie, geïllustreer met die metafoor van ouers wat spaar vir hulle kinders se opvoeding, en nie andersom nie. Dit geld Titus en dit geld Paulus se bediening aan hulle.

Let ook op hoe Paulus treur oor die dinge wat verkeerd is by hulle, veral dié mense wat hulle nie bekeer het van die onreinheid en onsedelikheid en losbandigheid wat hulle bedryf het nie.

Boodskap en betekenis

Die paradoks van apostelskap staan uit in hierdie gedeelte. God se krag kom juis tot volle werking in menslike swakheid. Paulus deel aan die een kant die buitengewone geestelike ervaring wat hy gehad het, maar plaas die fokus nie op die visioen nie, maar eerdeer op die “doring in die vlees” wat hom nederig gehou het. Of dit nou siekte of teenstand was, Paulus aanvaar dit as ‘n goddelike manier om hom afhanklik van Christus te hou.

Sy kernboodskap is daarom: “As ek swak is, is ek sterk” – want in sy swakhede beleef hy die krag van Christus. Dit is die boodskap wat elke gelowiges bemoedig wat swaarkry of struikel in diens van Christus.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar