Skip to main content

Filippense 3:1-4:1

Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde

Die oplossing vir konflik met mense wat anders dink as jy, lê baie keer nie in die direkte konfrontasie met hulle nie, maar in die fokus op jou eie verhouding met die Here Jesus. Om te groei in jou kennis van Hom, en Sy krag te ondervind in die praktyk van jou lewe, is die beste manier om koers te hou, sonder om ander af te kraak, of deur hulle van stryk gebring te word. En wanneer jy dit regkry om dit boonop saam met ander te doen, selfs en veral saam met dié van wie jy verskil, dan groei ‘n gemeenskap in geestelike volwassenheid!

Teks en konteks

Ontwrigting kom van tradisionaliste en vrysinniges

Die gemeente in Filippi het nog steeds groot ontwrigting ervaar van teenstanders, onder andere van die gemeenskap (Fil 1:28-30), maar ook toenemend vanweë mense binne die geloofsgemeenskap.

Aan die een kant was daar tradisionaliste wat klem gelê het op die Joodse tradisie, maar deur Paulus as dwaalleraars uitgewys word. Hy noem hierdie dwaalleraars “honde” soos dit letterlik in vers 2 staan – ironies genoeg presies die term waarmee Jode soms die heidene beskryf het (Jesaja praat ook van valse profete as “stom honde” – Jes. 56:10 – mense wat sonder insig optree).

Hulle was gelowiges wat steeds aan die Joodse tradisies vasgehou het, en die besnydenis as verpligtend geag het ook vir gelowiges uit die heidene, eerder as die verbintenis aan Christus alleen. Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-Joods, en nie net aan Christus verbind nie.

Aan die ander kant was daar ook vrysinniges, of libertyne. Hulle was weer gelowiges wat geen morele beperkinge aanvaar het nie en hulle eie lewensreëls aangehang het in terme van die bevrediging van allerlei liggaamlike behoeftes (“skande” het waarskynlik ’n seksuele konnotasie – vers 19). Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-wêrelds, waarin hulle self die sentrum van hulle lewens kon bepaal, eerder as dat hulle kennis van Christus dit sou bepaal.

In albei gevalle wou hierdie mense nie die boodskap van die kruis – ’n lydende selfontledigende Messias – as paradigma vir hulle lewe aanvaar nie (vers 18), wat vir Paulus beteken dat hulle “as vyande van die kruis van Christus lewe”. En dié mense het die gelowiges in die gemeente van Filippi onseker gemaak.

Ontwrigting moet groter gehoorsaamheid en getrouheid stimuleer

Paulus se raad aan die gemeente is om nie afgeskrik of geïntimideer te word deur óf die teenstanders óf die dwaalleraars óf die vrysinniges nie, maar vas te bly staan in die geloof, volkome eensgesind verder saam te stry vir die evangelie, en koers te hou op die pad wat hulle tot dusvêr ingeslaan het (vers 16) in navolging van Paulus (vers 17) en in getrouheid aan die Here (Fil. 4:1).

Hulle sekerheid (vers 1) moes nie in hulle afkoms of die onderhouding van uiterlike dinge gesoek word nie – juis die voordele wat Paulus laat vaar het ( gebore Israeliet, Benjaminiet soos koning Saul, egte Hebreër [ma en pa was Jode], nougesette Fariseër) – maar in die vashou aan en vertroue op die Een wat sekerheid bring.

Die verwarring wat die Joodse tradisionaliste veroorsaak het, en die versoeking waarvoor die vrysinniges hulle geplaas het, moes hulle dus stimuleer tot groter gehoorsaamheid en getrouheid, presies die dinge wat Christus in hulle lewens wou bewerk. En om hulle hierin te help, wys Paulus op die voorbeeld wat hyself by hulle gestel het, en ander steeds doen (vers 17): “Follow my example and copy those who live the way we showed you” (New Century Version).

Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde

Die voorbeeld wat Paulus vir hulle gestel het en waaraan hy sy hele lewe gewy het, was om Christus Jesus te ken (vers 10), en om deur Hom geken te word (vers 12). Dit oortref alles in waarde. Wat vroeër vir hom ’n bate was, is nou vir hom eerder ’n las. Om Christus te ken, is waarom dit nou vir Paulus gaan teenoor alle ander dinge waarin mense wins en voordeel soek. “Ons het die ware besnydenis[1] … óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie… want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde” (vers 3, 8).

En dié waarde spel Paulus uit op twee maniere. Dit lê in die vryspraak (geregtigheid) wat God gee aan dié wat in Christus glo, sodat hulle met Hom in ’n versoende verhouding kan leef. En dit lê in die gelykvormigheid aan Christus in die selfontlediging van Sy dood en die verheerliking met sy opstanding (vgl. vers 10 met 2:6-11).

Dit is die enigste wens wat Paulus vir homself het, en dit is waar om sy roeping en lewe wentel. Dit is immers presies in hierdie gelykvormigheid wat die hoop van die opstanding ook lê. Daarmee gee Paulus ook ’n baie spesifieke inhoud aan wat met geestelike volwassenheid (vers 15) bedoel word: dit beteken nie om volmaak te wees nie, maar om al hoe meer gestempel te word deur die kennis van Christus, en te leef uit die werklikheid dat Hy: “my reeds Syne gemaak het” (vers 12). Paulus wil dus in die werklikheid van sy persoonlike alledaagse lewe al hoe meer ervaar wat Hy glo en teologies weet die waarheid is.

Die opstanding maak ons liggame gelykvormig aan Christus s’n

Paulus skryf in vers 10 oor sy hoop om nie net deel te hê aan die lyding van Christus nie, maar ook die krag van Sy opstanding te ervaar in die hoop dat hy ook deel sal hê aan die opstanding (exanastasis[2]) van die dooies (nekron). Hy verduidelik sy verstaan daarvan verder in vers 21 met twee Griekse woorde: metaschematizo (transformeer of verander) en summorphos (gelykvormig te maak aan) wat die verandering van ’n nederige (tapeinosis) liggaam na ‘n verheerlikte (doxa) liggaam, dws soos Christus s’n, beskryf.[3] Dit beteken dat die perspektief wat Paulus in Fil 2:9-11 op Christus se verheerliking geskets het, ook iets is waarin gelowiges sal deel. Dit is dus ook hierdie verwagting wat ons motiveer om selfontledigend te lewe (Fil. 2:6-8), en nie van stryk gebring te word deur die uitdagings van valse leringe (tradisionaliste) of lewenswyses (vrysinniges) nie, want anders sal ons tereg ook as vyande van die kruis bestempel kan word.

Boodskap en betekenis

Paulus leer ons hier dat die diepste sekerheid en ware geestelike volwassenheid daarin lê om Christus Jesus te ken en deur Hom geken te word. Hierdie verhouding met Christus oortref alle ander bronne van status, sekerheid en voordeel – of dit nou Joodse tradisies is (soos die besnydenis wat deur die tradisionaliste beklemtoon is) of wêreldse selfgerigtheid (wat deur die vrysinniges beklemtoon is). Die kern is om nie op uiterlike dinge te vertrou nie, maar op die geregtigheid en nuwe lewe wat God deur Christus gee.

[1] Paulus gebruik twee woorde vir besnydenis in vers 2 en 3. In vers 2 gebruik hy die woord katatome wat verminking beteken, waarmee hy die Joodse gelowiges se klem op besnydenis ironiseer. In vers 3 gebruik hy die normale woord vir besnydenis – peritome – waarmee hy die hartsverandering bedoel wat Christus bring in die lewe van gelowiges. Vgl. ook Rom. 2:28-29 en Kol. 3:11 wat dit verder teologies begrond.

[2] Dit is die enigste plek in die NT waar die woord gebruik word, moontlik ’n nuwe skepping van Paulus.

[3] Die woord wat Paulus in sy brief aan Korinte gebruik om die opstanding (egeiro) van gelowiges te verduidelik, is ’n ander woord vir transformasie – allassô (1 Kor. 15:51-51) – waarmee hy die proses verduidelik hoe ’n onverganklike geestelike (pneumatikos) liggaam as’t ware aangetrek (enduô) word, om die verganklike natuurlike (psuchikos) liggaam te vervang of te verplaas.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.