Skip to main content

2 Samuel 2

Daar was ‘n langdurige oorlog tussen die nageslag van Saul en Dawid

Dawid begin sy opmars na die troon deur na Hebron in Juda te trek as aanvanklike sentrum vir sy koningskap. Let op dat hy dit doen in opdrag van die Here. Hy reik uit na van die Benjaminiete in Gilead, maar word deur die hoof van die leër, Abner, neef van Saul, gekortwiek. Abner maak Is-Boset, die oorlewende seun van Saul, op eie inisiatief koning oor die res van Israel. Dit lei tot die uitbreek van ‘n burgeroorlog tussen Juda en die res van Israel, veral die stam Benjamin. Gelukkig besef die twee leiers aan weerskante, Abner en Joab, dat dié oorlog net bitterheid gaan bring, en besluit om die oorlog te staak. Dit raak egter duidelik dat daar ‘n langdurige oorlog tussen die nageslag van Saul en Dawid sou heers.

Teks en konteks

Ons sien weereens dat Dawid niks doen sonder dat hy die Here raadpleeg nie. Hy is ook baie spesifiek in sy vrae: 1) moet ek na Juda gaan, en nadat die Here positief gereageer het, 2) na watter stad in Juda moet ek gaan, waarop die Here Hebron antwoord. Dit bly die sleutel kenmerk van Dawid wat hom onderskei van Saul.

 

Hebron word die sentrum vir Dawid, sy familie en sy gevolg waar die manne van Juda hom as koning van die huis van Juda kom salf het. Hebron is natuurlik ‘n baie betekenisvolle plek. Dit is waar Abraham en Sara begrawe is (Gen 23, 25), die enigste deel van die beloofde land waar Abraham ooit ’n deel van die land by Magpela besit het. Dit is nou die plek waar die koningskap van Dawid sy aanvang neem. Dit laat ‘n mens dink aan die belofte aan Abraham en Sara: “en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom” (Gen 17:16).

Dawid ontvang die nuus van die manne van Jabes wat Saul begrawe het en eer hulle met ’n boodskap van meelewing waarin hy heel subtiel ook sy salwing as koning oor die huis van Juda vermeld. Abner is egter nie links nie, en salf in reaksie Saul se seun Is-Boset as koning oor die hele Israel  en maak hulle sentrum by ’n ander betekenisvolle plek Maganajim.

Dit is waar Jakob die nag vóór hy teruggekeer het na die beloofde land ’n ontmoeting met die Here self gehad het (Gen 32). Die naam Maganajim beteken: “twee kampe” wat waarskynlik verwys na die werklikheid van God se betrokkenheid by sy mense. Hulle vorm as’t ware: “twee kampe”, in die stryd vir die vestiging van God se koninkryk op aarde – God se kamp van engele, en Jakob se kamp van mense en diere.

Abner wil dus Dawid se kroning troef met die ou tradisies wat met Maganajim verbind is en die boodskap aan die res van Israel gee, Dawid inkluis, dat Is-Boset nou God se keuse as koning is. Net die huis van Juda het dus hulleself vir die eerste sewe jaar en ses maande van Dawid se regering aan Dawid verbind in Hebron.

Dit lei egter tot ‘n burgeroorlog toe die volgelinge van Is-Boset en die volgelinge van Dawid by ‘n dam in Gibeon slaags raak. Toe die verteenwoordigende geveg tussen twaalf man van elke kant misluk om ‘n wenner te produseer – al vier en twintig is die geveg dood – het ‘n grootskaalse geveg uitgebreek wat uiteindelik tot ‘n oorwinning vir die volgelinge van Dawid gelei het.

Eers met Asael se dood aan die hand van Abner het hulle besef dat hierdie oorlog uiteindelik net bitterheid sal bring. Op Abner se versoek het Joab ingestem om hulle agtervolging van die volgelinge van Is-Boset te staak.

Boodskap en betekenis

Die verhaal onderstreep net weer hoe ernstig die konflik tussen Saul en Dawid was. En hoe dit alle mense in Israel en Juda geraak het. Dawid word egter, anders as Saul en sy nageslag, deurgaans geteken as beginselvas: hy slaan nie sy hand aan Saul en sy nageslag se lewens nie. Hy is ook barmhartig: hy betoon simpatie met die familie van Saul.

Hierdie eienskappe van Dawid oortuig aanvanklik wel nie vir Abner met die hewige burgeroorlog wat uitgebreek het tussen Israel en Juda nie. Maar, dit lê wel die saadjie vir die uiteindelike keuse wat Abner maak om Dawid as koning bó Is-Boset te verkies toe dié hom aanspreek omdat Abner sy posisie in Saul se huis probeer verstewig het.

Die konflik met Saul se nageslag sou egter regdeur Dawid se lewe ‘n rol speel en van tyd tot tyd na die oppervlak kom. Die Here het egter telkens sy keuse van Dawid bevestig, want dit was immers uit Dawid se nageslag wat die Messias gebore sou word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda