Skip to main content

1 Korintiërs 12:1-31a

Verskeidenheid dien die eenheid

Hoofstuk 12-14 handel oor die wyse waarop die gawes van die Gees in die gemeente moet funksioneer, waarskynlik in reaksie op een van die vrae wat die gemeente aan Paulus gevra het. Daarom fokus Paulus in hoofstuk 12 eers op drie inleidende perspektiewe oor die gawes om ‘n raamwerk te gee vir die funksionering van die gawes in die gemeente.

  • Die gawes moet die belydenis dat Jesus die Here is, bevestig (1 Kor. 12:1-3).
  • Die verskeidenheid gawes moet tot voordeel van ander aangewend word (1 Kor. 12:4-11).
  • Die verskeidenheid gawes moet met integriteit binne die geloofsgemeenskap soos in ‘n liggaam aangewend word (1 Kor. 12:12-31).

Vervolgens sal hy in hoofstuk 13 uitbrei oor die liefde as die sentrale fokus van alle gelowiges, ongeag hulle gawes. Waarna hy in hoofstuk 14 terugkeer na die funksionering van die gawes en uitbrei oor die verstaanbaarheid en opbouende karakter van die gawes (1 Kor. 14:1-25) en die ordelikheid waarmee dit in die gemeenskap van gelowiges gebruik moet word (1 Kor. 14:26-40).

Teks en konteks

Die gawes moet die belydenis dat Jesus die Here is, bevestig – 1 Korintiërs 12:1-3

Paulus help hulle eerstens om nie maar net enige gawe te erken nie, maar slegs dié wat van die Gees van God afkomstig is, en nie van die “stom” afgode nie. Die wyse waarop ‘n mens dit kan onderskei is dat almal wat “deur die Gees van God” praat, die belydenis dat Jesus die Here is, sal bevestig. Mense wat Jesus vervloek, praat nie deur die Gees nie.

Die verskeidenheid gawes moet tot voordeel van ander aangewend word – 1 Korintiërs 12:4-11

Tweedens gebruik hy die tekening van God as Drie-enig. Let op die drie woorde vir God in vers 4-6 wat met drie beskrywings van die gawes gekoppel word:

  1. Daar is ‘n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;
  2. en daar is ‘n verskeidenheid dienste, maar dit is dieselfde Here;
  3. en daar is ‘n verskeidenheid aktiwiteite, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in almal bewerk.

Aan die een kant beklemtoon Paulus die ryke verskeidenheid van gawes wat van die persoon-ryke God kom, maar aan die ander kant ook die inherente eenheid van die gawes, omdat dié God een wese is.

Die onderskeie gawes kom van een Gees. Dit is deel van sy “openbaring” aan ons, gekoppel aan sy soewereine wil, en daarom bedoel om tot die voordeel van almal in die een liggaam gebruik te word:

  1. ‘n Woord van wysheid – om God se wil in komplekse situasies toe te kan pas
  2. ‘n Woord van kennis – om God se wil te kan verstaan en insig te bring
  3. Geloof – om God te kan vertrou in situasies waar ander twyfel
  4. Gawes van genesings – om God te kan vertrou vir genesings (die oorspronklike gebruik die meervoud wat op verskillende tipes genesing dui)
  5. Dinamiese kragte – om God te kan vertrou vir kragtige werkinge of wonderwerke
  6. Die gawe van profesie – om God se boodskap te kan kommunikeer vir opbou, bemoediging en vertroos (vgl. 1 Kor. 14:3)
  7. Die onderskeiding van geeste – om God se wil van menslike of bose motiewe te kan onderskei
  8. Verskillende soorte tale – om onbekende tale te kan praat
  9. Die uitleg van tale – om onbekende tale te kan verklaar of vertolk

Daarmee hoop Paulus dat hulle met die vergelyk-speletjie sal ophou, en eerder die verskeidenheid van gawes sal gebruik tot stigting en opbou van die een liggaam van Christus in die gemeente.

Die verskeidenheid gawes moet met integriteit binne die geloofsgemeenskap soos in ‘n liggaam aangewend word – 1 Korintiërs 12:12-31

Derdens brei hy uit oor die samehang van die gelowiges met hulle gawes in die een liggaam van Christus, die gemeente, so dat daar nie verdeeldheid sal wees nie. Hy gebruik die beeld van ’n regte liggaam om die noodsaaklikheid van verskille (voet, hand, oor, oog) binne die groter organiese eenheid van die gemeente te demonstreer, maar ook die noodsaaklike en integrale eenheid te beklemtoon. ’n Liggaam kan nie voortbestaan as dit verskeurd is nie.

As daar eenheid is, ongeag ook hulle status voor hulle tot geloof gekom het (Jood-Griek; slaaf-vry), kan die liggaam se lede met integriteit gelyke sorg dra vir mekaar en aan mekaar eerbied betoon, ongeag hulle relatiewe waarde binne die geloofsgemeenskap.

Paulus gee weer ‘n soortgelyke lysie van gawes om die wyse waarop dit werk te kan verduidelik, hierdie keer in ‘n rangorde gerangskik. Die eerste drie het veral met die bediening van die Woord te make waar die persoon self eintlik ‘n gawe aan die gemeente is, soos Paulus later in sy brief aan die Efesiërs 4 sal aantoon:

  1. Apostels – persone wat as pioniers ‘n nuwe grondgebied vir die evangelie betree, gemeentes plant, en geloofsgemeenskappe vestig en met groot gesag leer en lewe beïnvloed
  2. Profete – persone wat God se wil vir die hede verklaar, toepas, en mense tot gehoorsaamheid begelei, ook met die oog op die toekoms
  3. Leraars – persone wat God se Woord uitlê in geloofsgemeenskappe en hulle begelei om dit prakties toe te pas en te kommunikeer in hierdie wêreld
  4. Kragtige vermoëns – om God te kan vertrou vir kragtige werkinge of wonderwerke
  5. Gawes van genesing – om God te kan vertrou vir genesings (meervoud)
  6. Vermoëns om te kan help – om diensbaar en barmhartig ander prakties te ondersteun
  7. Vermoëns om te lei – die Griekse woord is kubernesis wat beteken om mense te bestuur of begelei
  8. Verskillende soorte tale – om onbekende tale te kan praat (of te verklaar of vertolk, soos hy in vers 30 byvoeg)

Die uitbreidings in hierdie lysie gawes beteken dat daar nie ’n vaste aantal gawes was nie, maar dat hierdie gawes slegs as voorbeelde genoem word.

Paulus beklemtoon dan dat nie almal al die gawes het nie (bv. verskillende tale is nie vir almal gegee nie), en dat daar beter gawes is as ander (profesie is bv. beter as die gawe van tale, soos hy in hoofstuk 14 verder sal verduidelik), maar dat alles ondergeskik is aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is, waaroor hoofstuk 13 handel.

Boodskap en betekenis

Om op te som, Paulus help die gemeente hier om te verstaan dat die gawes van die Gees nie gegee is vir individuele eer of status nie, maar om die gemeenskap van gelowiges op te bou en te dien. Al is daar ’n groot verskeidenheid van gawes, kom dit almal van dieselfde God – Vader, Seun en Heilige Gees – en is die doel van die gawes om Christus as Here te verheerlik. Die gemeente is soos ’n liggaam waarin elke lid, ongeag status of funksie, onmisbaar en gewaardeerd is. Deur die verskeidenheid van gawes binne die eenheid van die liggaam, moet gelowiges met integriteit, sorg en wedersydse eerbied mekaar bedien in gehoorsaamheid aan die Gees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar