Skip to main content

Efesiërs 4:1-16

Om saam in alle opsigte te groei na Christus toe

Paulus begin hierdie hoofstuk met ‘n frase wat baie herinner aan Filippense 1:27: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.”  In Filippense praat Paulus van ‘n ooreenstemming met die evangelie van Jesus Christus, hier van ‘n ooreenstemming met die roeping wat hulle van God ontvang het.  Die roeping het dus te make met die wyse waarop die evangelie in die wêreld tot sy reg kom.

Teks en konteks

Paulus spel dié lewenswandel waarnatoe hulle geroep is uit in 5 aspekte:  beskeie,

vriendelik, geduldig, verdraagsaam en die handhawing van eenheid.  Dit is die dinge waarop gefokus moet word in die proses om aan God gehoorsaam te wees.

Let op dat die eenheid vir Paulus belangriker is as die ander aspekte, en dat hy in vers 4-6 die motivering vir eenheid gee deur 7 manifestasies van die eenheid te beskrywe: daar is één liggaam, Gees, hoop, Here, geloof, doop, God en Vader.  Daarmee gee hy ‘n Trinitariese (Gees, Here [Jesus], God [Vader]) sowel as ‘n gemeentelike begronding van eenheid (liggaam, hoop, geloof, doop).  God is een wese, al is Hy drie persone.  En die geloofsgemeenskap is een, al is hulle verskillende mense en het hulle verskillende rolle.

Paulus motiveer God se genadegawes met die Messiaanse interpretasie van Psalm 68:19.  Dié Psalm praat van God as die oorwinnaar wat na Sion toe terugkeer en geskenke ontvang van dié wat verslaan is.  Paulus praat van Christus wat neergedaal het uit die hemel na die aarde en die magte verslaan het.  As verhoogde en verheerlikte Here vul Hy alles met sy teenwoordigheid en gee aan alle gelowiges genadegawes.

En let op dat die genadegawes aan almal gegee is, omdat alle gelowiges één is.  Sommige gelowiges is selfs gawes – die begin van ons ampsbeskouing – in terme van hulle rolle: apostels, profete, evangeliste, herders en leraars.  Die eerste 3 kategorieë van gawes was mense wat baie keer gereis het om die evangelie te bring (hoewel sommige evangeliste hulleself ook gevestig het [Hand. 21:8]), en die laaste 2 was baie keer meer gevestig in ‘n spesifieke werkkring.

Maar, hulle almal het net een doel, en dit is om die liggaam van gelowiges toe te rus vir die gebruik van hulle gawes, sodat die kerk in sy doel kan slaag, om in alle opsigte te groei na Christus toe.  Soos elkeen sy funksie vervul, bou die liggaam homself op deur in liefde by die waarheid te bly.

Boodskap en betekenis

Paulus roep gelowiges op om te leef in ooreenstemming met die roeping wat hulle van God ontvang het sodat almal saam in alle opsigte na Christus toe opgroei, die Hoof van sy liggaam. Die kerk leef sy roeping uit wanneer elke lid, toegerus deur God se gawes, saamwerk in liefde en waarheid om geestelik te groei tot volwasse eenheid in Christus.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar