Skip to main content

Jeremia 11:18-12:17

Jeremia kla oor samesweerders en goddeloses

Wat nou al baie duidelik moet wees vir elke leser van hierdie intense boek van Jeremia, is hoe ’n mens Jeremia al hoe beter “as mens” leer ken. Daar is ’n oorvloed van beskrywings van sy emosies, sy gesprekke, sy gebede en later in die boek, ook sy interaksie met die leiers en ook gewone mense van Juda.

In hoofstuk 11 en 12 het ons nou die eerste twee van die sewe sogenaamde “Konfessies” van Jeremia wat ons ’n besondere kykie in sy binnewêreld gee, waarin hy sy wroeging oor en tog onwrikbare verbintenis aan sy roeping roerend met ons deel. Terloops sommige voeg hierdie twee gedeeltes saam, maar die feit dat die Here telkens hier antwoord, het my oortuig om dit apart te hanteer.

In die eerste “Konfessie” oor Samesweerders:

  • vra Jeremia dat die Here wraak sal neem teen dié wat teen hom saamsweer – Jer. 11:18-20,
  • waarop die Here hom antwoord met ’n belofte dat Hy ’n ramp oor hulle sal bring – Jer. 11:21-23.

In die tweede “Konfessie” oor Goddeloses:

  • kla Jeremia oor die goddeloses se voorspoed – Jer. 12:1-4,
  • waarop die Here hom bemoedig en versterk omdat daar vir hom nog moeiliker tye voorlê – Jer. 12:5-17

Teks en konteks

Jeremia 11:18-20 – Jeremia vra dat die Here wraak sal neem teen dié wat teen hom saamsweer

Jeremia verwoord hier sy skokkende ervaring dat hy amper weerloos was in sy profetiese arbeid teen dié wat teen hom saamgesweer het. Hy het regtig nie geweet wat op hom wag en waarvoor hy as profeet in is nie. Hy het gevoel soos ’n lam wat weggelei word om geslag te word. Daarom vra hy dat die Here daadwerklik sal optree en wraak neem deur hulle te straf.

Jeremia 11:21-23 – Die Here belowe dat Hy ’n ramp oor die samesweerders sal bring

Die Here antwoord Jeremia deur eerstens te erken dat Jeremia se ervaring werklik is. Trouens, die Here weet presies wie dit is. Dit is Jeremia se eie mense uit Anatot wat sy ondergang soek. Die Here belowe ook dat Hy ’n ramp oor die samesweerders sal bring, presies soos Hy in die vorige hoofstuk in terme van die verbond en sy vervloekinge en strawwe uitgespel het.

Jeremia 12:1-4 – Jeremia kla oor die goddeloses se voorspoed

Jeremia gaan vêrder om sy saak voor die Here te stel – nogal punt vir punt. Die rede vir sy vrymoedigheid is God se regverdigheid. In die taal van verskeie van die Psalms (bv. 73) vra hy: “Waarom is die goddelose mense voorspoedig en het die ontrou mense geen sorge nie?” Let op dat die goddelose mense wat Jeremia beskrywe nie op die oog af onverskillig is nie, maar “U is nie in hulle hart nie.” Hulle is gelowige ateïste, by wyse van spreke.

Jeremia vergelyk dan homself met hulle: “U ken my, Here, U sien my en toets my gesindheid teenoor U,” en vra dat die Here aan dié mense sal doen wat hulle aan hom wil doen: “Bring hulle om die lewe soos skape by die slagplek”. Hulle ongehoorsaamheid lei tot ekologiese rampspoed: “Die diere en voëls vergaan oor die boosheid van die inwoners van die land.”

Jeremia 12:5-17 – Die Here bemoedig en versterk Jeremia omdat daar vir hom nog moeiliker tye voorlê

Die antwoord van die Here lyk op die oog af na ’n teregwysing, en in ’n sekere sin is dit wel so. Maar dit hang ook saam met die belofte van die Here by sy roeping dat die Here hom ’n vestingstad, ’n ysterpilaar, en ’n bronsmuur sal maak sodat hy teen alles en almal staande kan bly (1:18). Die Here voorkom hiermee dus dat Jeremia homself bejammer en die aftog blaas weens die onvermydelike impak van goddeloses binne die gemeenskap van gelowiges.

Dit gaan nog moeiliker gaan, Jeremia,” is waarmee die Here sy klagtes troef. Soldate op perde gaan moeiliker teenstanders as voetsoldate wees, en die digte bos van die Jordaan, by wyse van spreke, ’n moeiliker terrein as dié van ’n land van vrede. Hy waarsku daarby dat hy sy eie familie nie moet vertrou nie, veral nie as hulle vriendelik is nie. Hulle dra nie sy belange op die hart nie.

Die Here waarsku Jeremia dan dat Hy die volk verlaat het, omdat hulle Hom in die steek gelaat het, soos Jeremia se familie dit ook met hom gedoen het. Let op die afskuwelike roofdier metafore waarmee die volk beskryf word: leeus, hiënas, en roofvoëls – diere met kloue, snawels en vreesaanjaende kake. Hulle verskeur almal wat naby kom, in dié geval die Here – dit is die implikasie! Geen wonder dat Hy ’n afkeer aan hulle gekry het nie. Die teks sê letterlik dat Hy hulle begin “haat” het.

Dié manier van optrede boemerang egter op die volk, want die Here laat hulle verslae en verlate in hulle verwoesting. Niemand word met rus gelaat nie. Die gemeenskap en die landskap vergaan.

Tóg gee die Here ’n stuk hoop, al is dit iets wat eers ná die ballingskap verwesenlik kan word. Die Judeërs sal weer teruggebring word na hulle land, omdat God Hom oor hulle sal ontferm, iets wat sewentig jaar later ’n werklikheid geword het. Trouens, as die buurvolke die Here sal begin dien, sal hulle ook ’n plek kry onder die volk, anders sal daar vir hulle geen toekoms wees nie.

Dit wil voorkom asof Jeremia hier na Psalm 87 se visie van die insluiting van die nasies as inboorlinge van Israel verwys.

Boodskap en betekenis

Die klagte van Jeremia oor die samesweerders en goddeloses word ’n venster om dieper as dit die klagte van God self oor sy volk se roofdier karakter raak te sien. Hulle probeer God met hulle kloue bykom. Dat dít boemerang op hulle, gee die Here geen plesier nie. Hy laat die rampspoed hulle tref sonder om daaruit behae te put.

Dat die Here selfs in ’n situasie van só ’n volgehoue vyandige gesindheid van die volk steeds bereid is om oor ’n hoopvolle toekoms te praat en op die koop toe die nasies in te sluit, is verstommend. Aan só ’n God kan ’n mens jouself verbind.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda