Skip to main content

Josua 1

Wees sterk, wees vasberade, veral in die uitvoering van die wetboek

Inleiding

Die boek Josua is die eerste boek van die Vroeë Profete in die Ou Testament. Die ander Vroeë Profete is Rigters, 1-2 Samuel, en 1-2 Konings. Josua is ook die eerste boek in die Bybel wat die naam van die hoofkarakter dra, soos dit later die gebruik met die Skrifprofete geraak het.

Die Vroeë Profete word profeties genoem omdat die doel van die beskrywing van dié verhale van Israel nie in die eerste plek was om ‘n historiese verloop van die Intog en Vestiging in die land te beskryf nie. Die doel van hierdie 6 boeke was om die verhale van die vervulling van God se belofte vanuit ‘n teologiese en Goddelike perspektief te beskrywe.

Die boeke wys hoe die wil van God – soos Hy in die eerste weergawe van die “wetboek”, dws die Pentateug (Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium) aan hulle deurgegee het – in die praktyk gewerk het, sodat dit vir altyd as geestelike onderrig vir die nageslag van die volk kan dien.

In Josua handel hierdie profetiese onderrig oor die inname en verdeling van die land Kanaän, veral uit die hoek van die suksesse wat onder die leiding van Josua behaal is in hulle gehoorsaamheid aan die roeping en begeleiding van die Here self.

Die boek is egter ook helder daaroor dat dié suksesse net behaal is wanneer hulle gehoorsaam was aan die Here (Jerigo). Wanneer hulle ongehoorsaam was aan die Here het hulle nederlae gely (Ai), ‘n werklikheid wat in die res van die Vroeë Profete telkens verder beskryf sal word.

Josua word as outeur beskryf deur die latere tradisie van die Talmoed (200 nC) met aanvullings deur Eleasar, die hoëpriester. ‘n Mens kan egter ook die hand van ‘n redakteur of redakteurs in die boek raaksien. Nie net word die dood van Josua en Eleasar in hoofstuk 24 beskryf nie, maar daar is talle plekke in die boek waar die situasie van die Intog en Vestiging met die frase: “dit is vandag nog so” (Jos 4:9; 5:9; 7:26; 8:29; 9:27; 10:27; 14:14; 15:63), beskryf word.

Wanneer dié “vandag” was, kan ‘n mens natuurlik nie met sekerheid sê nie, maar uit Josua 15:63 blyk dit dat dit waarskynlik vóór die tyd van Dawid was: “Die mense van Juda kon dit nie regkry om die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, te verdryf nie. Hulle woon vandag nog daar saam met die mense van Juda.” Dawid het hulle eers in sy tyd verdryf met die vestiging van Jerusalem as sy hoofstad, sewe jaar ná hy koning geword het (2 Sam 5:6-8; 1 Kron 11:4-6).

Josua is uiteraard die hoofkarakter van die boek. Hy was die seun van Nun, en oorspronklik Hosea (“verlossing”) genoem. Moses het egter sy naam op betekenisvolle wyse verander na Josua (“die Here is verlossing” – Num 13:8,16), die Hebreeuse naam wat Jesus (Grieks vir Josua) ook uiteindelik sou kry!

Uit Numeri 11:28 blyk dat Josua van sy jeug af Moses se dienaar was. Hy was een van die verkenners van Kanaän (Num 13) en saam met Kaleb het hy, anders as die tien ander verspieders, aanbeveel dat hulle die land binnetrek. Hulle was dan ook die enigste twee van die volk wat uiteindelik die land kon intrek by hulle tweede aankoms by die land Kanaän na ongeveer 40 jaar.

Josua is deur die Here aangewys as die opvolger van Moses, en deur Moses aangestel, dmv ’n handoplegging (Num 27:12–23; Deut 3:28; 31:7, 8, 23). Reeds in Numeri 34:17 is hy saam met die priester Eleasar deur die Here benoem om die land te help verdeel. Die leierskap van Josua word dus beklemtoon. Veral dat hy ‘n leier soos Moses was.

Eleasar is die ander hoofkarakter. Interessant is dat sy naam in Grieks Lasarus is. Hy was die derde seun van Aäron (Eks 6:22), en is saam met sy pa en sy drie broers tot priesters gewy (Eks 28:1). Sy twee ouer broers, Nadab en Abihu het gesondig teen die Here en is deur Hom doodgemaak (Lev 10:1–7). Daarom is Eleasar aangewys om sy pa as hoëpriester op te volg (Num 20:25–28). Hy help veral vir Josua met die verdeling van die land Kanaän onder die 12 stamme (Jos 14:1; 17:4; 19:51; 21:1).

Teks en konteks

Dit is meteens, reg aan die begin van die boek, duidelik dat die Here ‘n uiters geslaagde leierskapsverandering te weeg gebring het. Hy bemoedig Josua met die opdrag om sterk te wees en vasberade  (Jos 1:1-9). Josua huiwer ook nie soos Moses met sy aanvanklike roeping nie. Hy tree dadelik op. Hy begin met die beamptes van die volk en gebruik hulle om die volk op te kommandeer om reg te maak om deur die Jordaan te trek om die land in besit te neem. Hulle bemoedig hom ook met die woorde om sterk te wees en vasberade (Jos 1:10-17).

Josua 1:1-9 – Wees sterk, wees vasberade

Die Here kommandeer Josua op ná Moses se dood en beveel hom om gereed te maak en deur die Jordaan die land Kanaän binne te trek, hy en die hele volk. Die belofte van die land gaan nou in vervulling gaan deur hulle gehoorsaamheid aan God se opdrag.

Die Here gee Josua twee bykomende beloftes, die beloftes van oorwinning en God se teenwoordigheid: “Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie.” En: “Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie.

Josua kan die uitdaging van die Intog aanpak in volle versekering dat God met hom sal wees. En hierdie belofte word uitgebrei dat dit die roeping wat God vir hom het, insluit. “Jy moet hierdie volk die land in besit laat neem – Wees daarom sterk, want Ek is by jou.”

Die Here beklemtoon daarmee die werklikheid van die belofte. Hy het die land aan hulle gegee, soos Hy aan Abraham (Gen 12:1-7) en Moses (Deut 4:1-5) belowe het. Trouens, ‘n mens kan “dit gee Ek aan julle” as verlede tyd vertaal “dit het Ek aan julle gegee”.

Maar dit bly steeds ook iets wat hulle in besit moet neem. Dit is “elke plek waarop julle voetsool trap” wat aan hulle gegee is en word.

Dié beloftes sal dus vir Josua, en die volk, in vervulling gaan in hulle gehoorsaamheid aan twee opdragte van die Here.

  1. Die eerste is hulle gehoorsaamheid aan elke opdrag van God wat vier keer herhaal word: “Wees sterk, wees vasberade.” – vers 6,7,9,18. Hulle moet doen wat Hy vra.
  2. Die tweede is hulle gehoorsaamheid aan elke woord van God: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie.” Hulle moet luister na wat Hy sê.

Josua moet die wet dus prakties uitvoer in sy lewe. En hoe moet hy dit doen?

  1. Josua moet dit die rigsnoer maak vir alles wat hy sê. Sy woorde moet daardeur bepaal word.
  2. Hy moet dit dag en nag oordink. Die Hebreeuse woord wat hier met “oordink” vertaal word, beteken eintlik “prewel” soos ons dit in Psalm 1 ook aantref. Sy gedagtes moet dus vol word van die woorde van God.
  3. Hy moet sorg dat hy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Sy dade moet dit ten uitvoer bring. Die Woord moet prakties word in sy lewe.

Kortom, sy hele lewe moet deur die geskrewe Woord van God begelei word.

Dit is die resep vir oorwinning. Waar die wetboek ‘n rigsnoer word vir alles wat hulle sê en doen, sal hulle slaag met die groot onderneming waartoe die Here hulle roep.

Die Here se aanmoediging van Josua (vgl ook Jos 10:25) word regdeur die OT gevind (Deut 31:6-7; 2 Sam 10:12; 1 Kron 22:13; 28:20; 2 Kron 32:7; Ps 27:14; 31:24), ook in die NT: “Wees manmoedig, wees sterk.” (1 Kor 16:13; 2 Tim 2:1).

Josua 1:10-18 – Wees u net sterk en vasberade!

Josua sorg ook dat almal inkoop deur baie spesifiek die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam te herinner aan hulle belofte om eers die res van Israel te help om hulle grondgebied in besit te neem, voor hulle terugtrek na hulle eie gebied. Josua laat hulle ook heel voor trek!

Saam met die res van die volk skaar hulle hulle agter Josua om alles te doen wat hy hulle beveel, en daarmee hulle gehoorsaamheid aan die Here te bewys. Let op hoe hulle op hulle beurt vir Josua bemoedig: “Wees u net sterk en vasberade.

Boodskap en betekenis

Josua 1 is ‘n baie belangrike draaipunt in die kommunikasie van God met mense. Josua hoef nie meer te wag vir drome nie. God se wil was alreeds duidelik, beide in terme van beloftes sowel as in die bevryding uit Egipte en die begeleiding deur die woestyn. Josua moes net uitvoer wat God sê. Hy moes aan die beloftes van God vashou en daarvolgens optree. Daarvoor het hy die Woord nodig gehad, en baie moed!

God se Woord raak dus toenemend sy belangrikste kommunikasie met sy mense. Voor Josua het God op baie maniere met mense gepraat. Met Josua kom daar ‘n verskuiwing. Ons tref Josua vir die eerste keer aan in Eksodus 17:8-16 in die geveg teen die Amalekiete. Moses kies vir Josua om ’n weermag saam te stel om die bedreiging van die Amalekiete af te weer. Maar dan is daar hierdie wonderlike ding wat in vers 14 gesê word: “die Here het vir Moses gesê: ‘Skryf hierdie woorde op in ’n boek as ’n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg”! Daardie geskrif was dus die begin van wat die Bybel as die woorde van Moses aan ons bekendstel – en dit word hier baie spesifiek en in die eerste plek deur die Here aan Josua gerig. En daarmee is die patroon vir Josua vasgestel, waarop Josua 1 voortborduur. God praat op baie maniere – selfs met Josua – maar die manier wat God begin verkies, is om deur die geskrewe Woord te praat.

Hier in Josua 1 tref ons Josua dus uiteindelik aan as die leier van die volk, wat deur Moses aangestel is as sy opvolger (Deut 31) en wat die volk suksesvol in Kanaän inlei. Maar dit wat ons reeds aan die begin van sy leierskap sien, dat God met geskrewe woorde met hom praat, dít maak die Here nou die fokus van sy hele lewe – soos God dit vandag nog met ons doen – deur die geskrewe Woord.

Weliswaar gebeur daar ook nog wonders in sy lewe. In Jos 5:13 vertel die skrywer ons dat Josua ‘n engel, die leërowerste van die Here, sien, net voor hy Jerigo inval, maar die primêre manier waarop God met hom praat, bly die geskrewe woorde van God.

Josua kry ook die voorreg om self later by te dra tot die Bybel. Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan (Jos 24:26). En so is daar Samuel na hom, en Dawid en die profete en later die NT skrywers, wat almal God se gesproke woorde en hulle nadenke daaroor op skrif gestel het, sodat ons vandag die geskrewe Woord van God in ons hand kan vashou.

Hierdie wetboek raak dus die boek wat Josua sy eie maak (Jos 1:7). In sy tyd het daar ook nog die Boek van die Opregte bygekom (Jos 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl ook 2 Sam 1:18 wat vertel dat ‘n lied van Dawid daarin opgeteken is) en ook gebruik is as bron vir die boek Josua.

Ons sien dus hier by Josua die begin van ‘n kern-kanon (kanon beteken “maatstaf“), die begin van die Bybel soos ons dit ken. Later sou Samuel ook regsvoorskrifte – veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede – byvoeg (1 Sam 10:25) en dit saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar