Skip to main content

Hebreërs 2-3:11

Jesus is die Leidsman van ons verlossing en die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis

Die skrywer vervolg met sy openbaring van Jesus en fokus hulle aandag op sy alles oortreffende rol in hulle verlossing en belydenis met die volgende twee boodskappe:

  • Hebreërs 2:1-18 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing – opgebou rondom ’n uitleg van Psalm 8.
  • Hebreërs 3:1-11 – Jesus is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis en daarom belangriker as Moses – opgebou rondom ’n uitleg van Psalm 95.

Teks en konteks

Jesus is die Leidsman van ons verlossing – Hebreërs 2:1-18

Die toekoms van die mensdom is in die hande van Jesus Christus.  Dít is waarom die skrywer soveel klem daarop lê om die gemeente aan te moedig om in ’n verhouding met Hom te kom en te bly.  En die verhouding is veral moontlik deur gefokusde aandag te gee “aan dit wat ons gehoor het,” die oorgelewerde boodskap van die Here Jesus Christus.  Dán voorkom die gemeente dat sommige nie dalk wegdryf van Hom nie.

Die les is in die verlede reeds deur die volk van die eerste verbond geleer dat die boodskap “wat deur engele verkondig is,” inderdaad bindend was.  Hiermee verwys die skrywer na die tradisie dat Moses die wet deur die middelaarskap van engele ontvang het, soos Lukas en Paulus onder andere daaroor geskryf het (Hand. 7:38,53; Gal. 3:19).   Met die verbreking van die verbond het die oordele daarvan in werking getree.  Só is die boodskap van Christus ook in die nuwe verbond bindend.  Die gemeente sal net tot hulle eie skade dié “groot verlossing verontagsaam.”

Die rede daarvoor is dat die Here Jesus self hierdie verlossing verkondig het tydens sy aardse bediening, en dat dit “daarna aan ons bevestig (is) deur hulle wat dit gehoor het.”  Daarvan kan die skrywer en die gemeente getuig.  Daarbenewens was daar “tekens en wonders en allerhande kragtige dade en deur gawes van die Heilige Gees” wat bevestig het dat die verlossing van God afkomstig was.

Hier verwys die skrywer na die Pinkster gebeure en die werkende gawes van die Gees in die gemeente.  Maar let op dat dié tekens net ’n begeleidende en bevestigende rol het om mense aan die verlossing en belydenis van Jesus Christus as Leidsman bekend te stel.  Die tekens en gawes word nooit ’n fokus op sigself nie.  Dit wys altyd heen na die werklikheid van ’n verhouding met Jesus.

Jesus is daarom die Leidsman van hulle verlossing, want die toekoms van die mensdom is aan Hom verbind.  En die skrywer bewys dit met ’n uitleg van Psalm 8 wat hy op Jesus van toepassing maak.  God het immers nie die wêreld wat kom aan engele onderwerp nie. Sy plan was volgens Psalm 8 eintlik nog altyd dat die mens die kroon van sy skepping sal wees, en dat alles aan hulle onderworpe sou wees.

Dit is egter iets wat nog nie ’n werklikheid geword het nie, behalwe dat ons iets daarvan kan raaksien in Jesus, die een wat met heerlikheid en eer gekroon is.  Hy is vir ’n kort rukkie “minder as die engele gemaak,” sodat Hy sy verlossingswerk kon afhandel en ter wille van almal die dood kon ervaar.

Dit is die weg van verlossing wat God in sy wysheid gekies het, om die Leidsman van hulle verlossing “deur lyding tot volmaaktheid” te bring. Dit het ’n eenheid tussen die Leidsman en sy volgelinge gebring wat hulle nie net heilig maak nie, maar familie maak!

Drie verdere aanhalings uit die OT word dan in die mond van Jesus geplaas wat:

  1. Sy blydskap uitdruk oor sy teenwoordigheid in hulle geloofsgemeenskap: “Ek sal u Naam aan my broers verkondig; in die byeenkoms sal Ek u lof besing!” – Ps. 22:23;
  2. Sy vertroue in God uitspel: “Ek sal my vertroue steeds in Hom stel.” – Jes. 8:17; 12:2);
  3. Sy vreugde uitdruk dat hulle saam aan God kan behoort: “Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het!” – Jes. 8:18.

Met Jesus se vereenselwiging en solidariteit met dié wat Hy verlos, het Hy deur sy dood die duiwel se mag oor gelowiges – deur die dood – gebreek.  Dit bewys dat God nie oor die engele besorg was nie, maar oor die mense wat Abraham se nageslag is, die gelowiges.

Daardeur het Jesus, die Seun van God, nie net die Leidsman van die gelowiges geword om hulle te verlos nie, maar ook die barmhartige en getroue Hoëpriester wat volkome vir hulle sondes versoening kon doen, en hulle kan help wanneer hulle in versoeking kom om van Hom af weg te dwaal.

Jesus is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis en daarom belangriker as Moses – Hebreërs 3:1-11

Hierdie Jesus moet dus die fokus wees van die gemeente in alles wat hulle doen.  Hy is nie net belangriker as die engele nie, maar ook belangriker as die een waardeur hulle die wet gekry het, Moses.

Jesus word as die inhoud van hulle belydenis – onthou Hebr. 2:1: “aan dit wat ons gehoor het” – uitgespel.  Hy is die Apostel en Hoëpriester daarvan, die een wat hulle wys hoe om hulle eie roeping na te kom, en die een wat verantwoordelikheid neem om getrou te bly, net soos Moses dit aanvanklik in die eerste verbond gedoen het.  Jesus sal getrou bly aan God en aan “sy huis” – d.i. die gelowiges – dié wat “bly vashou aan die hoop waarop ons roem.”

Dit is iets wat hulle nie net van die menslike getuies wat die boodskap aanvanklik gebring het, gehoor het nie, maar iets waarvan die Heilige Gees elke dag getuig.  Die skrywer bou hierdie deel van sy boodskap rondom ’n uitleg van die gebeure in die woestyn soos Psalm 95 terugverwys na die Here se uitspraak in Numeri 14:21-23.

Numeri 13-14 vertel die verhaal van die twaalf verkenners wat ’n meerderheids- en ’n minderheidsverslag uitgebring het oor die beplande Intog in Kanaän in.  Tien verkenners het die volk aangeraai om nié die land van Kanaän binne te trek nie.  Twee, Josua en Kaleb, het gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” (Num. 13:30). Omdat die volk na die tien geluister het, het die Here gesweer dat hulle nooit die land weer sal sien nie, net dié wat bereid was om Hom daarheen te volg.

Die skrywer aan die Hebreërs waarsku dus die gemeente dat hulle moet volhou op die pad wat hulle ingeslaan het: ”Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard soos met die opstand in die tyd van versoeking in die woestyn.” Anders sal hulle, soos hulle voorvaders met die land Kanaän ervaar het, nie die rus van die tuiskoms in die nuwe bedeling wat God besig is om deur Jesus voor te berei vir die mensdom beleef nie.

Boodskap en betekenis

Ons het dié boodskap regtig nodig.  Die toekoms van die mensdom is in die hande van Jesus Christus.   Dit is ons belydenis en dit is ons hoop.  Ons kan iets daarvan ervaar in die gemeenskap van gelowiges.  Jesus is immers daar waar ons Hom aanbid: “Ek sal u Naam aan my broers verkondig; in die byeenkoms sal Ek u lof besing!” Dit is waarom ons nie die byeenkoms van gelowiges sommer lukraak kan verontagsaam nie.

Ons het ook nodig om die begeleidende en bevestigende rol van die tekens en gawes wat God gee raak te sien.  Die tekens en gawes kan nooit ’n fokus op sigself word nie.  Dit moet altyd heenwys na die werklikheid van ’n verhouding met Jesus.

En dié Jesus se belofte aan ons is dat Hy ons in die rus van God sal uitbring.  Daarop kan ons staatmaak.  Daarop kan ons vertrou.  Hy roep ons daarheen.  Daarom: ”Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard …”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.