Skip to main content

Levitikus 27

Buitengewone geloftes en normale tiendes

Teks en konteks

Levitikus 27 vul die Heiligheid Gedragskode aan met ‘n uitgebreide bydrae oor geloftes – Lev. 27:1-29 – en ‘n kort bydrae oor die gee van tiendes – Lev. 27:30-34 – wat hulle verpligtinge in buitengewone omstandighede (geloftes – voorwaardelik of onvoorwaardelik) sowel as in die normale gang van die lewe (tiendes) gereël het.  Daar was in baie gevalle die moontlikheid van ‘n los- of terugkoop van iets wat as ‘n gelofte of ‘n tiende belowe of gegee is.  Die hoofstuk word afgesluit met ‘n finale opmerking dat dit saam met al die vorige voorskrifte van die boek Levitikus die gebooie is wat die Here deur Moses by die Sinaiberg vir die Israeliete gegee het.

Geloftes in buitengewone omstandighede – Lev. 27:1-29

Let op dat geloftes in besondere of buitengewone omstandighede gemaak is. So staan dit in vers 1 in die Hebreeus: ’n besondere of buitengewone gelofte.”

  • In die geval van mense wat aan die Here in ‘n gelofte gewy is (bv. Simson en Samuel) kon hulle op die voorgeskrewe manier losgekoop word. Die ouderdom en geslag van die persoon wat toegewy is word in ag geneem sowel as die vermoë van die persoon wat die gelofte gemaak het.
  • In die geval van ‘n rein dier wat geoffer is, kon die dier nie omgeruil word nie. ‘n Poging daartoe het beteken dat jy die plaasvervanger dier ook moes offer.  In die geval van ‘n onrein dier kon die priester ‘n beslissing vel.
  • In die geval van ‘n huis kon die huis ook losgekoop word volgens die toestand van die gebou. Die een wat die gelofte gemaak het, kon dit terugkoop vir die waarde plus twintig persent.
  • In die geval van grond het die drakrag en nabyheid al dan nie aan die Jubeljaar die loskoopwaarde bepaal. As dit egter nie teruggekoop is in die Jubeljaar nie, het dit deel van die priesters se grond geraak, behalwe in die geval van erfgrond wat weer teruggegaan het na die oorspronklike eienaar.

Eerstelinge het nie getel nie, want hulle het in elk geval aan die Here behoort.  Dieselfde het dinge en persone wat geban is, gegeld.

Voorbeelde van geloftes in die OT en NT

Ons lees by een van die voorvaders, Jakob, van ‘n gelofte wat afgelê is vir beskerming, hoewel daar uiteraard nog geen voorskrifte was vir hoe dit nagekom is nie.  Ons lees wel daarvan dat dit die Here se goedkeuring weggedra het (Gen. 28:20; 31:13).

Die nakom van geloftes vir vroue het van hierdie voorskrifte verskil deurdat ‘n pa ‘n vetoreg ten opsigte van ‘n gelofte van sy ongetroude dogter gehad het.  Dieselfde het gegeld vir ‘n man ten opsigte van sy vrou.  As die mans nie saamgestem het met die gelofte nie kon hulle dit ongeldig verklaar, behalwe as hulle nie betyds opgetree het nie (Num. 30).  Weduwees en geskeide vroue was hiervan uitgesluit en is aan hulle geloftes gehou.

Moses het later die volk baie spesifiek geleer om nie te talm om geloftes na te kom nie, en eerder geen gelofte te maak as wat hulle in gebreke bly om dit na te kom (Deut. 23:21-23).  Hierby het die Prediker ook aangesluit en gewaarsku teen ligsinnige geloftes wat nie betaal word nie.  Dit kon jou suur bekom (Pred. 5:3).  Maleagi het ook gewaarsku teen ‘n gelofte offer wat van minderwaardige kwaliteit was: “en dan ’n verminkte ding aan die Here offer.” (Mal. 1:14).

Die verhaal van die rigter Jefta wat sy dogter geoffer het weens ‘n gelofte wat hy gemaak het, bly ‘n raaisel vir my, aangesien hierdie loskoop voorskrifte van Levitikus beskikbaar was en hy haar sou kon loskoop. Hy het óf hom nie daaraan gesteur nie, óf net nie daarvan geweet nie.  Voorwaar ‘n tragiese deel van die geskiedenis van Israel (Rigt. 10:6-12:7).

Die verhaal van Hanna is egter ‘n wonderlike voorbeeld van die waarde van geloftes soos Levitikus dit aan die volk voorgehou het.  Sy het die Here vertrou en belowe dat Samuel aan God gewy sal wees.  Die Here het haar gebed verhoor met die geboorte van Samuel, waarna Elkana, haar man, namens hulle albei die voorgeskrewe gelofteoffer gebring het (1 Sam. 1:11-23).

Dieselfde geld koning Lemuel van Massa oor wie sy ma ‘n gelofte gedoen het (Spr. 31:2) om hom te begelei om die regte vrou te trou, wat ‘n neerslag gevind het in die beskrywing van die besondere knap vrou van Spreuke 31.

Nasireërs wat hulle aan die Here toegewy het of ‘n verpligting op hulle geneem het (Num. 30:2), het ook bykomend ‘n gelofte afgelê om geen alkohol te gebruik nie, nie te skeer nie, en nie naby lyke te kom tydens hulle gelofte tydperk nie.  Hierdie gelofte kon ook vir ‘n mens se hele lewe geld, soos in die geval van Simson, ‘n onvoorwaardelike gelofte (Rigt. 13).  Vgl. ook die Rekabiete wat ‘n soortgelyke gelofte afgelê het om geen alkohol te gebruik of huise te bou en gewone boere te word nie.  Hulle het in tente gebly en met hulle vee rondgetrek uit lojaliteit aan hulle voorvader Jonadab (Jer. 35).

Dawid se verbintenis aan die Here om vir Hom ‘n tempel te bou, is ook met ‘n gelofte belowe, hoewel die Here in die geval die gelofte omgekeer het – soos mans dit met hulle dogters of vroue kon doen – en Dawid nie toegelaat het om sy gelofte na te kom nie, aangesien die Here self vir Dawid sou seën met ‘n dinastie van konings uit sy geslag, en Dawid se hande nie rein genoeg was om dié heilige plek te bou nie (2 Sam. 7).  Die gesprek tussen God en Dawid is verewig in ‘n pelgrimslied Psalm 132.

Ons lees twee keer in die NT van die nakom van geloftes hoewel die presiese omstandighede nie uitgespel word nie.  Albei kere is Paulus betrokke, een keer as die een wat die gelofte gemaak het, en ‘n ander keer as iemand wat ‘n gelofte namens ander betaal het.  Dit getuig egter daarvan dat geloftes nog van krag was in die NT bedeling (Hand. 18:18; 21:23).

Tiendes in normale omstandighede – Lev. 27:30-33

‘n Kort opsomming van die gee van tiendes in normale omstandighede word ook gegee met die oog op die voorskrif vir ‘n “terugkoop” wat jy kon doen deur die waarde te betaal plus twintig persent.  Dit het graan, vrugte, beeste en kleinvee gegeld.  Interessant is dat die keuse ewekansig gedoen is sonder om te kyk of bv. ‘n dier nou goed of sleg is.  As jy egter probeer het om ‘n dier om te ruil, het jy albei diere verloor!

Hierdie voorskrif sal nog uitgebrei word in Numeri 18 en Deuteronomium 26 waaruit dit duidelik sal blyk dat die tiendes aan die Leviete en priesters behoort het, omdat hulle deur die Here opdrag gegee is om nie ekonomies aktief te wees nie, maar hulle lewe volledig te wy aan die diens van die heiligdom.  Hulle moes egter op hulle beurt ‘n tiende vir die Here uit die tiendes van die Israeliete gee, waarvan ‘n deel die hoëpriester toegekom het (Num. 18:21-32).  Elke derde jaar se tiendes het ook die vreemdelinge, weeskinders en weduwees gebaat (Deut. 26:12-15).

Boodskap: Geloftes en Tiendes verbind gelowiges aan God se voorsiening en betroubaarheid

Levitikus 27 is ‘n gepaste afsluiting van die boek.  Elke gelofte wat iemand gemaak het, het vertroue in die Here se voorsiening uitgespreek sowel as ‘n verbintenis om Hom te dien, kom wat wil. Wanneer die gelofte sy doel gedien het, is die Here vir sy betroubaarheid geloof met die voorgeskrewe offer.  Dieselfde het die tiendes gegeld.  Elke tiende wat iemand gebring het, het ‘n dankbaarheid vir die Here se voorsiening uitgespreek en as verbintenis gedien om die Here te dien, kom wat wil.

Die feit dat die wet voorsiening gemaak het vir die los- of terugkoop van persone, diere of besittings het wel ‘n genadige omgang daarmee verteenwoordig, maar steeds die verbintenis van die gelofte en die tiende bevestig.  Geloftes maak skuld!  Dieselfde het die tiende gegeld.  Geloftes was vrywillig.  Tiendes was steeds gewillig, maar verpligtend.

Daarom is geloftes nie sommer ligsinnig gemaak nie. Dit kon jou suur bekom.  In sommige gevalle kon dit selfs tragies wees vir ander, soos in die geval van Jefta se dogter.  Die Here het dus geloftes verwelkom, tiendes geëer, maar telkens in sy aanvaarding daarvan gelowiges gewys op die erns van hulle verbintenis aan Hom.  Dat hulle dit vrywillig gemaak het, of gewillig gebring het, het hulle nie kwytgeskeld van die verpligting wat hulle self op hulle geneem het nie.  Die genade van ‘n loskoop voorskrif het nie die uitvoering van die gelofte of die betaling van die tiende gesystap nie.

Die NT maak meer van die tiendes as van geloftes, maar albei het steeds gegeld as maniere om jou verbintenis aan en afhanklikheid van die Here mee uit te druk.  Tiendes speel ‘n belangrike rol in die ekonomie van ‘n gemeente se roeping om hierdie wêreld met die evangelie te bereik.  Geloftes speel ‘n belangrike rol in die verbintenis wat gelowiges maak aan ‘n roeping of taak wat hulle in opdrag van die Here aanvaar.

Geloftes verbind ons aan God se voorsiening en Tiendes vier dit.  Die God wat ons dien, kan vertrou word om ons verbintenis aan Hom te eer en ons sy seën te gee, soos die vorige hoofstuk reeds uitgespel het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda