Skip to main content

2 Konings 24:18-25:7; 2 Kronieke 36:11-21

Sedekia is onversetlik teenoor die Here en die volk gaan in ballingskap

Konings en Kronieke gee ‘n sinopsis van Sedekia se regeringstyd aan die einde van die koninkryk van Juda. Dit oorvleuel uiteraard met van die volgende stukke leeswerk uit Jeremia en Esegiël. Dele daarvan sal dus herhalend wees.

Sedekia – Jehoagas en Jojakim se jonger broer, almal seuns van Josia – en oom van Jojagin (Jojakim se seun, maar omtrent dieselfde ouderdom as Sedekia) word op 21 jarige ouderdom koning, die laaste koning van Juda. Sy naam was eintlik Mattanja (2 Kon. 24:17), maar is deur Nebukadnesar verander na Sedekia om die feit van Juda se onderdanigheid te onderstreep.

Hy regeer 11 jaar tot en met die ballingskap in 586 v.C. toe Nebukadnesar finaal vir Jerusalem en Juda in ballingskap weggevoer het. Volgens die oordeel van Kronieke was Sedekia ’n slegte koning wat nie net gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here sy God nie, maar spesifiek ook nie geluister het na die profeet Jeremia nie, toe dié op bevel van die Here na hom gestuur is nie.

Teks en konteks

Sedekia se gebrek aan berou teenoor die Here (“Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer”) word geëggo in sy verset teen Nebukadnesar, aan wie hy “voor God trou gesweer het”, waarskynlik in die tempel, waarvoor hy die prys betaal om nie net in ballingskap weggevoer te word nie, maar ook die vernedering te moet ondergaan dat sy kinders voor sy oë geslag is, sý oë daarna uitgesteek is en hy in oneer in ballingskap in Babel dood is (2 Kon. 25:6-7; Jer. 52:10-11). ’n Grillerige gru-verhaal!

Die leiers van die priesters en die volk het hom nagevolg en die tempel ontwy met hulle afgodsdiens, die boodskappers van die Here, soos Jeremia, uitgelag, God se woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here onherroeplik oor sy volk losgebreek het. Baie mense het hulle lewens verloor met die laaste veldtog van Nebukadnesar en is saam met die laaste skatte van die tempel na Babel weggevoer. Die pragtige tempel van Salomo is afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles van waarde verwoes.

Boodskap en betekenis

Kronieke wyt dié ontsetting van die ballingskap aan die konsep van ’n sabbatsjaar waarin die land as’t ware kon braak lê om te vergoed vir die ongehoorsaamheid oor die loop van vyf eeue, wat ’n hele sewentig jaar lank sou duur.

Ons sal in Jeremia heelwat meer detail oor Sedekia lees wat die komplekse aard van hulle verhouding en die worstelinge van Sedekia met die regte optrede sal belig, met die tragiese keuse wat Sedekia telkens maak om die woord van die Here tot sy skade te ignoreer.

Hier is ‘n sinopsis:

  • Jeremia 24 – Die bekende gesig van Jeremia oor die twee mandjies vye word kort ná die ballingskap van Jojagin, d.w.s. met die aanvang van Sedekia se regering, ontvang en as ’n oordeelsprofesie téén die regering van Sedekia uitgespel: “Ek sal oorlog, hongersnood en pes onder hulle loslaat totdat hulle uitgeroei is uit die land wat Ek aan hulle en hulle voorvaders gegee het.” Ons lees nie van enige reaksie van koning Sedekia nie.
  • Jeremia 27 – Kort nadat Sedekia koning geword het, het die Here aan Jeremia ’n verdere boodskap aan Sedekia gestuur (ook na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon) om aan Nebukadnesar onderdanigheid te betoon, omdat die Here aan hom die mag gegee het en hulle toekoms in sy hande lê. Ons lees nie van enige reaksie van Sedekia nie.
  • Jeremia 28 – In die 4de regeringsjaar van Sedekia het Gananja, waarskynlik ’n Assiriër uit Gibeon, Jeremia se woorde in die wind geslaan met ’n profesie dat Nebukadnesar binne 2 jaar verslaan sou word. Jeremia het geantwoord dat hy dit ook graag só sou wou hê, maar die ongemaklike waarheid is dat die Here vas besluit het op die ballingskap. In die voortslepende onderonsies tussen dié twee – waarin Gananja onder andere ’n juk op Jeremia se nek as simbool van die stelligheid van sy boodskap, gebreek het, en Jeremia op sy beurt dít met ’n ysterjuk vervang het – is Gananja dood as gevolg van sy misleiding, soos Jeremia inderdaad voorspel het. Weereens lees ons nie van enige reaksie van Sedekia nie.
  • Jeremia 29 – Interessant genoeg is die brief van Jeremia aan die ballinge in Babel gestuur saam met ’n gesant wat in opdrag van Sedekia na Babel toe is, Gemarja. Om die waarheid dit sê, dit kan selfs wees dat Sedekia self saam is Babel toe, soos ons uit Jer. 51:59 aflei. Sedekia sou dus heeltemal bewus gewees het van die inhoud van Jeremia se boodskap aan die ballinge, hoewel hy self nie enige eksplisiete kommentaar gelewer het nie.
  • Jeremia 37:1-10 –Sedekia se regering word in dié deel geteken as een waarin ongehoorsaamheid aan die Here die botoon sal voer: “(Hy) het nie geluister na wat die Here vir hulle gesê het deur die profeet Jeremia nie.” Sedekia wou hê dat Jeremia vir hulle moes bid, maar die Here het hulle geantwoord dat die Galdeërs hulle nie sal los nie, al was daar nou ’n kort tydjie wat die Egiptiese bedreiging die Galdeërs se aandag geverg het en Jerusalem ’n blaaskans geniet het.
  • Jeremia 32-33 en 37:11-21 – Net na die onvergelyklike hoopvolle prentjie wat Jeremia skets van die nuwe bedeling wat God ná die ballingskap sal laat aanbreek (Jer. 30-31), koop Jeremia in dieselfde jaar, dit is die 10de regeringsjaar van Sedekia, ’n stuk grond as bevestiging van sy boodskap dat die ballingskap in die toekoms omgekeer sal word (Jer. 32-33). Dit lei daartoe dat Jeremia opgesluit word deur ’n kleinseun van Gananja (die profeet wat ’n geswore vyand van Jeremia was, maar dood is soos Jeremia voorspel het) in die staatsekretaris Jonatan se huis, wat in ’n tronk verander is (Jer. 37:11-21). In een van die gesprekke met hom in hierdie tyd verkwalik Sedekia vir Jeremia van verraad. Jeremia probeer die koning oortuig van sy goeie bedoelings, sowel as van die hoop wat God vir hulle ná die ballingskap het, maar tevergeefs (32:1-25). In ’n volgende “geheime” gesprek in dié tyd vra Sedekia vir Jeremia om ’n woord van die Here, waarop Jeremia net herhaal wat hy die hele tyd beklemtoon: “Jy sal in die mag van die koning van Babel uitgelewer word.” (Jer. 37:17-21). Jeremia vra ook in dié gesprek om ’n genadiger hantering deur Sedekia, want hy begin vrees dat hy in die tronk van honger sou sterf . Dié staan Jeremia se versoek toe en laat hom aanhou in die binneplaas van die paleiswag en laat vir hom elke dag brood aflewer uit Bakkerstraat (!) totdat die stad se brood op was.
  • Jeremia 21 – Nog ’n verhaal word ons vertel wat ook met die aanvang van die beleg deur Nebukadnesar plaasgevind het, waar Sedekia ’n halfhartige poging aangewend het om die Here via Jeremia te probeer raadpleeg (waarskynlik in 588 v.C.), maar dié het ’n deurpriemende boodskap aan Sedekia gegee dat hulle nederlaag onafwendbaar is en dat hulle eerder met Nebukadnesar moet saamwerk, raad wat Sedekia nie gevolg het nie. Dit was ook in die tyd van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag.
  • Jeremia 34 – Die vorige gesprekke word waarskynlik hierna, hoewel ’n mens nie presies seker is van die datering van hierdie gedeelte nie, opgevolg met ’n belofte aan Sedekia dat hy ten spyte van die beleg en ballingskap die guns van die Here sal geniet, as hy maar net sal luister: “Jy sal nie deur die swaard sterf nie. Jy sal in vredestyd sterf …”. Dit wil aanvanklik lyk asof Sedekia positief hierop reageer en hy laat in ’n ooreenkoms met die hele Jerusalem alle Joodse slawe vry. Hy hou hom egter nie lank daaraan nie en verbreek dié ooreenkoms, nie net met die Jode nie, maar ook met die Here. Dít beseël Sedekia se lot finaal.
  • Jeremia 38:1-13 – In ’n opvolgaksie teen Jeremia deur vier van Sedekia se amptenare, Sefatja, Gedalja (die latere goewerneur wat vermoor sou word), Jukal en Pasgur – almal geswore vyande van Jeremia – word Jeremia met Sedekia se goedkeuring (“Hy is in julle mag, ek kan julle nie keer nie”) in ’n put in die binneplaas van die paleiswag gegooi. Jeremia het in die modder onderin ingesak en die gevaar geloop om te sterf. Gelukkig het ’n Kussiet, Ebed-Melek, hom oor Jeremia ontferm en Sedekia om genade gesmeek het. Sedekia het 3 man saam met hom gestuur en hulle het Jeremia toe uitgetrek met toue en stukke klere onder sy armholtes. Jeremia was nie klein nie, wil dit voorkom! Daarna kon hy weer in die binneplaas bly, hoewel daar nie meer brood oor was in die stad nie en hulle regtig begin honger ly het.
  • Jeremia 38:14-28 – Sedekia was duidelik uiteindelik erg geraak deur die hongersnood en die dreigende ballingskap, want in dié verhaal sit hy by die derde ingang van die tempel en laat Jeremia haal om verder met hom te praat – inplaas daarvan om soos sy voorouers die tempel binne te gaan en die Here om genade te smeek! Hy weet egter die einde is in sig, maar is steeds meer bekommerd oor sy eie lot as oor dié van sy mense en wil by Jeremia weet wat hom te doene staan. Jeremia kry hom eers sover om te sweer dat Sedekia hom nie iets sal aandoen nie en spel dan ’n pad van hoop vir Sedekia uit. Dit sou beteken dat hy hom aan Nebukadnesar sou moes oorgee, soos sy voorganger en broerskind, Jojagin, gedoen het. Ongelukkig steur Sedekia hom nie daar aan nie en ly hy die vernederende dood soos Kronieke, Konings en Jeremia (hfst. 39-40) dit uitspel. Jeremia word begenadig en vrygelaat deur Nebukadnesar, hoewel hy daarna tog uiteindelik weens die anargie in die land moes vlug na Egipte toe en sy laaste woorde in Tagpanges (vandag Tel Defne, aan die Menzalameer in Noord-Egipte) geuiter het, woorde téén Egipte, interessant genoeg.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…