Skip to main content

1 Konings 9:10-28; 2 Kronieke 8:1-18

Salomo se bouwerk bring groot voorspoed en ook voortslepende konflik

1 Konings 9 en 2 Kronieke 8 gee vir ons ’n paar mededelings oor Salomo se verhoudings met Hiram (wisselvorm Huram) van Tirus en die farao van Egipte wat sy internasionale status in koninklike geledere bevestig. Salomo se bouwerk en administratiewe reëlings kry ook aandag, sowel die vloot skepe wat hy opgebou het. Sy keuse vir dwangarbeid kry ook aandag wat ten spyte van die feit dat dit nie teen Israeliete gemik was nie, maar teen die Kanaäniete, tog uiteindelik een van die groot redes was wat tot die skeuring van die ryk gelei het (hfst 12).

Teks en konteks

Salomo se bouwerk strek verder as die twintig jaar wat hy aan die tempel en sy paleis gewerk het. Ook die koninkryk word uitgebou. Salomo het aanvanklik stede aan Hiram gegee in ruil vir al die hout wat hy gekry het, maar dié was nie baie tevrede met die nikswerd (“Kabul”) stede nie: “Wat se stede is dit wat jy vir my gee, my broer!”. Salomo het dus dié stede teruggeneem en deur Israeliete laat bevolk.

2 Kronieke 8 gee meer detail oor die wyse waarop Salomo weer beheer geneem het van dié gebied. Hy het sommige stede se inwoners verdryf om Israeliete daar te vestig. Hy het van dié stede aangewend vir die stoor van voorraad, ander om sy strydwaens en perde daar te huisves vir beskerming, en nog ander stede self versterk om in oorlog beter weerstand te kan bied.

Salomo was dus ‘n bouer van formaat, in Jerusalem sowel as sy hele koninkryk. Vir daardie doel het hy ‘n groot werksmag nodig gehad. Sy keuse het op “verpligte diens” geval om sy planne uit te voer. Hiervoor het hy die oorblywende inwoners van die land ingespan, dié wat oorgebly het ná die platvee- en skoonmaak veldtog van Josua lank te vore (lees 1 Kon 12:4 saam met 1 Kon 5:13 wat wys dat die dwangarbeid ingestel is “vir Israel”).

Die Israeliete daarenteen was sy krygsmanne, dienaars, bevelvoerders, adjudante en aanvoerders van sy strydwamag en ruitery. Hulle was ook die hoofopsigters wat in beheer was van Salomo se uitgebreide bouwerk in sy koninkryk.

Hierdie onderskeid in die arbeidsgemeenskap wat Salomo maak tussen nie-Israeliete as dwangarbeiders en Israeliete as soldate en leiers het egter op die lang duur nie gewerk nie, soos ‘n mens later sien in die skeuring van die ryk onder die leierskap van Jerobeam wat hom juis oor die dwangarbeiders ontferm het.

Dis interessant dat Kronieke nie per se ‘n oordeel oor Salomo se hantering van sy arbeidsake uitspreek nie, maar verkies om net vir Rehabeam, sy seun, die skuld vir die verdeling van die ryk te gee in die verhaal wat in 2 Kronieke 10 sal volg. Konings gee ook daaraan aandag, maar wys ook hier en in die verhaal van Jerobeam op die rol wat die dwangarbeid gespeel het.

Dit lyk ook of Salomo aanvoel dat sy huwelik met farao se dogter kontensieus is, deurdat hy haar weg van die tempel af uit die Dawidstad na sy paleis laat trek het met die woorde “’n Vrou van my kan nie in die paleis van koning Dawid van Israel woon nie; dit is ’n heiligdom, want die ark van die Here het daar gestaan,” ‘n stukkie detail wat weer deur Kronieke verskaf word, maar by Konings ontbreek. Kronieke brei egter op sy beurt nie veel meer uit oor die versoeking waarvoor die vroue se vreemde godsdiens Salomo geplaas het soos wel in 1 Konings 11 beskryf sal word.

Soos Dawid bring Salomo offers vir die Here, anders as Saul wie se koningskap juis van hom weggeneem is oor hy offers aan die Here gebring het. Omdat die offers egter volgens die voorskrifte van die Here gebring is, word goedkeurend daaroor berig. Dit het regdeur die jaar op die Sabbatte, tydens die nuwemaansfeeste, en ook op die spesiale feestye plaasgevind.

Let op na die formalisering van die drie jaarlikse pelgrimsfeeste wat beide in Konings as in Kronieke genoem word. Salomo het drie keer per jaar – met die Fees van die Ongesuurde Brood (Paasfees), die Fees van die Weke (Pinksterfees) en die Huttefees – die brandoffers (vir versoening van sondes ) en maaltydoffers (vir die viering van gemeenskap) gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het. Só het hy die tempeldiens in stand gehou.

Soos Kronieke sê: “Die huis van die Here was volledig afgerond.”

Boodskap en betekenis

Hier is baie om aan te herkou.

Die bouwerk van Salomo was noodsaaklik vir die vestiging en voorspoed van sy mense. Ook die internasionale betrekkinge wat hy uitgebou het. Dit is alles positiewe inisiatiewe van Salomo. Wat sy wysheid onderstreep.

Maar, sy keuse vir dwangarbeid vir ‘n spesifieke klas mense, sowel as die huwelike met vroue van ‘n vreemde godsdiens het terselfdertyd tot konflik in die samelewing en afvalligheid in hulle godsdiens gelei. Dit is inisiatiewe wat negatiewe gevolge gehad het wat nie die toets van die tyd deurstaan het nie. Dit was dwaas.

‘n Mens kan selfs perspektiewe hieruit kry om die konflikte wat vandag in Israel heers, te verstaan.

‘n Fokus op die bou van ‘n nasie en ‘n land is ‘n positiewe ding. Waar dit egter tot die nadeel van ander is, en dit tot misbruik en vervreemding lei, sal die negatiewe gevolge nie uitbly nie.

Hoe anders leer Paulus ons nie aan die hand van Jesus se voorbeeld nie:

Daarom, as daar enige aansporing in Christus is, as daar enige troos uit die liefde is, as daar enige gemeenskap van die Gees is, as daar enige innige meelewing en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander. Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees.” (Fil 2:1-5)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…