Skip to main content

Psalm 19

God bestaan en God praat met ons

Ek plaas ’n paar Psalms van Dawid hier wat reflekteer oor die pad waarop God hom lei, maar wat nie maklik in ’n spesifieke tydvak geplaas kan word nie. Psalm 19 is ‘n loflied aan God in die dubbele openbaring van sy stem in die skepping en die Woord, iets wat Dawid in die gedurige blootstelling aan die elemente van die natuur in sy vlug voor Saul uit telkens ervaar het.

Teks en konteks

Psalm 19 is een van die skeppingspsalms (soos ook 29, 33, 65, 74, 104, 136, 147 en 148). Dit roep die verloop van die skeppingsverhaal van Genesis 1-3 in herinnering. Die Psalmis het gehoop dat dié Psalm mense in vervoering sou laat oor God, sodat hulle later as hulle van die tempel af huis toe gaan, met ‘n groter bewussyn van die heerlikheid van God sou lewe, sodat elke keer wat hulle weer kyk na die hemel en na die son en die normale gang van die dag en die nag ervaar, hulle van God bewus sou bly.

Maar dié Psalm gaan nie net oor die heerlikheid van die skepping nie. Dit beweeg van ‘n loflied oor die skepping na ‘n loflied oor die wet van God wat vir die mens doen wat die son doen vir die skepping. Dit bring lig en krag en die teenwoordigheid van God self tot in die dieptes van die menslike hart (NT Wright). En hierdie wet is natuurlik die spilpunt van die verbond wat Israel aan God verbind het, die hart van Sy Woord aan hulle. Met die wet as hulle wegwyser, was Israel die uitverkore volk van die SkepperGod.

En die Psalmis het gehoop dat dié skets van die Woord, soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek, hulle sou inspireer, sou laat begeer om in die Woord te lewe, dit hulle huis te maak, sodat God nie net ‘n veraf en van-bo-af God sou bly nie, maar die persoonlike God, dié een wat in die lewe deur sy Woord betrokke is, en hulle Hom sou ontmoet in die Woord en met sy Woord aan hulle sy en in hulle hart met Hom ‘n pad sou stap.

STRUKTUUR

GOD BESTAAN – Die heerlikheid van God in die skepping

  • In vers 2 word die sigbare heerlikheid van God in die heelal geskets
  • In vers 3-5a word die onsigbare teenwoordigheid van God wat dag na dag en nag na nag op ‘n woordelose maar ervaarbare manier oorgedra word besing.
  • In vers 5b-7 word die son as sigbare verteenwoordiger van God geskets wat van die een kant van die aarde af tot die ander kant die wêreld verlig en verwarm met sy gloed.

GOD PRAAT – Die heerlikheid van God binne ons

  • In vers 8-10 word die waarde van die Woord beskrywe in terme van die impak wat dit in ‘n mens se lewe kan hê, nie as ‘n paaiboelie nie, maar as ‘n inspirasie.
  • In vers 11 word die waarde vergelyk met dié van goud en heuning
  • In vers 12-13a word dié waarde uitgespel as ‘n leerervaring wat uitmond en afsluit …
  • In vers 13b-15 met die gebed dat God van binne-af sal verander, sal reinig deur sy Woord en ‘n vastigheid sal gee wat die toets van die tyd sal kan deurstaan.

OPGESOM:

  • God bestaan. God is teenwoordig. Jy ervaar dit in die ritme van die dag en nag. Jy voel dit brand op jou vel in die dag.
  • God praat. Jy ervaar dit in die effek wat die Woord op jou het. Dit is soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek. Dit inspireer en gee vastigheid.

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm het artikel twee van die Nederlandse Geloofsbelydenis geïnspireer. Die middele waardeur ons God ken word só uitgespel:

Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit laat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.

Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort. Skrifverwysings: Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:10; 1 Kor. 8:4, 6; 1 Kor. 12; 1 Kor. 1.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda