Skip to main content

Psalm 119:57-64

GET – U, Here, is my deel; U troue liefde vul die aarde

Die agtste deel van die Psalm fokus soos die vorige deel steeds op die krag van God se belofte om hom genadig te wees in die aanvegting wat hy ervaar van goddelose mense. Hulle impak op hom is soos vangtoue of strikke wat hom omstrengel, sodat hy die gevaar loop om in sy gehoorsaamheid aan God se wet ontkrag te word. Hy bid dus dat niks hom sal keer of verhinder in sy voorneme om God se openbaring in alle opsigte na te kom.

Let op hoe hy sewe van die agt woorde vir God se openbaring gebruik: gebooie, bepalings, bevele, wet, regverdige beslissings, opdragte, voorskrifte na te kom. Dit illustreer sy vaste voorneme om in alle opsigte aan God gehoorsaam te wees. Hy wil hê dat die Here hom self sy voorskrifte sal leer.

Hoekom fokus hy só sterk op gehoorsaamheid, selfs al kos dit hom so baie? Omdat, soos die NAV dit dinamies vertaal: “Dit is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.” Letterlik staan daar: “U, Here, is my deel.” (BDV).

Daarmee verwys die Psalmis na die uitsprake in die wet dat die priesters nie ‘n stuk grond ontvang het met die Intog nie, maar dat die Here self hulle deel is: “Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” (Num. 18:20 – OAV). En dié deel kan net in ontvangs geneem word, en in stand gehou word, as die Here aan die een kant sy belofte waarmaak – waarvoor die Psalmis hier bid – en ons aan die ander kant ons heelhartig op gehoorsaamheid toelê – waaraan die Psalmis hom hier toewy.

Die idee dat God ons deel is, is ‘n tema wat in die Psalms van toepassing gemaak word nie net op priesters nie, maar op alle mense wat die Here die totale fokus van hulle lewe maak. Vgl. Dawid in Ps. 16:5: “Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” Hy kan dit selfs sê in die grootste gevaar toe hy in die grot vir Saul geskuil het: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.” (Ps. 142:6).

Een van die Asaf Psalms uit die derde Psalmboek het dit ook van toepassing gemaak op mense – soos in Ps. 119:57-64 – waar hulle geloof in God in ‘n krisis kom weens die effek van goddeloses, in daardie geval weens die impak van hulle voorspoed. Asaf bely dan: “My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd. Want kyk, dié wat ver van U af is, gaan te gronde.” (Ps. 73:26)

Daarom lees ons dat die Psalmis bid en worstel met die Here: “Ek het met my hele hart u guns gesoek … Wees my tog genadig volgens u belofte.” Hy het sy paaie (koers) oordink en dit teruggebring na God se bepalings. Hy het hom gehaas: “en nie getalm nie” om God se bevele te gehoorsaam. Hy het God se wet nie vergeet nie, selfs in die middel van die nag die Here geloof.

Hy sorg ook dat hy hom omring met mense wat soos hy ontsag het vir die Here, en sy opdragte nakom. Want, hy weet, dit is dán wat hy die belydenis dat die Here sy deel is, sal kan volhou, en die ervaring kan hê dat sy troue liefde die aarde vul.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…