Skip to main content

1 Korintiërs 5

Die gemeente moet mense uit hulle gemeenskap verwyder wat seksueel immoreel leef

Paulus skryf verder oor van die sake wat Chloë se mense aan hom vertel het, hier oor ‘n besondere erge geval van seksuele immoraliteit waar ‘n gemeentelid met sy pa se vrou saamgeleef het, maar ten spyte van die gruwelike sonde steeds deel van die gemeente was. Sy voorskrif was net so kras soos die sonde. Só iemand moes sondermeer uit die gemeente verwyder word, omdat dit die suurdeeg van “kwaad en boosheid” in die gemeente losgelaat het en hulle almal se opregte vashou aan die waarheid sou benadeel.

Teks en konteks

Paulus berispe die gemeente oor ‘n immorele verhouding in die gemeente – 1 Korintiërs 5:1-5

Dit blyk dat die ongeoorloofde seksuele verhouding tussen die man en sy pa se vrou, wat selfs in ‘n heidense omgewing afgekeur is, algemene kennis in die gemeente was en nie net bekend aan ’n klein groepie nie. Let op dat Paulus hier eintlik net oor die man se sonde skryf, nie oor die vrou s’n nie (moontlik was sy ’n ongelowige?), en ook net wou hê dat die man as ’n tugmaatreël uit hulle midde verwyder sou word.

Die frase: “vrou van sy vader” in vers 1 dui waarskynlik eerder op die man se “stiefma” as op sy eie ma, in welke geval dit biologiese bloedskande sou wees, maar is iets wat in elk geval direk in die wet verbied is (Lev 18:8; Deut 22:30; 27:20). Dit het ook geval onder die algemene verbod op seksuele immoraliteit wat die kerk in Jerusalem as riglyne vir alle gelowiges, ook dié uit die heidene aanvaar het (Hand. 15).

Christus se dood as die Paaslam moet hulle motiveer om die ou suurdeeg wat boos is, te verwyder – 1 Korintiërs 5:6-8

Paulus gebruik dan hierdie geval om hulle aan te vat oor hulle hoogmoed, want hulle hantering van dié saak wys dat hulle niks het om hulle oor aan te stel nie. Nog dieper as dit – deur niks te doen aan openlike en gruwelike sondes nie, benadeel ’n gemeente nie net die persoon nie, maar ook die gemeenskap van die gemeente self. Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap, net soseer as wat reinheid en waarheid dit doen.

Hulle moes eerder toesien dat die man uit hulle midde verwyder word. Soos Jesus dit self voorgeskryf het in Matteus 18:15-20 moet hulle bymekaar kom in die teenwoordigheid van die Here Jesus self – Paulus sal self in die gees daar wees – en dan met Jesus se krag die man aan Satan oorgee om sy sondige aard te vernietig, sodat sy gees op die dag van die Here verlos mag word.

Hierdie woorde: “aan Satan oorgee” herinner aan die gesprek tussen God en Satan in Job 1:12. Deur hom oor te gee aan die Satan, kan dié hom tref met allerlei teenspoed (soos in Job se geval) wat hom hopelik tot ander insigte sou bring (vgl 1 Tim. 1:20 waar Paulus dieselfde doen met Himeneus en Aleksander, mense wat hulle gewete onderdruk het), al sou die man se redding nie in die laaste instansie in gedrang wees nie (vgl 1 Kor. 3:15 waar iets soortgelyks van toepassing is op leiers wie se werk verbrand met die wederkoms).

Paulus gebruik die metafoor van suurdeeg om sy punt te onderstreep. Dit is tog algemene kennis dat ‘n klein bietjie suurdeeg die hele mengsel deursuur. Hy wil dus hê dat hulle hierdie “ou suurdeeg” – die man en sy sonde – sal verwyder sodat hulle “nuwe deeg” kan wees, sonder die suurdeeg van die sonde.

Hiermee verwys hy na die Pasgafees waar alle suurdeeg verwyder is uit Joodse huise en hulle ongesuurde brood geëet en die Pasgalam geslag en geëet het om deel te hê aan die verlossing uit Egipte.

Dit is wat by die kruis van die Here Jesus Christus gebeur het. Hy is as ons Pasgalam geslag en daarom moet ons feesvier, nie met ou suurdeeg, die suurdeeg van kwaad en boosheid soos seksuele immoraliteit nie, maar met die ongesuurde brood van opregtheid en waarheid.

Die gemeente moet immorele persone in hulle gemeenskap verwyder – 1 Korintiërs 5:10-13

Dit is duidelik dat die gemeente dit makliker gevind het om sondaars uit die wêreld te vermy, maar dit moeilik gevind het om sondaars binne die gemeente onder tug te plaas. Ek dink baie gemeentes sukkel vandag nog daarmee!

Wat besonder ironies is, is dat hulle hierdie optrede probeer regverdig het deur die voorskrifte in sy vorige brief – om sondaars te vermy – verkeerdelik aan te wend.

Maar daarmee het hulle twee sleutelfoute begaan: hulle het die kwaliteit van hulle eie gemeentelewe benadeel, sowel as hulle roeping in die wêreld versaak, wat tog gemik is juis op mense wat vasgevang is in hulle sonde. Die vermyding van sondaars in die wêreld het die geleentheid vir hulle getuienis aan hulle ingekort, terwyl die vermyding van dissipline binne die gemeente weer die krag van hulle getuienis tot niet gemaak het.

Dan stel Paulus die misverstand reg dat hy beslis nie die hoereerders van hierdie wêreld bedoel het nie, ook nie ander sondaars soos gierigaards en rowers of afgodedienaars nie, want dan sou hulle uit die wêreld moes weggaan.

Hy het bedoel dat hulle nie omgaan met enigiemand wat homself ‘n gelowige noem, maar (en dan gee ‘n hele lys van mense en hulle sondes) ‘n hoereerder of ‘n gierigaard is, of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadprater of ‘n dronkaard of ‘n rower nie. Hulle mag nie eers met so iemand saam eet nie.

Hy sluit met ’n algemene reël, dat dit nie verantwoord is om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. Dit is God se werk. Maar, binne die gemeente, het die gemeente die verantwoordelikheid om sensuur toe te pas deur die slegte mens uit hulle midde te verwyder.

Boodskap en betekenis

Die klem wat Paulus hier lê op die onderlinge sorg vir mekaar, wat vermaning en tug insluit, bly my by. Sonde is nie ’n klein saak nie. Dit het ’n groot effek op die sondaar self, maar dit het net so ’n groot effek op die gemeenskap van die gemeente. Geen wonder dat Paulus in hoofstuk 3 so duidelik geskryf het oor die gemeente as die tempel waar die Gees woon, iets waaroor hy verder sal skrywe in hoofstuk 6.

Sonde skaad dus ook die verhouding van die gemeente met God. En daarom is in die Reformasie geoordeel dat die toepassing van tug een van die kenmerke van die ware kerk is (Nederlandse Geloofsbelydenis 29). En ons sal goed doen om Paulus se voorskrifte hierin te begin navolg.

En let op dat Paulus nie net die sonde veroordeel, en die sondaar aanvaar nie. Dit is die sondaar self wat uit die gemeenskap verwyder word.

So, opsommenderwys, tug fokus op die sondaar – om hom te red; op die gemeente – om die gemeenskap te suiwer; op die Gees – om God se teenwoordigheid te verseker.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…