Skip to main content

1 Timoteus 2

Gebed, lewenstyl en leierskap staan sentraal

Waar Paulus nou raad vir Timoteus gegee het oor hoe om dwaalleraars en dwalinge as sodanig te hanteer, fokus hy nou op die positiewe riglyne vir die werk in ‘n gemeente.

En let op waarmee hy begin. Hy gee leiding oor gebed, hy waarsku oor onderlinge wedywering of vertoon in lewenstyl en gee riglyne vir leierskap. Daarna sal hy in hoofstuk 3 verdere raad  gee vir die leierskap, ouderlinge en diakens, verbind aan die fokus van die gemeente: dat hulle die gemeente is van die lewende God, en dat die gemeente die basis en ondersteuning van die waarheid is (1 Tim. 3:15).

Teks en konteks

Gebed vir alle mense moet sentraal staan – 1 Timoteus 2:1-7

Soos in die brief aan Efese word gebed as een van die belangrikste dinge genoem wat ‘n gemeente kan beoefen.  En die gebed is nie net privaat vir die behoeftes van enkelinge of selfs van die gemeente nie, maar vir alle mense.  Hoewel regeerders uitgesonder word, veral met die oog op ‘n rustige en stil lewe in volkome toewyding aan God in alle eerbaarheid, bly die fokus alle mense.

En Paulus is baie ernstig daaroor dat dit God se wil is dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom – en dat die gemeente daarvoor moet intree, omdat die gemeente die draer van die waarheid is, soos hy in die volgende hoofstuk gaan uitspel.

Dit is na alles ook die hart van Paulus se roeping, om die boodskap hiervan aan alle nasies te bring.  Die boodskap van Christus as Middelaar, waaroor die Heidelbergse Kategismus so roerend later in die deel oor Verlossing sal praat (vraag en antwoord 11-19), is die motivering vir sy lewensmissie.  Almal moet hoor van die Middelaar wat versoening bring tussen mense en God.  En hiervoor moet die gemeente voortdurend en volhardend intree.

Geen wedywering by mans of vertoon by vroue in lewenstyl – 1 Timoteus 2:8-10

Steeds in die konteks van gebed in die gemeente, is Paulus se raad aan mans dat hulle by elke plek (van samekoms) moet bid, en moet sorg dat hulle dit met ‘n skoon gewete en sonder onmin en twis doen wat uit ‘n onderlinge kompetisie sou kon spruit. Dit sluit natuurlik die gebede van die vroue in (vgl. 1 Tim. 5:5), hoewel hy meer spesifieke raad vir hulle in dié gedeelte gee.

Vir vroue is Paulus se raad dat hulle behoorlik geklee, beskeie en verstandig moet wees. Die implikasie is dat hulle daardeur respek sal verdien. Hulle versiering moet eerder “goeie werke” wees as gevlegte hare, goud of pêrels, of duur klere. Die goeie werke sal ‘n beter aanduiding wees van hulle belydenis dat hulle God aanbid, as wat ‘n “goeie voorkoms” dit sal wees.

Let op dat dit dus nie oor uiterlike dinge as sodanig gaan nie, maar oor die getuienis oor God wat ook in hulle kleredrag en optrede sigbaar moet wees. ‘n Uiterlike vertoon sal juis afbreek doen aan hulle openbare belydenis.

Daar moet dus by mans en vroue geen wedywering of vertoon in lewenstyl teenoor mekaar of binne die samelewing wees nie, sodat die gemeenskap van gelowiges nie verskeur word daardeur en hulle getuienis in die gemeenskap bevraagteken kan word nie.

Riglyne vir leierskap in die gemeente – 1 Timoteus 2:11-15

Dan gaan Paulus verder met sy riglyne vir leierskap. Dit is ‘n gedeelte wat deur baie misbruik word om bv. hulle eie voorkeure oor die vrou in die amp hier in te lees of hieruit af te lei of vroue kan preek, onderrig gee, of ‘n erediens kan lei al dan nie.

Vertaling

Ek gee daarom my eie vertaling in twaalf korter eenhede hier weer dat jy kan raaksien dat dit nie hier oor die ampte gaan of oor die prediking, lering en erediens begeleiding as sodanig nie.

  • 11Laat ’n vrou in stilte leer
  • met alle onderdanigheid.
  • 12Verder laat ek ’n vrou nie toe om te leer
  • en om ’n man te oorheers nie.
  • Maar om in stilte te wees,
  • 13omdat Adam eerste gemaak is,
  • dan Eva.
  • 14Verder is Adam nie mislei nie,
  • maar die vrou is mislei,
  • en het in oortreding gekom.
  • 15Maar sy sal deur kindergeboorte verlos word
  • as hulle in geloof en liefde en heiligheid selfbeheers bly.”

(My vertaling is gebaseer op Scripture Direct van Louw-Nida sowel as die Greek-English Interlinear of the NT van Lexham)

Betekenis

  1. Vroue moet leerbaarheid inoefen
  2. Vroue moenie mans domineer met hulle lering nie
  3. Mans het ‘n leiersposisie vanweë die skepping
  4. Vroue is vatbaar vir misleiding vanweë die sondeval
  5. Vroue moet hulle rol aanvaar en toegewyd leef

‘n Paar opmerkings

  • Vers 11-12 praat van “’n vrou” (enkelvoud) om in die algemeen na vroue in Efese te verwys. Vers 15 se “hulle” verwys ook na hulle. Paulus se riglyn vir vroue is om toegerus te word deur lering om toegewyd te kan lewe.
  • Vers 11-12 praat van “stilte” waarmee verwys word na leerbaarheid en onderdanigheid waarin hulle nie moet probeer om die mans in die gemeente met hulle lering te domineer nie.
  • Die twee argumente uit die Skepping in vers 13-14 wat hierdie riglyne van Paulus ondersteun het met Adam se prioriteit (soos ‘n eersgeborene se status in die wet) en onderskeiding te make, nie met sy waarde of sondeloosheid nie. Adam en Eva is voorbeelde wat op die mans en vroue in Efese van toepassing gemaak word.
  • Die verwysing na verlossing deur kindergeboorte het met die Eva se nageslag te make (waaruit die Verlosser uiteindelik gebore is – Gen. 3:15) wat as ‘n voorbeeld dien vir die vroue van Efese om moederskap ernstig te neem.
  • Die verwysing na vroue se volharding in geloof, liefde en toewyding met selfbeheersing is iets wat Paulus op talle ander plekke op alle gelowiges van toepassing maak (vgl. bv. Fil. 2:12-13).
  • Die reëling wat Paulus hier maak, is dus NIE dat ’n vrou nie kan preek, leer of bid nie, iets waaroor Paulus alreeds positief geskryf het in 1 Korintiërs 11. Sy moet net nie die mans in die gemeente met haar lering oorheers of domineer nie.
  • Dieselfde geld om onderrig te gee. Priscilla het vir Apollos in Korinte onderrig (Hand. 18). D.w.s. mans kon deur vroue onderrig word (net nie gedomineer word nie). Dieselfde geld Timoteus wat deur vroue onderrig is, sy ouma en ma (2 Tim. 1:5; 3:14-17). En in Kreta was die opdrag aan Titus ten minste dat vroue ander vroue kon onderrig (Tit. 2:3-5).

Boodskap en betekenis

Paulus gee hier positiewe riglyne vir die gemeentelike lewe met gebed, lewenstyl en leierskap as die kern. Gebed moet sentraal in die gemeente staan – nie net vir eie behoeftes nie, maar vir alle mense, insluitende regeerders. Mans moet bid sonder onmin of kompetisie; vroue moet eerder deur goeie werke as uiterlike vertoon bekend staan.

Paulus vra spesifiek dat vroue leerbaar sal wees, sonder om mans te domineer. Hy ondersteun dit met voorbeelde uit die skepping en sondeval, en laat ons dink daaraan dat die verlossing uiteindelik deur die vrou se nageslag (Christus) gekom het. Hy beklemtoon dus dat vroue – soos mans – in geloof, liefde, heiligheid en selfbeheersing moet volhard.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.