Skip to main content

2 Konings 3

God voorsien in nood en gevaar deur die diens van Elisa

Joram, die seun van Agab, word koning in Samaria in die Noordryk (hy het 12 jaar regeer – 852-841 vC) in hierdie tyd. ‘n Mens moet hom onderskei van sy naamgenoot, Jehoram (Joram is ‘n verkorte spelling van Jehoram), seun van Josafat, wat in Jerusalem in die Suidryk koning word vier jaar later (hy het 8 jaar regeer – 848-841 vC) soos 2 Konings 8 dit vertel. 2 Konings 3 wat ons vandag lees, vertel van die oorwinning oor Moab, soos voorspel deur Elisa, met die vreemde uitkoms dat Mesa, die koning van Moab, sy eersgebore seun offer en Israel terugtrek na ‘n “oordeel” of “afgryse” oor hulle uitbreek.

Teks en konteks

Hierdie stryd tussen Moab en Israel is bekend uit ’n inskripsie op ’n gedenksteen wat by Dibon ontdek is, die sogenaamde Mesa stele, of Moab steen.

Joram, die seun van Agab, die koning van die Noordryk, het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy was darem nie so erg soos sy pa en ma (Isebel) nie, deur die Baälaanbidding te beperk, maar in alle ander opsigte het hy die afvalligheid van die eerste koning van die Noordryk, Jerobeam, gevolg.

Toe Mesa, die koning van Moab, ophou om sy kwota vee aan Joram te lewer, het Joram vir Josafat van Juda ingetrek in die konflik en oorlog verklaar teen Moab.

Elisa word egter opgesoek as die manskappe se water opraak op versoek van Josafat. Dat hy nie ontbied word, soos ons soms by Agab gesien het in sy verhouding met Elia nie, wys dat die voorafgaande gebeure by die Jordaan en Jerigo, sowel as die tragiese gebeure met die kinders ’n ontsag vir Elisa geskep het, selfs by die konings.

Let op dat Elisa beskryf word as iemand wat “water gegooi het op Elia se hande.” Hy het dus as Elia se dienskneg opgetree om water te verskaf ná Elia geëet of homself verlig het. Maar, nou was hy die gesagvolle dienskneg van die Here wat die konings met die woord van die Here bedien.

Elisa gaan egter net oor tot hulp ter wille van Josafat, omdat hy bekend was as iemand wat die Here dien.

Ons kom agter uit die lierspeler wat ingespan word, dat Elisa ’n ekstatiese profeet was wat ’n atmosfeer geskep het waarin hy die stem van die Here kon hoor.

Die boodskap van die Here is dat Hy nie net water op ‘n wonderbaarlike manier vir hulle sal gee nie, maar dat Hy ook vir Moab sal verslaan en hulle land onbewoonbaar sal maak.

Elisa se voorspellings word albei waar. Hulle kry water, maar interessant genoeg word die water ook ingespan om die Moabiete te mislei. Met die son wat op die water skyn en dit ‘n rooierige gloed gee, dink Mesa dat Israel mekaar uitgemoor het, en in hulle haastigheid om die buit te stroop, word hulle verras en deur die Israeliete verslaan. Hulle land word ook verwoes.

Dan neem Mesa sy eersgebore seun en offer hom as brandoffer op die stadsmuur. Met die gevolg dat daar toe ‘n verskriklike “oordeel” (2020-vertaling) losbars oor Israel, soveel só dat Israel van Mesa af wegtrek en teruggekeer het na hulle land.

Dit is ‘n baie moeilike teks om te verklaar. Die 1983-vertaling vertaal die Hebreeuse woord qeṣep wat daar gebruik word dinamies met “skok”. Die NIV vertaal dit met “fury” wat nader aan die ander betekenisse van die woord in die OT is (vgl Jer 50:23 waar van God se “toorn” gepraat word; Est 1:18 waar van die vroue se “minagting” van hulle mans gepraat word; Pred 5:16 waar van die ryk man wat uiteindelik sy lewe afsluit in “toorn” [1953-vertaling], “bitterheid” [1983-vertaling] of “grimmigheid” [2020-vertaling] gepraat word).

Ek het al baie hieroor nagedink, en my keuse begin al hoe meer val op vertalings soos “woede” of “grimmigheid” (HAT verklaar grimmigheid as “boos, toornig, woedend; tot toorn geneig”) nie soseer “oordeel” nie, omdat laasgenoemde betekenis gewoonlik met God (of die gode) geassosieer word, en Hy ook nie eksplisiet die voorwerp van die woord in hierdie vers is nie.

Omdat die voorwerp van die qeṣep nie gespesifiseer word nie, en dit dus nie eksplisiet met God (of ander gode) verbind word nie, open dit die moontlikheid om die voorwerp van hierdie “grimmigheid” te kan beskou as óf die Moabiete se woedende reaksie wat Israel laat terugkeer (so verklaar Josefus dit), óf dat dit Israel se afgryse en ontsteltenis uitdruk oor wat gebeur het, soos dit volgens die 1983-vertaling geïnterpreteer kan word.

Dan was dit miskien weens ‘n soort eie “afgryse” oor die “brandoffer” van die eersgeborene, ‘n offer wat normaalweg met die vergifnis van sonde verbind word, maar in dié geval ‘n parodie daarop is met ‘n seun ipv ‘n dier, wat vir sy pa se “sonde” geoffer is.

As ‘n mens dit wel as die toorn van God sien, moet ‘n mens dit interpreteer as ‘n woede of “oordeel” teen Israel omdat die Suidryk, Josafat, ‘n alliansie met die Noordryk, Agab se seun Joram, gesluit het, soos die 2020-vertaling dit verstaan (vgl hierdie betekenis in Num 18:5; Deut 29:27; Jos 9:20; 22:20).

Interessant genoeg interpreteer Mesa die veldslag hierna, volgens die inskripsie op die gedenksteen, as ’n oorwinning vir homself. Waarskynlik op grond van die feit dat hy met sy lewe daarvan afgekom het. Sy seun was egter nie so gelukkig volgens die Bybelse teks nie…

Boodskap en betekenis

Daar is baie om oor na te dink in hierdie gedeelte. Josafat wat weereens homself in ‘n gevaarsone plaas weens sy verbintenis aan die Agab-dinastie. Elisa wat met gesag kan optree, omdat die Here ontsag vir hom geskep het ná die hemelvaart van Elia. God se voorsiening beide in fisiese nood en gevaar. En die “afgryse” oor die impak van oorlog op mense wat in die baie moeilik verklaarbare teks oor Mesa se seun se brandoffer geïmpliseer word.

Dit is ook die moeite werd om na te dink oor die feit dat Jesus aan die kruis die “toorn” van God gedra het vir almal wat in Hom glo, ook as die eersgeborene van God. Want, die “toorn” van God is ‘n realiteit waaroor Paulus in Romeine 1:18 skryf. Net in Christus is daar ‘n uitkoms moontlik, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar