Skip to main content

Esra 2-3

Die Jode vestig hulle weer in die land en herstel hulle verhouding met God

Vandag lees ons twee dele:

  • Esra 2:1-67 handel oor die mense wat waarskynlik in 538 vC saam met Serubbabel teruggekom het (wat ook in Neh. 7:6-69 gelys word, maar ’n hele paar verskille veral in terme van die getalle vertoon, waarskynlik vanweë foute met kopiëring).
  • Esra 2:68-3:13 handel oor die bydraes wat vir die bou van die tempel gegee is, sowel as ’n beskrywing van die herinstelling van die brandoffers en die viering van die huttefees, sowel as die lê van die fondamente van die tempel, waarskynlik in 537 vC.

Teks en konteks

Mense wat uit die ballingskap teruggekom het

Die mense wat uit ballingskap teruggekom het, word in nege afdelings gelys, waarskynlik om onder andere as getuienis vir die nageslag te dien (volgens families), sowel as om hulle aanspraak op hulle grondgebied te bevestig (volgens plek name):

  1. Die leiers – Esra 2:1-2a – hierdie Nehemia is nie dieselfde as dié een van wie ons in die boek Nehemia lees nie;
  2. Die gewone Jode in hulle families – Esra 2:2b-20;
  3. Die gewone Jode volgens plekname – Esra 2:21-35 – wat in ’n geografiese “zigzag” verband gelys word, van suid na noord, van noord na noordwes, van noordwes na verder noord, dan weer na die suidweste om net weer gebiede in die noordweste te lys;
  4. Die priesters – Esra 2:36-39 – ’n groot aantal;
  5. Die Leviete, sangers en poortwagte – Esra 2:40-42 – ’n kleiner getal;
  6. Die tempelslawe – Esra 2:43-54 – moontlik afstammelinge van die Gibeoniete (1 Kron. 8-9);
  7. Die dienaars van Salomo – v2:55-58 – wat nie bekend is uit ander bronne nie;
  8. Dié sonder geslagsregisters – Esra 2:59-63 – waarvan sommige priesters was, maar nie hulle afstamming kon bewys nie en daarom van aktiewe diens uitgesluit is, waarvan Barsillai, interessant genoeg volgens sy skoonpa se afstamming in die geslagsregister ingeskryf is, omdat hy getroud was met ‘n dogter van die Gileadiet Barsillai en toe na hom vernoem is;
  9. Die totale aantal – Esra 2:64-67.

Die begin van die bou van die tempel

Die eerste plek waar die ongeveer 43 000 mense aangedoen het met hulle terugkoms in 538 vC was by die tempelterrein in Jerusalem. Dit wys net hoe belangrik dié simbool van God se teenwoordigheid vir hulle was. Die familiehoofde het leiding geneem deur vrywillige bydraes volgens hulle vermoë te gee vir die oprigting van die tempel op sy oorspronklike plek. Daarna het almal hulle weer gevestig in die plekke waar hulle vandaan gekom het.

In dieselfde jaar (538 vC) , toe die sewende maand aanbreek, het die Jode egter eendragtig in Jerusalem bymekaargekom om die altaardiens op die herboude brandofferaltaar te hervat onder die leiding van Jesua, die hoëpriester (vgl. Sag. 4) Dit het hulle gedoen ten spyte van die bedreiging wat die ander bevolkingsgroepe in die land vir hulle ingehou het. Hulle het selfs die voorgeskrewe huttefees gevier, trouens al die feeste wat deel van hulle godsdiens skat was.

Die herstel van die offer- en fees kultus van Israel is in die tweede jaar (537 vC) opgevolg met die lê van die fondamente van die tempel op die oorspronklike plek (vgl. Hag. 2). Soos met die vorige tempel is buitelandse klipkappers en ander vakmanne gehuur uit Sidon en Tirus. Dit het ook gepaard gegaan met die begeleiding van trompette (priesters) en simbale (Leviete van die Asafgroep) met die volk wat die Here geloof en gedank het met die refrein uit Psalm 136: “Want Hy is goed, aan sy liefde vir Israel is daar geen einde nie.”

Onder die luidkeelse gejubel van vreugde was daar ook ’n hele aantal wat hardop aan die huil gegaan, maar die groot vreugde het die trane getroef.

Boodskap en betekenis

Soos ons hierna in 1 Kronieke 1-9 se geslagsregisters gaan sien, was die lys van name van dié wat teruggekom het, van kardinale belang. Deur daarop te fokus, is hulle identiteit as Godsvolk onderstreep, sodat hulle die band met die geskiedenis van hulle geloofsgemeenskap nie net kon vier nie, maar ook kon beskerm.

Dit het ook die boodskap gedra dat hulle nie moes vermeng met hulle bure nie, maar hulle identiteit as Godsvolk behou, omdat die gevaar van sinkretisme net te groot was. Daarom sou hulle later drastiese stappe neem om huwelike te ontbind van mans wat getroud was met heidense vroue (Esra 9-10; Neh 13), dws met vroue wat nie (soos Rut bv) die Here wou dien nie , maar: “in diens van ‘n ander god staan” (Mal 2:11-12).

Dieselfde het van die sentrale plek wat die tempel in hulle geloofsbeoefening ingeneem het, gegeld. Die offerstelsel moes hervat word om hulle verbintenis aan die Here te herstel. Hulle sou slegs as Godsvolk kon floreer as die tempel herbou sou word, die wet weer sy regmatige plek in hulle lewe inneem, en die mure van die stad herbou sou word om hulle veiligheid teen die aanslae van buite, te verseker.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…