Skip to main content

1 Konings 12

Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk… deur die beskikking van die Here

Weens die lengte van die hoofstukke oor Rehabeam en Jerobeam in 1 Konings 12-14 en 2 Kronieke 10-12 gaan ek dit afsonderlik behandel, al is daar ‘n hele paar ooreenkomste, omdat dit só meer reg laat geskied aan die perspektiewe van die twee Bybelboeke. Ter wille van die vloei van die onderskeie verhale gaan ek eers Konings en daarna Kronieke se verhale lees.

Teks en konteks

Dit tref my hoe die geskiedenis hom herhaal. Dawid het moeite gehad om ’n goeie pa vir sy kinders te wees, met tragiese gevolge vir Absalom en Adonia wat in opstand gekom het teen hom. Salomo vaar nog slegter. Waar dit duidelik is dat Dawid ’n verhouding met Salomo het en hom mentor met die oog op die bouprojek aan die tempel, lyk dit asof Salomo geen verhouding met Rehabeam het nie. Hy het wel ’n oneffektiewe poging om Jerobeam te opponeer ter wille van sy seun, maar min impak op die verdere prosesse na sy dood.

Rehabeam se koningskap word aanvanklik beide in die Noorde as die Suide aanvaar. In Sigem (vgl Josua 24) tree hy egter baie onwys op met die eerste uitdaging wat die Israeliete aan hom stel: hoe hy die dwangarbeid gaan hanteer. Sy radikalisering van sy pa se beleid teenoor die dwangarbeiders lei regstreeks tot die skeuring van die ryk.

Let op hoe Jerobeam die “spokesperson” word vir die arbeiders, veral dié van Israel se noordelike stamme. ’n Mens weet nie of sy aanbod om deel van die ryk te bly – as die arbeidslas ligter gemaak sou word – ernstig bedoel was nie, maar dit het in elk geval nie die gewenste uitwerking nie. Rehabeam steur hom nie aan die billike versoek nie, maar volg die raad van die jonger manne – manne wat interessant genoeg “saam met hom grootgeword het” (vers 10) en sy perspektief op die lewe deel – en vervreem so vir Jerobeam en die noordelike stamme.

Sy optrede word egter ook aan die beskikking van die Here toegeskryf, “sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het.” (vers 15; vgl 1 Kon 11:29) Hier sien ’n mens weer ’n getuienis van die dubbele oorsaak van dieselfde gebeure. Alles wat gebeur kan vanuit ‘n menslike kant gesien word, maar terselfdertyd ook van ‘n Goddelike kant. Dit bly ’n werklikheid waarmee in alles rekening gehou moet word.

Rehabeam se pogings om die opstand teen hom te onderdruk word maklik deur die 10 noordelike stamme afgeweer en die breuk is nooit weer geheel nie. Hy het nie rekening gehou met die feit dat selfs Dawid se koningskap in die Noorde op grond van ’n ooreenkoms was (2 Sam 5:3) en nie op grond van oorerwing, soos wel in die Suide die geval was nie. Boonop stuur hy ook nog die hoof van die dwangarbeid, Adoniram, om sy wil op hulle af te dwing, met tragiese gevolge vir Adoniram.

Let op hoe selfs die oorlogspogings van Rehabeam deur die Here in die wiele gery word, deur ’n profeet te stuur, Semaja, omdat die Here verantwoordelikheid neem vir die skeuring: “wat gebeur het, kom van My af.” (vers 24). Daarmee het Rehabeam nie net baie grondgebied ingeboet nie, maar ook ’n groot klomp belasting en moes met ’n kleiner werks- en oorlogsmag tevrede wees. Sy magswellus boemerang dus lelik op hom.

Jerobeam se koningskap oor die 10 stamme word deur ’n volksvergadering bevestig. Maar sy poging om beheer ook van die godsdienstige lewe van sy volk te neem, lei tot ’n dwase keuse om twee goue kalwer beelde te maak wat in die twee heiligdomme Betel (suide – vgl Gen 12:8: Abraham) en Dan (noorde) opgerig word as teenvoeter vir die tempel in Jerusalem, wat Israeliete drie keer ’n jaar vir die pelgrimsfeeste (Paasfees, Pinksterfees, Huttefees) besoek het.

Daarmee oortree hy egter die wet van die Here, soos Aäron lank tevore. Die Israeliete volg hom in die aanbidding op die hoogtes en by die twee heiligdomme. Selfs priesters uit ander stamme word aangestel teen die voorskrifte van die Here.

Jerobeam word daarmee ’n voorbeeld van afvalligheid van die Here, al was dit die Here wat hom die koningskap gegee het. Net soos Salomo, verkwis hy die gawe van die Here aan hom.

Jerobeam vergestalt daarmee vir die skrywer van Konings alles wat verkeerd is met die Israelitiese konings, omdat hulle aandadig was aan die spreekwoordelike: “sondes wat Jerobeam die seun van Nebat vir Israel laat doen het.” (2 Kon 15:26; 16:26, 30 ens)

Boodskap en betekenis

Die verhaal van Rehabeam wys ‘n mens aan die een kant hoe moeilik dit is om om te draai as jy eers jou voete op ‘n dwase verkeerde pad gesit het. Rehabeam wys die toenadering van beide die Noorde as van Jerobeam af en verloor só die enigste geleentheid wat hy gehad het om die dreigende skeuring af te weer.

Natuurlik is dit die werk van die Here wat hierin raakgesien word, want die Here het sy wil in die hitte van die stryd deurgevoer om sy belofte aan Jerobeam na te kom. Maar, dit is ook volledig Rehabeam se eie skuld, want hy het al die geleentheid gehad om die konflik tot sy voordeel te bestuur.

Sy karakter en sy kamerade het hom in die steek gelaat.

Die verhaal van Jerobeam wys ’n mens aan die ander kant net weer hoe moeilik ’n bevryder ’n goeie koning word. Dit is nie genoeg om deernis te hê met mense wat aan die kortste end trek in sosiale konflik nie. Die fisiese bevryding van onderdrukking is maar nog net die eerste stap om tot volwaardige vryheid te kom. Dit moet opgevolg word met die vestiging van ‘n lewe wat aan God toegewy is en volgens sy reëls geleef word.

Trouens, dit is wat die Uittog Israel moes geleer het. Die verlossing uit Egipte is opgevolg met die verbond op Sinai waarin God se wil in detail vir hulle uitgespel is in die Tien Gebooie en al die ander riglyne en bepalings wat hulle morele kompas moes word. Waar van daardie kompas afgewyk word, verdwaal jy in die woestyn van jou eie koppigheid en sien jy nooit die Beloofde Land nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…