Eksodus 29

Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers

Teks en konteks

Die instruksies rondom die kleredrag word opgevolg deur ‘n gedetailleerde beskrywing van hoe Aäron en sy seuns op rituele wyse afgesonder, gereinig, beklee, gesalf, en bevestig moet word in die blywende priesterlike amp deur middel van ‘n reeks rituele en offers. Die uitvoering van al hierdie instruksies word in Levitikus 8:1-36 vertel. Aäron se ampsklere moes ook ná sy dood gebruik word vir die bevestiging van een van sy seuns as Hoëpriester.

Hiermee is die gesag van die Here aan die priesters oorgedra en het hulle op ‘n besondere wyse nie net die ervaring van God se teenwoordigheid geniet nie, maar Hom ook verteenwoordig by die Godsvolk. Voorwaar ‘n besondere voorreg, maar ook ‘n uitdagende verantwoordelikheid.

Die offers moes kom uit hulle eie mak diere sowel as die produkte van hulle eie oeste. Die offers het hulle dus iets gekos as teken van die prys van versoening. Soos Dawid op ‘n keer opmerk: “Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.” (2 Sam. 24:24). Interessant is dat selfs die altaar ingewy moes word deur versoeningsoffers voordat dit aanvaarbaar was vir die Here.

Die meeste van hierdie offers is heeltemal verbrand vir die Here – sondeoffers en brandoffers (vuuroffers) – as versoening met die hand van die persoon/priester op die dier wat geoffer word. Dit getuig van die plaasvervangende dood van die offerdier wat die persoon/gemeenskap in die regte verhouding met God bring. Sommige dele van die offers was egter ook bedoel as ‘n maaltydoffer vir die priesters.

Die sondeoffer is buite die kamp verbrand wat die boodskap dra dat die sonde uit die gemeenskap verwyder word. Die brandoffer is heeltemal verbrand wat die boodskap dra dat die persoon/gemeenskap volledig aan die Here toegewy moet lewe. Dieselfde met die vuuroffers wat eintlik ‘n wisselterm vir brandoffers is.

Dat die punt van die lewer spesifiek genoem word as ‘n deel wat verbrand moet word, kan moontlik ‘n boodskap wees aan hulle heidense omgewing waarin die lewer vir voorspellings gebruik is (vgl. bv. Eseg. 21:21).

Dit is duidelik dat bloed ‘n belangrike rol gespeel het in die offers waarvan ‘n gedeelte op die priesters gesprinkel is as getuienis van toewyding sowel as versoening. Dit herinner aan die bloed aan die deurkosyne by die Paasfees wat die volk beskerm het van die gevaar van God se toorn oor die sonde teen en afvalligheid van Hom.

Die salwing word in die Psalms ook as ‘n seën vir die hele Godsvolk geïnterpreteer: “Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop, die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere … Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën: ’n lang, lang lewe.” (Ps. 133:2-3)

Hierdie bevestigingsritueel sou die offerkultus inlui waarin die twee daaglikse offers ‘n belangrike rol sou speel, soos die laaste perikoop aantoon. Dié offers was ‘n getuienis van dankbaarheid vir God se sorg. Die uitvoering van al bogenoemde word in Num. 28:1-8 vertel.

‘n Bietjie geskiedenis: Dit is hierdie gereëlde brandoffer wat deur Antiogus IV Epifanes in 167 v.C. verbied is, en wat gelei het tot die Makkabese opstand soos Daniël voorspel het (Dan. 8:11–12; 11:31; 12:11)

Terug by die offers: In Levitikus word meer uitvoerig op dié offers uitgebrei. Dit het basies vier funksies gehad: toewyding, versoening, gehoorsaamheid en dankbaarheid:

  • Brandoffers vir versoening (Lev. 1:3–17; 6:8–13)
  • Graanoffers vir dankbaarheid (Lev. 2:1–16; 6:14–23)
  • Drankoffers vir dankbaarheid (Num. 15:1–10 = wyn)
  • Maaltydoffer vir dankbaarheid (Lev. 3:1–17; 7:11–21)
  • Dankoffer vir dankbaarheid (Lev. 7:12–15; 22:29)
  • Gelofteoffer as gehoorsaamheid (Lev. 7:16–17; 22:17–20)
  • Vrywillige offer vir dankbaarheid (Lev. 7:16; 22:18–23)
  • Sondeoffer vir versoening (Lev. 4:1–35; 6:24–30)
  • Skuldoffer vir versoening (Lev. 5:14–6:7)
  • Bevestigingsoffer vir toewyding (Lev. 8:22–30; Eks 29:19–34)

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: