Skip to main content

Jesaja 2

Geroep as ontmoetingsplek vir die nasies met God

Die hoofstuk word in drie dele opgedeel:

  1. ’n profesie oor die toekoms wat God in Sion vir die nasies skep – vers 2-5;
  2. ’n oordeel oor die volk wat hulleself met afgode verneder – vers 6-11;
  3. ’n oordeel oor die aarde wat selfs die afgode insluit – vers 12-22

Teks en konteks

Ons kry ’n stukkie ekstra inligting oor Jesaja in vers 1. Hy is die seun van Amos. Dit vorm deel van die openbaring (anders as in 1:1 word die woord dabar [woord] met die werkwoord sien verbind – letterlik: “Die woord wat Jesaja gesien het”) wat hy oor Juda en Jerusalem – ’n woordpaar wat gereeld in Jesaja voorkom – ontvang.

Vers 2-5 kom grootliks ooreen met ’n profesie van Miga in Miga 4:1-4. Miga was ’n tydgenoot van Jesaja. Let op hoe die volk opgeroep word in vers 5 om in die lig van hierdie openbaring, hierdie lig wat van die Here af kom, te lewe. En die visie wat God vir sy volk het, is om ’n blywende ontmoetingsplek vir die nasies met God te wees – iets wat alreeds aan Abraham beloof is (Gen 12:1-3).

Maar, dié roeping wat God vir sy volk het, het nie hulle harte en lewens in beweging gebring nie. Daarom dat die oordeel oor hulle in vers 6-11 aangekondig word wat hulle verstoting insluit. En die rede daarvoor lê in die feit dat die volk soos heidene geword het, en in towery en bygeloof verval het. Dit is egter gelukkig nie ’n finale woord oor of ewige verwerping van hulle nie (Paulus skryf ook daaroor in Romeine 9-11).

Dit alles mond uit in vers 12-22 op ’n finale oordeel oor die aarde wat moontlik Johannes se woorde in Openbaring 6 geïnspireer het, waarmee God sy unieke karakter en plek as God ten toon sal stel vir almal om te sien. En die afgode (nietighede) sal daarmee verdwyn. Die profesie sluit af met die toepassing, dat só ’n omvattende oordeel oor mense jou versigtig moet maak om op hulle te vertrou. Die Here is die enigste vaste punt waarop vertrou kan word.

Boodskap en betekenis

Jesaja verkondig hier reg aan die begin van sy boek dat God se volk in die toekoms slegs diegene sal insluit wat toegewy is aan Homself: “diensknegte van Jahwe.” Hulle sal kom uit die oorblyfsels van Israel, Jerusalem en die nasies.

Natuurlik hef dit nie die verkiesing van Israel as die volk van God op nie, want hulle was bedoel as die ontmoetingsplek met God waarna die nasies kon stroom. ‘n Visie wat ook geld vir die NT volk van God wat ‘n koninklike priesterdom is wat die verlossingsdade van God verkondig aan die nasies (1 Pet 2:9-10).

Maar, in die toekoms sal net diegene wat Hom dien, ingesluit word in die volk van God. God duld nie afgode nie. Hy duld geen gode langsaan Hom nie. Hy wil alleen aanbid word, en sal ‘n volk skep wat Hom alleen sal aanbid. En hulle sal kom uit die Noord- en Suidryk, sowel as uit die nasies.

Dit beteken dat die mense wat tradisioneel met God verbind is weens afkoms of godsdiens net deel van God se toekoms sal wees as hulle in die regte verhouding met Hom leef.

Die dag van sy oordeel oor ongehoorsaamheid geld vir die hele mensdom, insluitende die volk in die OT en die kerk in die NT.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.