Skip to main content

1 Konings 10:1-13; 2 Kronieke 9:1-12

Salomo geniet internasionale erkenning as God se keuse as koning

Die fokus skuif van Salomo se betekenis en invloed in sy eie land na die invloed wat hy op die wêreld rondom hom gehad het. Die eerste is die vermelding van die besoek van die koningin van Skeba in 1 Konings 10 sowel as in 2 Kronieke 9. Haar erkenning van Salomo as die keuse van God self as koning onderstreep die feit dat Salomo regtig ’n besondere koning was wat internasionale erkenning geniet het. Ook ander konings het hom besoek wat die skrywer laat opmerk: “Die hele wêreld het probeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor.”

Teks en konteks

Die koningin van Skeba se besoek in 1 Konings 10 beklemtoon die sekulêre en intellektuele invloed van koning Salomo, maar ook die geestelike impak wat hy gehad het.

Die koningin van Skeba het uit die suide gekom. Skeba hou moontlik verband met Dedan, ’n Noord-Arabiese nomadestam (vgl Gen 25:1–3), waarskynlik die gebied wat ons vandag ken as Jemen. Haar naam word nêrens in die Bybel genoem nie en die naam van haar landstreek, Skeba, moet eintlik as Sjeba gespel word. Só word dit in Hebreeus gespel, soos heelwat Engelse vertalings dit het (Sheba). Maar, ek bly by die Afrikaanse spelling, omdat selfs die 2020-vertaling dit steeds so spel.

Let op dat sy Salomo met die troon van God identifiseer (vers 8) en nie met Dawid s’n nie, soos dit in die Konings tradisie beskryf is. Die koningin van Skeba bevestig daarmee Salomo se wysheid en weelde as komende van God.

Die moeilike vrae wat sy aan hom stel was heel moontlik raaisels, ’n gewilde tydverdryf in die Midde-Ooste. Daar was egter geen saak vir die koning verborge nie, sê die skrywer, “geen saak waaroor hy nie vir haar ‘n verklaring kon gee nie.” Dit het “haar asem weggeslaan.”

Let veral op hoe die koningin van Skeba Salomo nie net loof vir sy wysheid en die prag en praal van sy koningskap nie, maar ook spesifiek vir God loof wat soveel liefde aan hom bewys het. Hoe mooi sê sy dit nie: “Kyk, die helfte is my nie vertel nie! In wysheid en welvaart oortref u die gerugte wat ek gehoor het. Hoe gelukkig is u manne, hoe gelukkig hierdie dienaars van u, hulle wat voortdurend in u diens staan, hulle wat u wysheid aanhoor! Die Here u God moet geprys word, Hy wat u so goedgesind is om u op die troon van Israel te plaas. Omdat die Here Israel altyd liefhet, het Hy u as koning aangestel om reg en geregtigheid te laat geskied.” (1 Kon 10:7b-9).

Sy het toe vir Salomo goud, speserye, edelstene, en sandelhout (of jenewerhout)  gegee as blyk van waardering. Veral die speserye word uitgesonder as ‘n besondere gawe sowel as die hout waarmee Salomo die tempel gebou het.

Koning Salomo het ook nie op hom laat wag nie, en haar alles gegee wat sy wou gehad het, meer as wat hy normaalweg met só ‘n besoek van ander konings sou gedoen het. Trouens, Kronieke sê: “meer as waarmee sy by die koning aangekom het.”

Interessant is dat haar landstreek ook soms as die Suide beskryf word (Matt 12:42) en ook met die Sabeërs geïdentifiseer is wat nie net aan die Suide van die Arabiese skiereiland by die Rooi See gebly het nie, maar ook reg oorkant die Rooi See op die vasteland van Afrika, die gebied wat ons vandag ken as Somalië en Etiopië, afstammelinge uit die nageslag van Gam en Kus (Gen 10:28).

Vandaar die Etiopiese tradisie dat sy ‘n kind by Salomo gehad het wat dan ook die eerste heerser van die Etiopiese koningshuis was. Die Bybel verskaf egter nie meer besonderhede oor die moontlike persoonlike interaksie tussen Salomo en die koningin nie. Net die mededeling dat hy vir haar alles gegee het wat sy gevra het.

Boodskap en betekenis

Salomo se impak was baie wyer as sy eie mense. Dit bewys die besoek van nie net die koningin van Skeba nie, maar ook al die ander konings wat hom besoek het. Sy rykdom was ook nie net intellektueel nie, maar was sigbaar in die prag en praal van die tempel en sy paleis. ‘n Goue tyd in die geskiedenis van Israel. In die volgende gedeelte gaan ons nog meer lees daarvan.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…