Skip to main content

2 Kronieke 10

Die ryk skeur weens die domastrantheid van Rehabeam

Van hoofstuk 10 af vertel Kronieke die verhaal van die oorblywende 20 konings van die suidelike ryk soos dit ontvou het na die skeuring van die ryk van Salomo, met terloopse verwysing na die konings van die noordelike ryk Israel. Onthou dit is ná die ballingskap geskryf waarin net die Suidryk weer selfstandig gefunksioneer het in Israel.

Altesame was daar 24 konings (4 van hulle was natuurlik koning oor die hele Israel) in die Suidryk wat oor ’n tydperk van 500 jaar vir Juda regeer het van ongeveer 1097 v.C. tot met die ballingskap in 586 v.C. (lys in vorige bydrae). Ek sal ook aan die einde van ons leeswerk in Kronieke ‘n opsomming gee van die oordeel van Kronieke oor hierdie konings.

Teks en konteks

2 Kronieke 10 neem die verhaal van 1 Konings 12 en vertel dit met enkele uitbreidings en veranderings van sy eie. Interessant genoeg word net een seun van Salomo in die Bybel genoem, Rehabeam. En dit is betekenisvol dat hy die seun van Naäma was, ’n Ammoniet (1 Kon 14:21; 1 Kron 12:13), een van die volke uit Noordwes Arabië waarteen die Here hulle gewaarsku het (Deut 23:6 ).

Die Kronieke skrywer wy egter nie hieroor uit nie, hoewel die Konings skrywer nie doekies omdraai oor die gevare van dié verbintenisse nie en die val van Salomo aan sy blootstelling aan vreemde gode wyt. Waarskynlik het Naäma vir Salomo en haar seun blootgestel aan Milkom, die afskuwelike god van die Ammoniete. Ons lees in 1 Konings 11: 4Veral in sy ouderdom het Salomo se vrouens hom verlei om ander gode te dien. Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa nie. 5Hy het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike god van die Ammoniete, gedien.”

Dit bly egter steeds tragies dat die hele Israel ten spyte van alles– selfs Jerobeam ook, al het hy ‘n belofte van die Here dat dié hom koning wil maak – Rehabeam as koning wil kroon in Sigem, en hy hulle aanbod in die wind slaan. Die skeuring van die ryk kom op ‘n geestelike vlak van God af as straf vir Salomo se sonde, maar op ‘n sosiale vlak van die domastrantheid en arrogansie van Rehabeam af. Die seun van die wysste koning tree met uiterste dwaasheid op. Hoe ironies!

Die Kronis stel dit so: “Die koning het nie aan die versoek van die volk voldoen nie. Dit was ‘n beskikking van die Here God, sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het.” God beloon die (op hierdie stadium) nederige Jerobeam deur Sy belofte vir hom in vervulling te laat gaan en sy koningskap word in die einste Sigem bevestig. Hy skuif later na Pniël (1 Kon 12:25) en rig verdere heiligdomme op in Bet-El en Dan as teenvoeter vir die tempel in Jerusalem.

Let op dat Rehabeam wel wyd raadpleeg – die ouer mense en die jonger mense – maar nie die Here nie. Daarom beleef hy die skande van rykskeuring. Hy bring die oordeel dus oor homself weens sy eie dade. Dit is nie ‘n noodlot waaraan hy uitgelewer is nie. Hy kan net homself en sy swak oordeel blameer.

Só het die hele Israel dus in opstand gekom teen die koningshuis van Juda. “Kyk nou maar na jou eie huis, Dawid!” word Rehabeam toegesnou deur na die ryk van sy oupa te verwys. Rehabeam het selfs byna omgekom in die opstand. Dié kloof wat hier tussen die onderlinge stamme van Israeliete ontstaan het, sou deur die eeue net groter en groter word en nooit weer oorbrug word nie.

Boodskap en betekenis

Die verhaal van Rehabeam gee ‘n mens ‘n kykie in die wyse waarop God sy wil uitwerk in en deur die wil van mense. Rehabeam kry die regte raad van die oudstes, maar slaan dit op arrogante wyse in die wind op grond van die verkeerde raad van die jonges. Maar, dit is deel van die plan van die Here om deur Rehabeam se dwase keuse sy belofte aan Jerobeam (en natuurlik sy oordeel oor Salomo) in vervulling te laat gaan.

Soos Salomo gesê het:

“Afstootlik vir die Here is elkeen met ‘n hoogmoedige hart; dit staan vas: So iemand sal nie ongestraf bly nie.” (Spr 16:5) en…

“Die hart van ‘n mens beplan sy pad, maar die Here bepaal sy voetstappe.” (Spr 16:9)

Rehabeam se selfverheffing kom hom duur te staan. Waar hy gedink het dat sy planne vir hom voorspoed sal bring, gebeur presies die teenoorgestelde, omdat die Here dit bepaal.

2 Kronieke sal nog ‘n positiewe geluid laat hoor oor Rehabeam in hoofstuk 11-12, maar op hierdie stadium loop Rehabeam ‘n dwase pad.

Oorsig van die konings van die Suidryk

Die eerste vier konings

Die eerste vier konings van die verenigde Israel was natuurlik:

  • Saul1ste koning – die lengte van sy regering is onseker omdat dit nêrens in die OT aangegee word nie; dit is duidelik uit 1 Sam 13:1 dat ‘n getal ontbreek in die verwysing na die tyd van sy regering in die grondteks, daar staan letterlik net twee. Dit kan beteken dat die skrywer wil aantoon dat hy al vir twee jaar geregeer het. Paulus sê dat Saul 40 jaar geregeer het (Hand. 13:21) – regeringstyd 40 jaar (1051-1011 vC – vgl Faithlife Corporation. 2020. Bible & world history together. Logos: Bellingham).
  • Isboset2de koning – Saul se seun (ook Is-Baäl genoem) was net vir ’n kort rukkie koning en is deur 2 bendeleiers doodgemaak; hy word egter deur die Kronis ignoreer– regeringstyd 2 jaar – 1011-1009 vC).
  • Dawid3de koning – die koning God se hart wat die grondlegging gelê het vir die Dawidiese dinastie wat tot in die NT sy invloed sou uitoefen en natuurlik die ark na Jerusalem teruggebring het en die aanvoorwerk vir die bou van die tempel gedoen het – regeringstyd 40 jaar (1011-971 vC).
  • Salomo4de koning – die koning mét God se hart wat al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid en veral bekend geword het vir die tempel wat hy in Jerusalem gebou het – regeringstyd 40 jaar (970-930 vC).

Agt konings wat ‘n goeie beoordeling kry

Net 8 van die konings van Juda word in oorwegend positiewe terme beskryf. Dit sluit die 2 vroeëre konings van 1 Kronieke in, Dawid en Salomo:

  • Abia6de koning – seun van Rehabeam; hy het op God gesteun in die oorlog teen Jerobeam van Israel en oorwin; die Here het sy mag laat toeneem, al was sy regeringstyd kort – regeringstyd 3 jaar (913-910 vC).
  • Asa7de koning – hy het soos sy pa Abia die Here gedien, godsdienstige hervormings aangebring, en die Here het hom in oorlog gehelp, hoewel hy ongelukkig ook teen die Here se wil ’n verdrag met die Arameërs gesluit het – regeringstyd 41 jaar (eintlik 39 jaar, want die laaste twee jaar het Josafat begin regeer weens sy pa se siekte – 910-873 vC).
  • Josafat8ste koning – hy het die Here gedien soos sy pa en oupa, Abia en Asa, anders as sy pa Asa geveg téén die Arameërs en oorwin en word ook onthou dat hy die regspraak gereël het, hoewel aan die einde van sy regering hy weer ’n dwase ekonomiese vennootskap met koning Ahasia van Israel gesluit het – regeringstyd 25 jaar (873-852 vC).
  • Jotam15de koning – hy het sy pa Ussia (ook Asarja genoem) opgevolg in die tyd van die profeet Jesaja en gedoen wat reg is in die oë van die Here, hoewel die Kronis uitlaat dat hy tog die volk met afgodsdiens laat voortgaan het en in die oordeel van die skrywer van Konings tog foute gehad het – regeringstyd 16 jaar (742-735 vC).
  • Hiskia17de koning – seun van Agas; ‘n baie goeie koning wat veral vir sy tempel skoonmaak en herorganisasie projekte, die herinstelling van die Paasfees en die oorwinning oor Sanherib van Assirië onthou word; hy was egter ook uiteindelik te ingenome met homself en moes die prys daarvoor betaal – regeringstyd 29 jaar (715-686 vC).
  • Josia20ste koning – seun van Amon; hy was maar 8 toe hy koning geword het en was regtig ’n goeie koning wat die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk het nie; hy het ook die tempel herstel, maar word veral onthou vir die wetboek wat hy daar ontdek het en onder begeleiding van die profetes Gulda prakties kon interpreteer en in werking stel wat tot ’n hernude verbondsluiting gelei het; hy het ook ’n groot Paasfees gehou, maar tog een oordeelsfout gemaak in ’n geveg met Neko van Egipte en sy lewe verloor; daar is wyd oor hom getreur met selfs ’n treurlied wat Jeremia oor hom gedig het – regeringstyd 31 jaar (639-609 vC).

Veertien konings wat in meer negatiewe terme beskryf word

Die ander 14 konings word in meer negatiewe terme beskryf omdat hulle op mindere of meerdere wyse die Here nie gedien het soos hulle moes nie. Hulle was:

  • Rehabeam5de koning – seun van Salomo; deur sy hardvogtige hantering van die leiers en sy ontrou aan die Here skeur die ryk van Israel in twee – regeringstyd 17 jaar (930-913 vC).
  • Joram9de koning – seun van Josafat; hy het die Here nie gedien nie, onder andere weens ’n troue met ’n dogter van koning Agab en koningin Isebel, waarop Elia, die profeet, hom in ’n brief bestraf het en die Here hom met ’n ongeneeslike siekte getref het – regeringstyd 8 jaar (852-841 vC).
  • Ahasia10de koning – seun van Joram; hy was al 42 toe hy koning geword het, maar het ongelukkig die pad van sy pa gevolg en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en is deur Jehu in opdrag van Elia doodgemaak – regeringstyd 1 jaar (841 vC).
  • Atalia11de koning – ma van Ahasia; sy was die koningmoeder, die enigste vrou op die troon van Juda, wat al die ander aanspraakmakers op die troon laat doodmaak het, maar deur die priesters uitoorlê is met die beskerming van een van die aanspraakmakers, Jehoas/Joas, en uiteindelik deur Jojada doodgemaak is – regeringstyd 6 jaar (840-835 vC).
  • Jehoas/Joas12de koning – seun van Ahasia wat as baba deur een van die prinsesse, Jehoseba, gegryp en weggevat is toe Ahasia se ma, Atalia, al die aanspraakmakers op die troon in Juda laat doodmaak het en letterlik in die tempel versteek is vir 6 jaar tot die priester Jojada opgetree en in die sewende jaar hom as koning laat verklaar het en Atalia laat doodmaak het; hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here, die tempel laat herstel waar hy na alles grootgeword het, maar ook geval vir die vleitaal van die leiers en die seun van Jojada ná dié se dood laat vermoor, waarna God Jehoas gestraf het deur die Arameërs – regeringstyd 40 jaar (835-796 vC).
  • Amasia13de koning – seun van Jehoas; hy was aanvanklik ’n goeie koning, het die dood van sy pa gewreek, maar hy het nie met sy hele hart gedoen wat reg is in die oë van die Here nie en veral dwaas teen die profete opgetree en moes dit ontgeld dat die Here teen hom gedraai het – regeringstyd 29 jaar (796-767 vC).
  • Ussia14de koning – seun van Amasia; hy het op 16 jarige ouderdom koning geword, ook die naam Asarja gehad en was ‘n goeie koning, het ’n lang regeringstyd gehad, maar het uiteindelik te ingenome met homself geword en aanmatigend teenoor die Here opgetree en sy einde melaats tegemoetgegaan – regeringstyd 52 jaar (792-742 vC).
  • Agas16de koning – seun van Jotam; hy het die Here regtig uitgetart met die offers op die hoogtes en is nie in die begraafplaas van die konings begrawe nie; in sy tyd is die noordelike ryk van Israel ook in ballingskap weggevoer tydens die regering van Hosea van Israel – regeringstyd 16 jaar (735-715 vC).
  • Manasse18de koning – seun van Hiskia; hy het gruwelike sondes gedoen, is daarvoor gestraf, maar op sy berou en gebed het die Here hom begenadig – regeringstyd 55 jaar (686-642 vC).
  • Amon19de koning – seun van Manasse; hy het nog meer misdade begaan as sy pa en is in ’n sameswering doodgemaak deur van sy amptenare – regeringstyd 2 jaar (642-640).
  • Joahas21ste koning – seun van Josia; op 23 jarige ouderdom het hy koning geword, maar sy koningskap het net 3 maande gehou toe Egipte hom as koning afgesit het – regeringstyd 3 maande (609 vC).
  • Jojakim22ste koning – broer van Joahas, wie se naam eintlik Eljakim was en deur die Egiptiese koning aangestel is met ‘n naamsverandering na Jojakim toe. Hy het die Here egter nie gedien nie en is deur Nebukadnesar in ballingskap geneem in 597 v.C. – regeringstyd 11 jaar (609-598 vC).
  • Jojagin23ste koning – seun van Jojakim (Eljakim); hy was maar 18, het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en is ook weggevoer na Babel na slegs 3 maande, hoewel hy volgens Konings tog begenadig is in ballingskap en ’n hoër status as die ander konings geniet het – regeringstyd 3 maande (598-597 vC).
  • Sedekia24ste koning –seun van Jojakim, broer van Jojagin; hy is op 21 gekroon, maar word, soos sy broer Jojagin, ook in ballingskap weggevoer in 586 v.C., omdat hy ook gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, saam met ’n hele aantal van Juda; hy is baie slegter behandel deur Nebukadnesar, sy kinders is doodgemaak in sy teenwoordigheid, en sy oë uitgesteek; hy is in bronskettings Babel toe – regeringstyd 11 jaar (597-686 vC).

Oorsig van die konings van die Noordryk

  1. Jerobeam (22 jaar – 930-909 vC) was ‘n Efraimiet, uit die stam van Josef, wat Salomo met sy hardwerkendheid beïndruk het en aangestel is oor die dwangarbeiders. Agija, ‘n profeet uit Silo, kry die opdrag van die Here om Jerobeam oor die 10 stamme in die noorde aan te stel. Die Here belowe ook vir Jerobeam dat hy hom sal seën “soos vir Dawid”, ‘n ware grootse belofte, as hy sal doen wat reg is in God se oë. As Jerobeam maar net geluister het… maar hy verhef homself uiteindelik ook self teen die Here. Hoe jammer! Jerobeam se koningskap oor die 10 stamme word deur ’n volksvergadering bevestig. Maar sy poging om beheer ook van die godsdienstige lewe van sy volk te neem, lei tot ’n dwase keuse om twee goue kalwer beelde te maak wat in die twee heiligdomme Betel (suide – vgl Gen 12:8: Abraham) en Dan (noorde) opgerig word as teenvoeter vir die tempel in Jerusalem, wat Israeliete drie keer ’n jaar vir die pelgrimsfeeste (Paasfees, Pinksterfees, Huttefees) besoek het. Daarmee oortree hy egter die wet van die Here, soos Aäron lank tevore. Die Israeliete volg hom in die aanbidding op die hoogtes en by die twee heiligdomme. Selfs priesters uit ander stamme word aangestel teen die voorskrifte van die Here. Jerobeam word daarmee ’n voorbeeld van afvalligheid van die Here, al was dit die Here wat hom die koningskap gegee het. Net soos Salomo, verkwis hy die gawe van die Here aan hom. Jerobeam vergestalt daarmee vir die skrywer van Konings alles wat verkeerd is met die Israelitiese konings, omdat hulle aandadig was aan die spreekwoordelike: “sondes wat Jerobeam die seun van Nebat vir Israel laat doen het.” (2 Kon 15:26; 16:26, 30 ens)
  2. Nadab, seun van Jerobeam, was, soos ’n mens nou al verwag in die Noordryk, ’n ongehoorsame koning. Sy kortstondige regering (909-908 vC) word beëindig deur Baesa wat in ’n veldtog teen die Filistynse stad Gibbeton vir Nadab om die lewe bring. Dit lei tot ’n familiemoord, waar al die nasate van Jerobeam uitgeroei word, presies soos Agija van Silo voorspel het (dit is ’n ander Agija as Baesa se pa wat ook die naam Agija dra).
  3. Baesa word koning in die plek van Nadab (908-886 vC – dit is die derde jaar van Asa se regering), maar vertoorn ook die Here, deur nie die kans wat die Here hom gee met erkenning aan God aan te gryp nie en dieselfde dwase afgodery as Jerobeam te bevorder. Weereens word die oordeel van die Here oor hom en sy hele huis uitgespreek, dié keer deur Jehu, seun van Ganani, waarvan ons nie veel af weet nie, behalwe dat hy blykbaar ook ’n skrywer was (2 Kron 20:34). Die enigste positiewe kommentaar oor Baesa was dat hy dapper was.
  4. Ela, sy seun, word na hom koning, maar regeer net 2 jaar (886-885 vC) voordat een van sy onderdane, Simri, die aanvoerder van die helfte van die strydwa-mag, teen hom saamsweer. Ela klink na ’n dronklap koning en word op sy beurt in sy paleis vermoor.
  5. Simri volg Ela op maar regeer net 7 dae lank voor hy deur Omri, die hoof van die leër, om die lewe gebring word (885 vC).
  6. Omri volg Ela op, maar dit is opmerklik dat, anders as met die ander konings tot dusver in Israel, dit die volk is wat Omri tot koning uitroep (885-874 vC). Dit is baie betekenisvol in die lig van die latere vereniging van die noordelike volk, hoewel die Konings skrywers nie baie van hom as koning dink nie, weens sy afgodediens. Omri se koningskap is die begin van ’n dinastie of koningshuis, deurdat sy seun Agab hom hierna opvolg as koning van Israel. Uit ’n politieke hoek was hy ’n gerekende koning, wat ook in buite-Bybelse bronne saam met Agab vermeld word. Hy het dit reggekry om binne 12 jaar die 10-stammeryk te verenig en ’n pragtige hoofstad vir hulle te vestig in Samaria, een van die weinige stede wat van nuuts af deur Israel gebou is. Die Assiriërs verwys bv ’n 150 jaar na sy dood nog na Israel as die “land van Omri” en hy word op ’n Moabitiese stele (steen met inskripsies) vermeld. Maar Omri loop geestelik dieselfde pad as Jerobeam en die vorige konings van die Noordryk wat die Here met hulle afgodsbeelde uittart. Daarom staan die Konings skrywers baie min spasie aan hom af.
  7. Agab volg sy pa Omri op en regeer 22 jaar – 874-853 vC. Hy is nie net so afvallig is soos sy voorgangers nie, maar het nog verder gegaan en Israel intensief aan die Baälgodsdiens blootstel, veral nadat hy met Isebel, die dogter van Etbaäl van Sidon trou. Dit wil selfs voorkom asof hy vir Giël van Bet-El toelaat om teen die wil van die Here Jerigo te herbou (Jos 6:26) met tragiese gevolge vir Giël se kinders. Die Here stuur egter sy profeet Elia om die afvalligheid aan te spreek en die volk tot bekering en aanbidding van Hom alleen op te roep deur die wonders en tekens wat sy beheer oor die natuur en die geskiedenis demonstreer.
  8. Ahasia, die seun van Agab, word in Samaria koning oor Israel in die sewentiende regeringsjaar van Josafat, die koning van Juda. In sy kort regering van twee jaar kry hy dit reg om die Here werklik te vertoorn deur in die weë van sy voorouers te wandel en die Here te tart met sy aanbidding van Baäl. Ahasia sterf soos die Here deur sy profeet aangekondig het.
  9. Joram (852-841 vC), het in sy broer Ahasia se plek koning geword, want Ahasia het nie ‘n seun gehad nie. Interessant genoeg is dit dus naamgenote wat in dié tyd oor beide Israel en Juda heers, want Josafat se seun wat hom opvolg het dieselfde naam, Jehoram (848-841 vC). Joram is ‘n verkorte spelling van Jehoram, wat op verskillende wyses in vertalings weergegee word. Hy het 12 jaar regeer.
  10. Jehu regeer 28 jaar jaar – 841-814 vC – nadat hy deur Elisa gesalf is om die huis van Agab, die Omri-dinastie, te vernietig. Hy het almal wat ’n regmatige aanspraak op die troon gehad het – saam met regeringsamptenare, priesters en familievriende – op grusame wyse uitgewis. Na Jehu die hele huis van Agab doodgemaak het, vernietig hy ook alle spore van Baäl-aanbidding in Samaria. Maar hy het op die koop toe byna die Dawid-huis saam met die Agab-huis uitgewis! Hoewel die Here steeds genade vir Jehu en sy nageslag bewys, kon die Here nie verby die ernstige gebreke in sy karakter en gehoorsaamheid kyk nie. Ook nie verby die sondes van sy nageslag nie, want hoewel die vierde koning uit sy nageslag, Jerobeam II (786-746 vC), hulle grondgebied weer kon uitbrei – Jona tree in sy tyd op – het hy steeds gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.
  11. Joagas/Joahas regeer vir 17 jaar – 817-800 vC – waarvan 3 jaar saam met sy pa Jehu. Beide Israel en Juda (hfst 12) ly in hierdie tyd onder Gasael van die Arameërs, soos Elisa voorspel het. Maar Joagas van Israel, ten spyte daarvan dat hy voortgegaan het om sonde te doen, smeek die Here om genade. En die Here verhoor sy gebed en verlos hulle: “want Hy het die verdrukking van Israel raakgesien.“ Maar, daar word steeds negatief oor sy lewe geoordeel, omdat hy in die weë van Jerobeam gewandel het, en, wil dit voorkom, weer ’n Asjerabeeld in Samaria opgerig het, nadat Jehu dit vroeër verwoes het.
  12. Joas, sy seun het 16 jaar regeer– 800-786 vC. Hy doen selfs ‘n bietjie beter as sy pa deurdat hy Gasael se seun Ben-Hadad drie maal verslaan, en ‘n hele aantal dorpe teruggewen het vir Israel. Wat ons leer dat die Here se genade groter is as sy oordeel. Hy red hulle telkens weer ter wille van die verbond wat Hy met Abraham, Isak en Jakob gesluit het. Op Elisa se sterfbed is daar ’n roerende ontmoeting van hierdie koning met Elisa, waar Joas Elisa as die leier par excellencevan Israel met trane geëer het: “My vader, my vader,strydwa van Israel en sy perde.” (2 Kon 13:14). Elisa was soos ‘n een-man weermag van God vir Israel.
  13. Jerobeam II word met die dood van sy pa, Joagas, koning van Israel. Hy geniet ’n baie lang regeringstyd (41 jaar – 786-746 vC). Trouens, hy was heel moontlik polities-gesproke hulle beste koning, ten spyte van die feit dat hy steeds, soos sy voorsate, doen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Konings skrywers dig darem een goeie ding aan hom toe, die herstel van ’n groot deel van die Dawidiese grense van Israel, wat Damaskus (histories gesproke het hulle weer ’n handelsarea daar gehad) en Hamat van die Arameërs weer onder Israelitiese gesag gebring het. Hierdie prestasie word egter steeds toegeskryf aan die genade van die Here wat deur die profesie van die profeet Jona aan Israel verkondig is. Konings vertel dit so: “Die Here het immers gesien dat die ellende van Israel baie bitter was. Dit was klaarpraat met wie gevange geneem is en wie vrygelaat is; en daar was geen helper vir Israel nie. Die Here het nie te kenne gegee dat Hy Israel se naam onder die hemel sou uitwis nie, en Hy het hulle verlos deur die hand van Jerobeam, seun van Joas.” Maar, die oorwinning het ekonomiese welvaart gebring wat tot ’n groot kloof tussen ryk en arm sou lei, wat veral deur die profeet Amos aangespreek is. Amos se voorspelling dat Jerobeam II deur die swaard sou val (Amos 7:11) word wel nie vir hom waar nie, maar wel vir sy seun, Sagaria (2 Kon 15:10).
  14. Sagaria, seun van Jerobeam II, het in teenstelling met Ussia van Juda, net 6 maande geregeer in Samaria voor hy deur…
  15. Sallum vermoor is, net soos die Here voorspel het aan Jehu: “Daar sal vir jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.” (6 maande – 746 vC). Sallum is op sy beurt na net meer as ’n maand deur…
  16. Menahem vermoor (10 jaar – 746-736), ’n besonder wrede koning, wat selfs swanger vroue laat oopsny het. Hoe treffend beskryf die profeet Hosea dié tyd: “Waar is jou koning dan nou? Laat hy jou help in al jou stede! Waar is jou regeerders van wie jy gesê het: ‘Gee vir my ’n koning en amptenare’? ‘Ek gee vir jou ’n koning in my toorn en Ek vat hom weg in my woede!’” (Hos 13:10-11)

En die oordeel van die Here word in geen onsekere taal uitgespreek nie: “Hulle het hulle eie konings aangestel sonder my goedkeuring, hulle het leiers aangestel wat Ek nie erken nie. Hulle het vir hulleself afgodsbeelde gemaak van hulle silwer en goud, maar dit sal vernietig word. Samaria, jou goue kalf is afstootlik! My toorn het losgebreek teen Samaria. Hoe lank sal hulle voortgaan om onrein te bly as hulle dan deel is van Israel? En daardie ding, dit is deur ’n ambagsman gemaak, dit is nie ’n god nie! Van die kalf van Samaria sal daar net splinters oorbly.” (Hos 8:4-6).

’n Groot wêreldmag was egter aan die opstaan, die Assiriërs, onder leiding van Pul (2 Kon 15:19) of Tiglat-Pileser III (2 Kon 15:29), wat ’n ander beleid as vorige maghebbers gevoer het. Hulle het telkens mense in ballingskap weggevoer om die gebiede wat hulle verower het, onderdanig te hou. Menahem moes aan hom belasting begin betaal wat eintlik die skrif aan die muur was vir die Noord-ryk.

  1. Sy seun Pekahia (2 jaar – 736-735 vC) is na net twee jaar deur ’n sameswering van sy koningskap beroof deur ’n adjudant van hom…
  2. Peka, wat 20 jaar in Samaria geregeer het. In sy tyd het Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, alreeds ‘n klomp gebiede verower (Ijon, Abel-Bet-Maäga, Janoag, Kedes, Gasor, Gilead en Galilea), en die hele gebied van Naftali, en die inwoners weggevoer na Assirië (hy moes saam met van die vorige konings regeer het om die kronologie te laat inpas – tot min of meer 731 vC). Totdat ook Peka vermoor is in ’n sameswering deur…
  3. Hosea (die koning, nie die profeet nie), in wie se tyd die finale wegvoering in ballingskap gebeur het, waarvan ons in 2 Konings 17 lees (9 jaar – 731-722 vC).

Skrifprofete

Terloops, in die tyd van die laaste sewe konings van Israel het die eerste vyf Skrifprofete ook opgetree:

  • Die Skrifprofeet Jona (786-746 vC) word vermeld in 2 Konings 14 en in die Bybelboek Jona, en het opgetree in Israel in die tyd van Jerobeam II, die eerste koning van Israel in die 8ste eeu.
  • Die Skrifprofeet Amos die skaapboer van Tekoa (762-746 vC), het net hierna opgetree in Juda in die tyd van Jerobeam II en later in die tyd van Ussia (Amos 1:1).
  • Die Skrifprofeet Hosea (758-722 vC) tree in dieselfde tyd as Jesaja op van die tyd van Ussia tot en met dié van Hiskia van Juda sowel as in die tyd van Jerobeam II van Israel (Hos 1:1).
  • Die Skrifprofeet Jesaja (wie se pa ook Amos genoem is) het oor ’n besonder lang tyd opgetree (742-681 vC) in die tyd van vier van die konings van Juda: Ussia, Jotam, Agas en Hiskia. Sy beroemde visie op God in Jesaja 6 is juis in die sterfjaar van die melaatse Ussia ontvang.
  • Die Skrifprofeet Miga (742-686 vC) het opgetree in die tyd van Jotam, Agas en Hiskia in Juda (vgl Jer 26:18; Miga 1:1), maar moet onderskei word van die vroeëre profeet wat in Agab se tyd opgetree het (1 Kon 22; 2 Kron 18).
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…