Skip to main content

Psalm 73

God is my krag en erfenis

Die derde boek van die Psalms (Psalms 73-89) veronderstel meesal die ballingskap en val van Jerusalem – 6de eeu vC – met die vrae en dreigende wanhoop wat dit in die lewe van die volk opgeroep het. Dit is diep en donker wroeginge oor die toekoms, waarin die voorspoed van die onregverdiges en goddeloses tot baie vrae en worstelinge aanleiding gee. Ons vind hier dus meesal Klaagpsalms.

Psalm 73 is een van die Psalms van Asaf wat een van die sangleiers was wat Dawid aangestel het om die sangerstradisie in Israel te begin. Dawid het aanvanklik twee Leviete aangestel om die sang waar te neem voor en in die huis van die Here, die tabernakel van sy tyd, of soos dit in Kronieke genoem word, die “tent van ontmoeting”. Die manne was Heman en Asaf. Jedutun is later tot dié getal bygevoeg (1 Kron 25:1).

Asaf en sy nasate was waarskynlik die meer produktiewe digter van hierdie aanstellings. Ons het 12 Psalms van Asaf in die Bybel (Ps 50 en die reeks in Ps 73-83 wat hierdie 3de Psalmboek inlui). Die feit dat Asaf so produktief was, hou interessant genoeg verband met die betekenis van sy naam, nl, die “versamelaar”.

Hierdie sangleiers was natuurlik ook bedrewe musikante. Asaf was bv bedrewe met kopersimbale (1 Kron 15:19; 16:5) iets waarmee die Asafgroep, benewens hulle sang (Neh 7:44), mettertyd geïdentifiseer is (Esr 3:10).

Daarbenewens het Asaf, Heman en Jedutun ook soms as profete opgetree, onder begeleiding van liere, harpe en simbale, soos ons in 1 Kronieke 25:1 lees. Hulle het dus gepreek sowel as gesing!

Asaf se nageslag het nie net ‘n rol in die eerste Jerusalem-tempel gehad nie, maar ook in hierdie latere tweede tempel (2 Kron 20:14; 29:13; 35:15; Esra 2:41; Neh 7:44).

Omdat die Psalms van Asaf só ‘n hegte eenheid vorm, en sommige van hulle duidelik ná die ballingskap geskryf is, hanteer ek hulle hier as ‘n eenheid. Psalm 80 het ek egter al hanteer, omdat dit duidelik met die eerste ballingskap in 722 vC van die noordryk verbind word.

Teks en konteks

’n Paar opmerkings oor die teks:

Vers 1 en 13 – Rein van hart is ‘n baie belangrike merker in die teks wat in vers 1 en 13 voorkom. In die grondteks (2014 vertaling) staan daar in vers 1: “God is waarlik vir Israel goed, vir hulle wat rein harte het.” In vers 13 staan daar: “Ja, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas.” Die 1983 vertaling vertaal “rein van hart” egter met “kwaad vermy” wat vir my ’n ongelukkige vertaling is, omdat ’n mens dan die skakel na die Bergrede kan mis. Dit is vir my baie betekenisvol dat ’n mens vanuit die grondteks kan sien dat Jesus by hierdie gedagte van “reinheid” aansluit in die Bergrede met die sesde saligspreking: “Geseënd is dié wat rein/suiwer van hart is, want hulle sal God sien.” (Matt. 5:8).

Vers 3 – die woord “vrede” word gebruik vir die welvaart of voorspoed van die goddelose, hoewel albei vertalings kies om dit met “voorspoed” te vertaal.

Vers 4 – die vertaling “kwellings” dui op beperkings (bande of toue soos in Jes. 58:6). Die 1984 vertaal met “sorge”.

Vers 13-14 – “Dat ek die kwaad vermy het en met ’n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf.” Ten diepste is dit dus God se regverdigheid wat bevraagteken word. Die 1984 vertaling vertaal: “Ja, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Ek is die hele dag geteister; my kastyding was in die oggend reeds daar.” Die hande wat in onskuld gewas is, verwys na die rituele reiniging by die tempel. Watter ironie dat Pilatus dit ook gedoen het, maar tot sy ewige skande.

Vers 15-17 – let op hoe belangrik beide die persoonlike – ek het toe diep nagedink om dit te probeer verstaan – en die korporatiewe nadenke in die heiligdom van God vir die Psalmis is. Dit is in jou eerlikheid oor jou persoonlike ervarings, sowel as in jou leerbaarheid in die gemeenskap van die gelowiges wat die insig wat God gee, begrip en berusting bring. Want dit is in die tempel waar die gelowige blootgestel is aan die openbaring van God soos dit bv. uitgedruk is in Psalm 1, 12, 37, 112 waarin die lot van die goddelose beskryf word. Dit het hom begrip en berusting gegee. Dit het hom ook van God se regverdigheid oortuig. Gerus iets wat ons oor kan nadink in terme van ons eie byeenkomste.

Vers 18-20 – Let op God se aktiewe rol in die val van die goddelose. Dit is beide ’n waarskuwing as ’n gerusstelling.

Vers 21-22 – die 2014 vertaling sê dit so mooi: “Toe my hart aan die gis was en my niere deurboor, was ek dom en sonder begrip; ek was ‘n dier teenoor U.” Die hart is as die setel van die denke en die niere die setel van die emosies en soms ook van die gewete beskou.

Vers 23-24 – die 2014 sê: “En tog was ek altyd by U; U het my regterhand vasgehou. Deur die raad wat U gee, lei U my, en daarna neem U my eervol weg.” Let op hoe die Psalmis sy nabyheid aan die Here ten diepste wyt aan die hand van die Here wat hom vashou. Dit is God se nabyheid en raad wat hom op sy pad begelei (vgl. Ps. 1). Die Hebreeus vir die laaste reël lui: “en daarna sal u my na heerlikheid neem” wat op vergelding nou of in die lewe hierna kan dui.

Vers 25 – die ervaring van God se nabyheid en begeleidende raad laat hom besef, God is sy lewe, in die hemel en op aarde. Hy begeer niks anders nie. Dink aan die Ons Vader en Paulus se gedagtes in Fil. 1.

Vers 26 – interessant dat die Psalmis sê dat sy liggaam en hart maar kan wegkwyn, dws dat sy ekonomiese en intellektuele vermoë kan minder word, want dat hy steeds kan vertrou op God as die rots van sy hart, die een wat sy gedagtes beskerm, en die Een wat sy erfdeel is, die een wat sy ekonomiese stabiliteit verseker. Die “rots” dui op ‘n hoë plek waar gevaar nie kan kom nie, metafories toegepas op sy hart (gedagtes) wat nie deur angs van stryk gebring word nie. Die erfdeel (“my deel“) dui op die stukkie grond wat hy (en sy nageslag) nodig het om ekonomies as deel van die volk van God te kan oorleef.

Vers 27 – die 2014 vertaling sê: “want kyk, dié wat ver van U af is, gaan ten gronde; U vernietig dié wat aan U ontrou is.” Die goddeloses se onbetroubaaheid word hier in huweliksterme as ontrou of owerspel beskryf. Dit herinner ons aan hoe intiem ons verhouding met God is, en hoe intiem Hy daaroor dink.

Vers 28 – die 2014 vertaling sê: “Maar wat my betref, die nabyheid van God is vir my goed.” Hoekom? “Ek het my Heer, die HERE, my skuilplek gemaak.” En die gevolg? ” sodat ek van al u werk kan vertel.” God se teenwoordigheid lei altyd tot getuienis.

Ekstra: Die Westminster Larger Catechism (Presbiteriaanse kerk) se eerste vraag lui: “What is the chief and highest end of man?” Die antwoord is: Man’s chief and highest end is to glorify God, and fully to enjoy him forever.” As Skrifverwysing by die “enjoy him forever” word onder andere Psalm 73:24-28 aangegee.

Boodskap en betekenis

Psalm 73 is ongelooflik relevant vir almal wat die pad met die Here onwrikbaar wil stap, maar aan allerlei beproewinge in die lewe en uitdagings en versoekings van binne en buite blootgestel word. Dié dinge is soos die versoekings in die woestyntyd (Matt. 4) wat die Here Jesus self aan die begin van sy bediening deurgemaak het, waarin Hy gebrei is deur die versoeker, die duiwel, sodat Hy sterk kon staan tydens sy bediening en die lydenspad uiteindelik tot die einde kon deurstaan.

God is waarlik goed vir sy mense. Daar is geen twyfel daaroor nie. Hy is goed vir dié wat rein van hart is, wie se motiewe suiwer is, wie sonder bybedoelings lewe … maar dít kan jy net beleef en bely as jy, saam met God se mense, jou hart rein hou deur na Hom te bly kyk en in sy teenwoordigheid te bly leef.

As jy val vir die versoeking om na die voorspoed (vrede) van die verwaande goddeloses te kyk, en jaloers raak op hulle oënskynlike sorgelose oorvloedige welvaart, sal jy God se goedheid juis miskyk, sy goedheid en regverdigheid begin bevraagteken, en vol bitterheid raak oor die lewe se ongelykhede en die teistering van teëspoed waaraan gewone mense uitgelewer is.

Op die langtermyn kry goddeloses hulle verdiende loon. Sonder God struikel goddeloses op die einste Godlose pad wat hulle vanweë hulle ongevoelige harte verkies en word hulle boonop verdoem tot ‘n ewige duisternis.

Vers 26 is vir my baie besonders (2014 vertaling):

My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd.”

Dit troos my dat my krag en vermoëns nie die laaste sê het in my lewe nie, maar dat God my krag en erfenis is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem