Skip to main content

Eksodus 33

Onthou tog hierdie nasie is u volk

Teks en konteks

Die diepste impak van die destruktiewe gevolge van die sonde lê altyd in die afstand wat kom tussen God en die mens. Soos Jesaja eeue later sou verklaar: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” (Jes. 59:1-2). Die rede vir die afstand lê nooit in God opgesluit nie, maar in die sonde en moedswilligheid van sy mense.

Daarom wil die Here nie saamtrek met die volk na Kanaän nie, al sou Hy steeds sy belofte om die beloofde land vir hulle te gee, uitvoer. Net sy engel sou saamtrek, anders sou Hy waarskynlik genoodsaak wees om die volk uit te wis weens hulle moedswilligheid – Eks 33:1-6. Moses slaan egter ‘n tydelike tent van ontmoeting op buite die kamp om as middelaar tussen God en die volk op te tree, sodat hulle as’t ware van ver af die interaksie wat hy met God het, kan gadeslaan en benut – Eks. 33:7-11. Uiteindelik gebruik hy dié tent van ontmoeting om die Here te oortuig om dié besluit om nie saam te trek nie, te heroorweeg – Eks. 33:12-23.

Die Here wil nie saam met die volk trek nie – Eks. 33:1-6

‘n Mens sou verwag dat dit as ‘n voorreg geïnterpreteer sou word dat die engel van die Here voor die volk sou uitgaan om vir die volk ‘n plek te verseker in die beloofde land wat aan die aartsvaders met ‘n eed belowe is. Dit was egter beleef as ‘n “harde uitspraak” en die volk het oor dié bevel van die Here getreur. As blyke daarvan het hulle geen juwele gedra nie, soos die Here inderdaad ook vir hulle aangesê het. Trouens dit sou die gebruik reg deur die woestyntyd word.

Die volk het egter geweet dat hierdie bevel van die Here ‘n verwydering van sy aangesig beteken, iets soortgelyks as wat destyds met Adam en Eva in die paradys en met Kain ná sy broer se moord gebeur het. Soos Durham dit so pragtig stel: “In the place of his Presence, there was to be only Absence. It is a punishment … that negates every announcement, every expectation, every instruction except those now being given. There will be no special treasure, no kingdom of priests, no holy nation, no Yahweh being their God, no covenant, no Ark, no Tabernacle, no Altar, no cloud of Glory.” (Exodus).

Die Here self sou nie saam met hulle trek nie. Hulle moedswilligheid sou Hom immers geen ander keuse laat as om hulle te verdelg as dit weer gebeur nie. Maar, dit het ook beteken dat die instruksies rondom die Tabernakel nou nie uitgevoer sou word nie. Israel sou sonder God se nabye teenwoordigheid moes klaar kom. Die episode van die goue bulkalf het dus die hele idee dat hulle God se uitverkore volk sou wees ernstig in die gedrang gebring. Niks minder as ‘n hernuwing van die verbondsverhouding was nodig om dié verbondsverbreking uit te wis nie, soos wel in Eksodus 34 sou gebeur.

Moses slaan ‘n tydelike tent van ontmoeting op buite die kamp – Eks. 33:7-11

Moses se reaksie hierop is regtig besonders. Hy tree as ‘n bemiddelaar tussen God en die volk op en beraam ‘n plan om die Here se teenwoordigheid “ver buite” die kamp te laat sigbaar word in ‘n tydelike tent van ontmoeting. Dié wat die moed sou hê om dit buite die kamp te waag, kon die Here daar gaan raadpleeg na sy wil. Die res van die volk kon by hulle eie tente se ingange bly staan en die gesprek tussen die Here en Moses van ‘n afstand af dophou en ervaar. Die hele volk het op dié manier begin om die Here te aanbid selfs al was hulle status as Godsvolk nog in gedrang.

Hoe mooi staan dit nie daar nie: “Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend.” Die tipe verhouding wat in Jesus vir elke gelowige moontlik geword het. Geen wonder dat Josua sommer daar gebly het nie, so ‘n groot indruk het dit op hom gehad.

Die Here belowe om self saam te gaan met die volk na Kanaän – Eks. 33:12-23

Op een van die kere wat die Here in die tent van ontmoeting met Moses in gesprek was, het Moses weer die situasie van die trek na die beloofde land aangeroer. Hy begin sy versoek deur sy vertrekpunt in die genade (ḥēn) van die Here te stel: “As U my dan goedgesind (genadig) is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.

Die Here het onmiddellik geweet dat Moses eintlik vra dat die Here sy voorneme om nie saam met hulle te trek nie, sal opskort. Daarom vra die Here hom: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” Ander vertalings maak van dié vraag eintlik ‘n stelling: “My presence will go with you. I’ll see the journey to the end.” (Peterson, The Message). Albei vertalings is egter moontlik, hoewel ek die vraag verkies in die lig van Moses se volgende reaksie.

Moses is duidelik daaroor dat hulle nie die reis sou kon aanpak sonder die Here se teenwoordigheid in die tabernakel wat Hy vir Moses die opdrag gegee het om te bou nie. God se teenwoordigheid in die tabernakel sou ‘n duidelike teken wees aan die ander nasies dat die volk God se genade, sy goedgesindheid geniet. Die teenwoordigheid in die tabernakel sou hulle onderskei van die ander nasies as ‘n getuienis van die ware God.

Op die Here se positiewe besluit, spreek Moses sy diep behoefte uit om God se heerlikheid te sien. ‘n Voorreg wat die Here hom ten dele toestaan op ‘n plek by God op ‘n rots, soos ons in die volgende hoofstuk sal lees. Let op hoe God se soewereine selfstandige keuse om dit te doen, gemotiveer word: “want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” Die verskyning sou egter net gedeeltelik wees, omdat niemand God volledig kon sien en bly lewe nie. Daarom het God Moses in ‘n rotsskeur met sy hande bedek en dit toe verwyder dat Moses God van agter kon sien. Een van die heiligste oomblikke in die verhaal van Eksodus.

Dit is hoekom Johannes in sy evangelie soveel maak van die koms van Jesus in die vlees: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon (kom tabernakel!). Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” (Joh. 1:14). In Jesus het ons die heerlikheid van God self gesien. Hoe bevoorreg is ons nie in die nuwe bedeling nie!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…