Skip to main content

Job 16

Verander van Vyand in Vriend

Die diepte en kompleksiteit van Job se worsteling met sy lot begin al hoe meer duidelik blyk in kontras met die oppervlakkige en eenvoudige raad van sy drie vriende.  In ses gedeeltes praat hy afwisselend met sy vriende, met homself, asook met God:

  1. Met sy vriende: Hy soek simpatieke vertroosting by sy vriende eerder as simplistiese veroordeling (16:1-6).
  2. Met homself: Hy ervaar God as ‘n meedoënlose Teëstander wat hom deurboor met sy oë, al is hy self nie skuldig aan geweld nie (16:7-17).
  3. Met God: Daarom pleit hy met trane by God dat Hy vir hom sal getuig sodat daar klaarheid kom in die stryd wat Job beleef (16:18-22).
  4. Met God: Hy vra dat God vir hom sal instaan as borg: “Wie anders kan vir my instaan?” (17:1-5).
  5. Met sy vriende: Onder sy vriende kry hy nie een wat verstandig is nie (17:6-10).
  6. Met homself: Die hoop op ‘n uitkoms dreig om saam met hom na die doderyk toe af te gaan (17:11-16).

Simpatieke vertroosting eerder as simplistiese veroordeling – 16:1-6

Job reageer skerp op die tipe argumente wat sy vriende teenoor hom gebruik en beskryf hulle as hopelose troosters.  Hy soek simpatieke vertroosting by sy vriende eerder as simplistiese veroordeling.  Hy wil eintlik net hê hulle moet stilraak, maar daar kom nie ‘n einde aan hulle sinlose gepraat nie.  Hy sou dit immers heeltemal anders as hulle gedoen het.  Sy woorde sou hulle kon bemoedig deurdat hy nie só simplisties sou veroordeel het nie.

Die Bybel in Praktyk noem aan die hand van hierdie bydrae van Job ’n paar dinge wat ’n mens kan help om jou vriende wat in nood verkeer, meer effektief by te staan:  “(1) moenie net praat om te praat nie;  (2) moenie vir hulle preek of geykte dinge sê nie;  (3) moenie kritiseer nie;  (4) stel jouself in die ander persoon se plek, en (5) bied hulp aan en bemoedig.”  Goeie raad!

Let op hoe Job sy “catch-22” situasie uitspel: “ My pyn sal nie ophou as ek praat nie, dit sal ook nie verdwyn as ek ophou praat nie.”  Hy kan regtig nie op sy eie wen nie al probeer hy wat ook al.

God is ‘n meedoënlose Teëstander – 16:7-17

Job se probleem is dus groter as die onbegrip en veroordeling van sy drie vriende, mymer hy by homself.  Hy ervaar immers God as ‘n meedoënlose Teëstander of Vyand wat hom deurboor met sy oë, al is hy self nie skuldig aan geweld nie.  Dit is God wat hom en sy gesin afgetakel het.  Daarom is God sy Vyand, nie sy Vriend nie.

Job gebruik hier die Hebreeuse woord tsar vir Teëstander, nie sâtân soos dit vir die Satan in hoofstuk 1-2 gebruik is nie.  Dit beteken dat die beskrywing van God as Job se Teëstander nie soseer op ‘n “bose” oorsprong daarvan dui nie – soos dit in die voortgaande openbaring van die Bybel duidelik word – maar steeds met God as formidabele opponent rekening hou.

Die vriende gebruik sy vervalle toestand teen hom as getuienis van sy vermeende onreg, maar wat hulle nie raaksien nie is dat dit God is wat teen hom gedraai het: “Hy, my Teëstander, deurboor my met sy oë.”  Dit laat hom in die slegte boekies kom van die mense rondom hom.  Hulle skinder oor hom en beledig hom.  Sy lewe is oorgelewer aan slegte mense.

In onthutsende taal beskryf Job hoe hy God se betrokkenheid in sy lewe ervaar: “Hy het my aan my nek beetgepak en my vergruis.”  God is soos ‘n soldaat wat op hom afstorm en hom deurboor en sy liggaam vernietig.

Tog is Job steeds oortuig dat hy niks verkeerd gedoen het nie.  Hy is nie skuldig nie, en hy is ook nie skuldig aan dieselfde tipe geweld waaraan hy onderwerp word nie.  God het soos ‘n geweldenaar in sy lewe geword, ervaar hy sy situasie.

Hy vra dat God van Vyand in Vriend sal verander – 16:18-22

Daarom pleit Job met trane by God dat hy vir hom sal getuig sodat daar klaarheid sal kom in die stryd wat hy beleef.  Hy pleit eers by die aarde om vir hom te getuig – “Moenie die onreg teen my verberg nie, aarde …”.  Maar dan hef hy sy oë op na die hemel en gryp as’t ware teen die ervaring van God as Vyand en Teëstander steeds vas aan dieselfde God as getuie dat Hy sal uitspraak lewer in die saak teen hom, dat God sal optree teenoor hom “soos in ‘n saak tussen ‘n man en sy vriend.

Hoe kragtig is dié metafoor nie.  Hy vra dat God van Vyand in Vriend sal verander, want sy jare is min en hy sal binnekort nie meer daar wees nie.  Job gryp dus aan God vas ten spyte van sy ervaring van God se duidelike vyandigheid: “Selfs nou nog het ek ’n getuie in die hemel, Hy wat vir my getuig, is daar bo.

Dit is iets wat meer volledig aan ons in die NT geopenbaar is.  God het inderdaad in Jesus ons Vriend geword.  Paulus skryf ook baie keer oor God wat in Christus Jesus sy getuie is (Rom. 1:9; 2 Kor. 1:23; 2:10; Gal. 1:20; Fil. 1:8; 1 Tes. 2:5, 10). Johannes stel vir ons Jesus Christus onder andere voor as: “die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.  Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos.” (Openb. 1:5; 3:14).

Die skrywer van die Hebreërbrief gaan nog verder en stel Jesus aan ons voor as ons voorbidder (vgl. ook 1 Joh. 2:2)!  Dink aan die voorreg dat Jesus vir jou bid: “Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef om ter wille van hulle in te tree.” (Hebr. 7:25).  Dit is die groot voorreg wat ons as NT Christene het, iets waarvan Job nog net kon droom!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda