Skip to main content

Psalm 11

Om God te vertrou in ’n krisis

Sommige plaas Psalm 11-13 in die tyd van 1 Samuel 18-20 toe Dawid deur Jonatan aangeraai is om te vlug. ’n Interessante moontlikheid is om dit in die tyd van Dawid se volkstelling te plaas, 2 Samuel 24 en 1 Kronieke 21, waar Gad vir Dawid die opsie gegee het om te vlug vir mense as deel van die oordeel van die Here. Uit die inhoud lyk dit egter of dit op ‘n ander onbekende tyd van konflik dui wat Dawid beleef het waarin hy juis op sy onskuld voor die Here staatmaak.

Hoe dit ook al sy, dit is ‘n Psalm van vertroue in die Here se regverdige heerskappy, in ‘n tyd waarin Dawid beleef dat sy goddelose teëstanders dreig om die oorhand te kry.

Teks en konteks

Psalm 11 is eintlik streng gesproke nie ’n gebed nie, maar ’n geloofsbelydenis, waarin Dawid sy vertroue op God bevestig. En hy doen hierdie belydenis as ’n reaksie op die bedreiging van sy vyande wat nie net sy geloof in God bevraagteken nie, maar strukture (van die samelewing/geloofsgemeenskap) afbreek en Dawid se dood (of val) beplan. Craigie gee hierdie Psalm daarom die titel Confidence in Crisis.

Hy word aangeraai om te vlug na die berge. Die versoeking is: om nie vas te staan in die Here nie, maar te vlug na waar dit menslik gesproke veiliger sou wees. Wanneer ‘n mens immers vasstaan, gee jy jou teenstanders ook meer van ‘n teiken om aan te val. Dit neem dus ‘n besondere moedige optrede van Dawid om nie terug te deins en te vlug nie.

Wat Dawid moed gee, is dat al wankel die aardse fondamente, God is bo dít verhef in die hemel as sy tempel (of paleis). En Dawid deel in die vastigheid wat dit vir hom gee. God is immanent en transendent, in die hemel en op aarde, en op Hom kan ’n mens jou lewe bou en op Hom kan jy jou verlaat.

Dawid se geloofsbelydenis sluit verder in dat dié God verder en dieper sien as almal. Hy onderskei tussen goddeloses en regverdiges, deurdat hy albei toets, soos ‘n mens metaal deur vuur suiwer. En die gevolg of uitkoms van die toetsing verander sy houding teenoor die goddeloses. Letterlik staan daar “Sy siel haat dié wat geweld liefhet.”

In sy nabye teenwoordigheid verskroei die goddeloses (geskoei op Sodom en Gomorra as agtergrond), maar ervaar die regverdiges sy liefde. Let op dat die fokus val op dié wat regverdig en opreg HANDEL. En die regverdiges sal God se aangesig sien, dws, sal ‘n Godsverskyning ervaar (vgl Ps 9:17).

Boodskap en betekenis

In my nadenke hieroor het ek besef, vertroue in ‘n krisis is beide ‘n noodsaaklikheid as ‘n deug, maar dit moet ook deur wysheid aangevul word. Dit is iets wat net in ‘n noue verhouding met die Here duidelik sal word.

Soms kan vlug ‘n goeie opsie wees soos Dawid dit in sy vroeëre vlugtogte voor Saul en Absalom talle kere gedoen het. En talle ander  gelowiges het daardie opsie deur die loop van die Bybel uitgeoefen. Ook ‘n Paulus toe hy in gevaar gekom het in Damaskus en oor die stadsmuur in ‘n mandjie ontsnap het (Hand 9:24-25).

Soms is om te vlug egter die verkeerde opsie, soos dieselfde Paulus verklaar het in Handelinge 21:10-15 toe hy aangeraai is om nie na Jerusalem toe te gaan nie, weens die gevaar van gevangeniskap. Maar, hy het die raad geweier, want hy het geweet dit was die wil van die Here dat hy voor die keiser moes verskyn, en die beste manier het geblyk te wees deur hom vrywillig bloot te stel aan die moontlikheid om in Jerusalem in hegtenis geneem te word.

Dit is wat Jesus ook gedoen het, toe Hy doelbewus die woestyn in is om die toets van standvastigheid in die versoeking in die woestyn te slaag. Hy probeer die uitdaging van honger nie ontwyk deur self te voorsien nie, maar van God afhanklik te bly (Matt 4). Dieselfde geld die ja sê vir die kruis in Getsemane. Daarom het Hy ná sy gebed Hom vrywilliglik oorgegee om gevange geneem te word (Joh 18).

Mag die Here jou die wysheid gee om die regte opsie in jou eie lewe uit te oefen. Soms moet ‘n mens jouself uit ‘n posisie van konflik haal ter wille van die evangelie. Ander kere moet jy juis jouself blootstel aan die konflik ter wille van die evangelie, al beteken dit swaarkry.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…