Skip to main content

Psalm 7

God help die opregtes

Kus, die Benjaminiet, is nie vir ons bekend nie, hoewel Dawid natuurlik baie teenstand van die Benjaminiete, die stam van Saul, gehad het. In Absalom se rebellie het dit geblyk dat daar uit Benjamin, Saul se stam, ‘n paar bitter vyande van Dawid was (2 Sam. 16:5 ev; 20:1 ev). Dit is waarom ek die Psalm hier hanteer. Terloops, die naam Kus is ook gegee aan wat ons vandag as die Soedan ken.

Teks en konteks

Dawid bid hier om uitkoms van onregverdige vervolging. Hy wil hê dat geregtigheid sal seëvier. En hy pleit op grond van beide God se karakter – regverdig – sowel as sy eie onskuld, dat God ’n einde sal maak aan die bose dade van die goddelose mense (7:10). Hy maak staat op God wat regdeur die mense se motiveringe sien, en die opregtes sal help (7:11) en in die publiek sal bevestig (7:8-9).

Dat Dawid God vra om op te tree om hom te beskerm van valse beskuldigings, kan op twee maniere verstaan word:

  • Dat dinge vir hom sal uitwerk, veral dat hy nie knak onder die gevoelens van onreg nie, en dat sy onskuld duidelik sal word in die publiek. Dit sluit in dat hy ondersoek instel na sy eie integriteit en regverdige optrede, maar ook dat hy ernstig bid dat God dinge sal laat meewerk ten goede, soos Paulus so roerend in Romeine 8:28 van God se betrokkenheid by ons bevestig (“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.”)
  • Dat dinge vir die bose nie sal uitwerk nie, dat die onregverdiges se boosheid hulleself sal tref, dat hulle sal val in die graf wat hulleself gegrawe het. Die idee hieragter is dat boosheid funksioneer soos ‘n boemerang, dit kom altyd terug na die een wat dit gegooi het – vers 16-17.

Dit korreleer met ‘n program wat ek onlangs gesien het oor wetenskaplike navorsing oor wat mense onderskei van die ander primate, die aap-familie. Dit is dat mense as ‘n spesie (gewoonlik) saamwerk, nie net om selfsugtige redes nie – sjimpansees werk ook saam, maar altyd selfsugtig – maar veral om onselfsugtige redes, net omdat iemand anders hulp nodig het.

Boosheid, sou ek dan wil sê in die lig van hierdie Psalm, is wanneer ons kies om nie te help nie, meer nog, aktief ophou saamwerk, en die ondergang van ander mense beplan.

Daar is egter in sy gebed sekere elemente wat ’n mens laat skrik vanweë die geweld en wraakgedagtes wat daarin opgeneem is. God word geskets as ’n magtige soldaat wat mense met sy swaard en boog tref.

’n Hele paar Psalms bring dié sentimente na vore, sommige nog krasser as hier, waarvan 7 in die eerste Psalmboek voorkom (Psalms 5, 7, 10, 28, 31, 35, 40).

Hoe moet ’n mens dit verstaan? Hier is ’n paar gedagtes:

  • Dawid vra nie soseer vir persoonlike wraak nie, maar dat God dinge sal regstel.
  • Die koning van Israel was sterk met Godself verbind. Deur God te vra om die koning te beskerm en reg aan hom te laat geskied, het eintlik ook ten doel om God se eer te beskerm.
  • Die idee van ’n ewige lewe – wat ’n ewige dood insluit as straf vir die sonde – was nog nie goed ontwikkel in Israel nie. Daarom word vir konkrete straf en beloning in die hede gevra.

Boodskap en betekenis

Dawid gryp aan God se geregtigheid vas in hierdie Psalm. Dit is die standaard waaraan hy sy eie lewe meet, sowel as dié van ander. En hy maak staat daarop dat dié God, dié Een wat geregtigheid lief het en in alles reg optree, dit ook in Dawid se lewe en in die wêreld rondom hom sal handhaaf. God is immers ook die Regter wat nie net die regte beslissings gee nie, maar die beslissings kan uitvoer. Hy maak dus staat daarop dat God dié wat so leef, die opregtes, sal help. Daarop plaas hy sy hoop en vertroue.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar