Skip to main content

Jesaja 34-35

God bring verandering deur oordeel en redding

Voor Jesaja die verhaal van Hiskia in hoofstuk 36-39 gaan vertel, wat in baie van die vorige hoofstukke geantisipeer is, keer Jesaja terug na die tema van kosmiese oordeel in Jesaja 24-27. So seker as wat Jahwe sy plan van oordeel teen die nasies sal uitvoer – Jesaja 34 – só seker sal Hy sy plan van redding van sy volk uitvoer – Jesaja 35.  God bring verandering deur oordeel en redding.

Teks en konteks

Jesaja 34

Die fokus skuif van die Messiaanse koning na die herhalende oordeelsboodskap oor die nasies. Weereens kry dit ‘n kosmiese kleur – die hemelliggame smelt weg, die sterre verloor hulle glans – soos dit ook in die NT in 2 Petrus 3:10-12 aangehaal word.

Hierdie keer is dit Edom, die nageslag van Esau, die broer van Jakob-Israel, wat – net soos Moab in Jesaja 25 – uitgesonder word as simbool van wat met die nasies sal gebeur (Jes 34:5-17). In ‘n grusame uitbeelding word die mense soos diere geslag as offers vir Hom (Bosra is hulle hoofstad).

Die land word verbrand (die brandende teer herinner aan die verwoesting van Sodom en Gomorra in Gen 19) en onbewoonbaar gemaak. Net diere sal daar tuis wees.

Let op dat dié skrikwekkende oordeel deur die Gees van die Here voltrek word, dieselfde Gees wat vrede bring vir dié wat die Here dien (Jes 32:15). En dit word in God se boek – ‘n verwysing na Jesaja se boek – opgeskryf as getuienis vir die nageslag.

Jesaja 35

Met pragtige natuurbeelde word die redding van God se volk beskryf – die woestyn oortrek met affodille. En Jesaja roep almal op om mekaar te bemoedig met die boodskap van God se ingrype en teenwoordigheid. Hy oordeel die vyande, maar red dié noodlydendes: blindes, dowes, lammes en stommes. Water vloei in die woestyn. Gevare verdwyn, en uitbundige vreugde bars los uit die skare, die oorblyfsel wat die Here gered het.

Boodskap en betekenis

2 Petrus 3:12 gebruik ‘n verwysing na Jesaja 34:4 om gelowiges met verwagting te laat uitsien na die dag van die Here: “waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt.” Trouens, hy spoor hulle aan om met alles in hulle dié dag te verhaas deur vlekkeloos en onberispelik voor die Here te leef.

Hebreërs 12:12-13 gebruik op soortgelyke wyse ‘n verwysing na Jesaja 35:3-4 om gelowiges op te roep om “die slap hande en die lam knieë” te versterk: “en die reguit pad te loop. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.” Dit is omdat die Here se oordeel ‘n verlossende kant het, wat gelowiges kan laat uitsien na die dag wat alles reg gestel word deur Een wat kan vergeld en wraak neem, en hulle kan toewy om heilig te lewe, want daarsonder sal niemand die Here kan sien en saam met Hom die ewigheid kan ingaan nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar