Skip to main content

2 Korintiërs 13

Groei in geestelike volwassenheid

Paulus eindig hierdie brief met ‘n paar slotopmerkings oor sy komende derde besoek aan hulle en die pragtige trinitariese seënwens wat predikante sedertdien baie keer aan die einde van ‘n erediens in die kerk gebruik.

Teks en konteks

Die aanhaling uit Deut 19:15 – “In die mond van twee of drie getuies sal elke woord bevestig word” – word waarskynlik gemaak om die stelligheid van sy besoek te bevestig, veral aangesien hulle hom verkwalik het dat hy sy vorige besoek afgestel het.

Hy verbind dit dan ook aan sy voorneme om spesifiek seker te maak dat hulle in lyn kom met die wil van die Here in die praktyk van hulle lewe. Sonde deurbreek die gemeenskap met die Here en benadeel die gemeenskap van die gelowiges. Daarom sal hy niemand spaar wat volhard in die sonde nie.

Paulus plaas sy opmerking in die vorige hoofstuk – dat as hy swak is, is hy sterk – in perspektief. Hy leef soos Christus uit die krag van God en by sy volgende besoek sal hulle dié krag te siene kry.

Daarom moedig hy hulle aan om hulle lewens in orde te kry – “Ondersoek julleself of julle in die geloof is; toets julleself” – en nie as “praktiese ateïste” te leef nie. Hulle moet rekening hou daarmee dat Christus in die geloof in hulle leef. Selfondersoek bly daarom ‘n belangrike geestelike gewoonte op enige stadium van geestelike groei.

Paulus bid dat hulle dit sal regkry om die goeie te doen en geestelik volwasse te leef, want hy wil hulle verder kom opbou en nie tyd spandeer aan die afbreek van dit wat sleg is nie (vgl. 2 Kor. 10:18). Let op hoe belangrik geestelike volwassenheid vir hom is, hy noem dit twee keer (vgl. ook 2 Kor. 12:19).

As teken van die eensgesindheid en vrede wat onderling moet heers, roep Paulus hulle op om mekaar met die soen van Christelike gemeenskap te groet, ‘n gebruik wat wel vreemd in die Grieks-Romeinse wêreld van dié tyd was, maar tog in die Midde-Oosterse wêreld bekend was. Dit wys net hoe radikaal die eenheid was wat Christus tussen mense van alle vlakke van die samelewing geskep het.

“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal.”

Boodskap en betekenis

Paulus roep met hierdie brief die Korintiërs op tot geestelike groei. Sy komende besoek sal in krag geskied, nie in swakheid nie – en daarom waarsku hy teen volgehoue sonde wat die gemeenskap met God en mekaar skade aandoen. Hy moedig hulle aan om te toets of hulle werklik in die geloof leef, want ware geloof raak sigbaar in geestelike volwassenheid.

Paulus se begeerte met sy volgende besoek is dus om hulle geestelik op te bou. Daarom bid hy dat hulle sal volhard in die goeie en eenheid onder mekaar sal koester.

Die brief eindig met die bekende trinitariese seën. Dit is ‘n samevatting van Paulus se hele boodskap: dat die genade van Christus, die liefde van God en die teenwoordigheid van die Heilige Gees die fondament vorm vir ‘n lewe van geestelike volwassenheid.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar