Skip to main content

1 Samuel 30

God bewaar ons nie VAN gevaar nie, maar IN gevaar

Terwyl Dawid saam met die Filistynse magte weg was uit hulle grondgebied het die Amalekiete Siklag geplunder. Met hulle terugkeer, vind Dawid en sy manne dat hulle stad verbrand en hulle families weg is. Selfs dié wat in al die vorige uitdagings naby Dawid gebly het, draai nou teen hom weens die afgryslike tragedie van die verlies van hulle geliefdes. Dawid kry dit egter reg om steeds die Here te vertrou en op Hom staat te maak om hierdie nuwe uitdaging die hoof te bied.

Teks en konteks

Dawid se stryd verdiep in hierdie hoofstuk. Dit is nie net Saul wat hom agtervolg nie, ook nie net die Filistyne wat hom wantrou nie, sy eie volgelinge draai teen hom met die gebeure in Siklag, waar die dorpie geplunder is en hulle vrouens en kinders weggevoer is. Gelukkig is hulle nie doodgemaak nie. ‘n Godsbestiering.

Let op hoe Dawid nie eers dink daaraan om die Here te verkwalik vir die slegte goed wat met hom en sy mense gebeur nie. Terwyl die manne skreeu en raas en dink daaraan om Dawid met klippe dood te gooi, raadpleeg hy die Here deur Abjatar en sluit sy ore vir die mense se klagtes rondom hom, en doen doodeenvoudig wat hy by God hoor.

Al was Dawid dus erg in die noute, het hy krag gevind by die Here sy God en sy beloftes. En die Here wys nie net vir Dawid dat hy die vyand moet agtervolg nie, maar gee ook vir hom alles wat hy nodig het om dit suksesvol te doen.

Op pad is die eerste voorsiening wat God gee die Egiptiese slaaf wat hulle na die bende lei. En hulle verslaan die Amalekiete en kry al hulle mense terug (soos Abraham lank tevore met die wegvoering van Lot – Gen 14). “Niks van wat aan hulle behoort, is vermis nie, klein of groot, seun of dogter, of enigiets van die buit nie – alles wat die bende vir hulle gevat het, dit alles het Dawid teruggebring.”

Let op met hoeveel deernis Dawid die 200 manne hanteer wat die pas nie kon volhou nie (in navolging van Num 31:25-27 en Jos 22:8). Trouens, Dawid het dit as ‘n vaste reël en gebruik vir Israel neergelê. Let ook op hoe strategies hy die buit hanteer deur met geskenke daaruit vriende te maak met die leiers van Juda in: “al die plekke waar Dawid rondgetrek het, hy en sy manne.”

Daarmee wys Dawid onomwonde dat hy anders is as Nabal en Saul. Hy staan sterk in die Here in slegte omstandighede en is vrygewig in die oorwinnings wat die Here gee.

Boodskap en betekenis

Ek dink die Godsbeeld wat hierdie verhaal vir ons teken, is ‘n baie belangrike een. God bewaar Dawid nie van die agtervolging, wantroue en plundering nie. Maar Hy laat Hom ken as die een wat BINNE die krisis bereikbaar is, en uitkoms gee.

Dawid wys ook ‘n helder prentjie van die tipe man wat hy is, ‘n man na God se hart. Hy is lojaal aan die Here in die eerste plek. Hy hanteer alles wat gebeur deur die Here te raadpleeg. En voer sy roeping met ‘n stuk deernis met dié wat nie so sterk soos hy is nie. En sy vrygewigheid in uitdagende omstandighede laat ‘n mens besef dat die Here die regte man aangewys het om voortaan sy volk te lei.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar