Skip to main content

Psalm 78

Die raaisel van onbestendigheid

Dit is ’n lang Psalm, 72 verse. Om ’n mens te help om sin daarvan te maak, kan ‘n mens die Psalm as volg indeel om die retoriese krag van die Psalmis se onderrig te kan waardeer:

  • Die raaisel van onbestendigheid: vers 1–11
  • Eerste Herinnering oor vals bekerings wat niks verander nie: vers 12-39
    • Gebeure in die woestyn: vers 12–32
    • Versorging (vers 12–16)
    • Opstand (vers17–20)
    • Straf (vers 21–32)
    • Nadenke: vers 33–39
  • Tweede herinnering oor God se keuse van Dawid, die een met die opregte hart: vers 40-72
    • Van Egipte tot Kanaän: vers 40–64
    • Versorging (vers 40–55)
    • Opstand (vers 56–58)
    • Straf (vers 59–64)
    • Nadenke: vers 65–72

Teks en konteks

Die raaisel van onbestendigheid – vers 1-8

Die kommentator Tate noem hierdie Psalm “The riddle of God and Israel from Zoan to Zion.” (Word kommentaarreeks) Daarmee tipeer hy die Psalmis se perspektief op die geskiedenis van Israel as ’n geheimenis (vers 2), ’n raaisel uit die verlede (2014 vertaling). Terloops: Soan (vers 12, 43) is die plek in die Nyldelta in Egipte waar die Israeliete in slawerny was. Sion (vers 68) is die berg waarop die tempel in Jerusalem gebou is.

Dat dié geskiedenis ’n raaisel is, word gekoppel aan die feit dat dit duidelik is dat Israel deeglike opdragte gehad het om die roemryke dade van God aan hulle kinders te vertel sodat die volgende geslag van sy mag en wonders kan weet. Trouens dit was vasgevang in die wet wat aan die kinders bekend gemaak moes word, sodat daar regdeur die geslagte ’n getuienis van God onder die volk sou kon leef (vers 5).

Hierdie opdrag was bedoel om telkens die geheue van die volk oor God se teenwoordigheid in die verlede te verfris sodat hulle met insig en ontsag dit op hulle beurt aan hulle kinders en kleinkinders bekend kon stel. Dit was en bly God se manier waarop vertroue en gehoorsaamheid verseker word vir die volgende geslagte sodat hulle die gevaar van afvalligheid kan vermy.

Dit was die perfekte plan om God se teenwoordigheid te vier en te verseker in hulle midde. Helaas, hulle was opstandig en ongehoorsaam aan dié opdrag. Hoekom? Want hulle was mense sê die Psalmis: “wie se harte onbestendig was en wie se gees nie aan God getrou was nie” (vers 8 – 2014 vertaling). Daar was fout met hulle innerlike verbondenheid aan God.

Omdat hulle daarom nie aan die verhouding met God verbonde gebly het nie, geweier het om te lewe soos Hy hulle geleer het en vergeet het van sy werke en wonderdade, het dit ’n uitwerking in hulle gemeenskapslewe gehad. Hulle het gevlug in die gevegte met hulle vyande (vers 9-11). Al was hulle goed gewapen en bedrewe met die boog, kon hulle nie staande bly in die oorlog nie weens hulle onbestendigheid.

En dít is ’n raaisel. Dit behoort nie só te wees nie, nie met ’n volk wat op só ’n wonderlike wyse deur God begenadig is nie, vir wié Hy die perfekte plan gegee het en vir wie Hy op soveel wyses gesorg het deur dik en dun, soos die res van die Psalm gaan uitlê.

Eerste Herinnering oor vals bekerings wat niks verander nie: vers 12-39

In ’n lang relaas van die gebeure in die woestyn (vers 12–32) vertel die Psalmis van God se versorging (vers 12–16) met die wonderbaarlike trek deur die Rooi See, die voortdurende leiding deur ’n wolk bedags en die lig van vuur snags en die gawe van water in die woestyn.

Maar in plaas daarvan dat hulle Hom geëer het daarvoor, het hulle in opstand gekom teen die Allerhoogste (vers 17–20), gevra vir vleis en brood na hulle smaak. Dit het God se toorn teen hulle laat ontbrand “omdat hulle nie in God geglo het nie en nie op sy verlossing vertrou het nie” (vers 22 – 2014 vertaling).

Daarom het God hulle gestraf (vers 21–32) met te veel brood en vleis. Maar in hulle gulsigheid, wat eintlik geen perke geken het nie, het God se toorn hulle getref en “Hy het die vetstes onder hulle om die lewe gebring en die jongmanne van Israel op hulle knieë gedwing” (vers 31 – 2014 vertaling). Die ergste was dat selfs dié straf hulle nie van gedagte laat verander nie. Hulle het steeds nie aan sy wonders geglo nie: “sy wonderdade het vir hulle niks gesê nie” (vers 32).

Dit laat die Psalmis diep nadink (vers 33–39) oor die feit dat teenspoed blykbaar nie die gewenste uitwerking het in mense se lewe nie. Daar is die aanvanklike terugkeer na die Here toe as daar ’n slagting is. Maar só ’n bekering is te maklik vals. Al is God genadig en al vergewe Hy, veral omdat Hy weet “dat hulle maar mense is, wind wat verbywaai en nie terugkom nie” (vers 39), baat dit die mense nie. Hulle kry dit nie vanself reg om van binne af aan God verbind te bly nie.

Tweede herinnering oor God se keuse van Dawid, die een met die opregte hart: vers 40-72

In ’n verdere historiese relaas vertel die Psalmis die verhaal van Israel verder van Egipte tot in Kanaän (vers 40–64) en lê klem op God se versorging (vers 40–55) met die magtige plae in Egipte (1ste plaag – water in bloed; 3de en 4de plaag – muggies en steekvlieë; 2de plaag – paddas; 8ste plaag – sprinkane; 7de plaag – hael en vuur; 5de en 6de plaag – pessiektes en swere; 10de plaag – die dood van die eersgeborenes – Eks. 7-12) waarvan hulle nie net beskerm is nie, maar waardeur hulle verlos is van die verdrukking van Egipte. Hulle is soos ’n kudde skape veilig uitgelei terwyl hulle vyande deur die Rooi See oorweldig is en uiteindelik in ’n land ingebring is waar hulle vyande voor hulle uitgedryf is.

Maar, hulle het weereens in opstand gekom teen die Allerhoogste (vers 56–58). Hulle was so vals soos ’n onbetroubare wapen – ’n “slap boog” (2014 vertaling) – wat die Here vertoorn het.

Daarom het Hy hulle gestraf (vers 59–64) deur hulle die onderspit te laat delf in die oorlog by Silo (in die tyd van Eli) en die ark (sy “krag” en sy “heerlikheid” sê die grondteks in vers 60 – vgl. 2 Sam. 4:22: “die eer van die Here is weggevat uit Israel, want die ark van God is gevat.”) in ballingskap te laat wegvoer (1 Sam. 4). Daar is nie sprake van die volk wat hier in ballingskap weggevoer is nie, soos die 1983 vertaling verkeerdelik vertaal nie, maar wel die ark.

Die toedrag van sake laat die Psalmis weereens diep nadink (vers 65–72). En hy besef, dít is die verhaal uit die verlede wat regtig hoop kan bring. Dit was asof die Here skielik uit ’n slaap wakker geword het – “die roes van wyn” sê die grondteks! – en besef het die oplossing lê in die keuse van ’n jong seun, Dawid, een met ’n “opregte hart” wat nie net sy volk met vaardigheid van hande (dink aan die slingervel wat Goliat neergevel het!) sal lei nie, maar die volk in ’n intieme verhouding met God sal oppas.

Boodskap en betekenis

Die Psalm het ’n verrassende oplossing vir die raaisel van onbestendigheid. En ken ons dit nie self nie! Daardie geneigdheid tot die verkeerde; daardie roep tot God as dit sleg gaan; die vergeet van God as dit goed gaan … Die oplossing lê in opregtheid van hart, iets wat aan ons geskenk word.

Onthou hoe roerend Dawid dit gebid het: “Skep ’n rein hart vir my, o God, vernuwe ’n bestendige gees in my binneste. Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet nie u heilige Gees van my wegneem nie. Laat my weer jubel oor u verlossing, laat ’n gewillige gees my ondersteun.” Ps. 51:12-14 (2014 vertaling).

En Paulus eggo dit in Fil. 2:12-13: ”werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Dit is immers God wat in julle werksaam is, sodat julle gewillig is en optree soos Hý dit goedvind.” (2014 vertaling).

Ons kan onsself beskikbaar stel vir God. Ons kan ons toelê daarop om as verloste te leef, omdat God in ons werk en Hy die onbestendigheid kan wegneem en aan ons ’n rein hart kan skenk.

Ek gaan dié dag tegemoet met Dawid se gebed in Psalm 51: “Skep ’n rein hart vir my, o God.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…