Skip to main content

Job 31

Ek bly verbind tot vroomheid

Job sluit sy toespraak af met ‘n verklaring van sy verbintenis tot vroomheid.  Van die nostalgie van die verlede waarin hy die vreugde gesmaak het as God se vertroueling (hfst. 29), regdeur die pyn van ‘n toe hemel waarin hy nie meer God se stem kon onderskei nie (hfst. 30), gaan staan hy steeds vas in sy oortuiging om die Here te bly dien, al bars die bottel (hfst. 31).

In ‘n voëlvlug deur al die kontekste waarin hy lewe, wy hy uit oor sy vaste voorneme om te volhard in vroomheid in die konteks van sy familie en gemeenskap – die belangrikste konteks soos ‘n mens uit die feit dat dit die helfte van die verse beslaan, kan sien – sy ervaring van rykdom, die versoekings van afgodery, die uitdagings van vyande, sy hantering van sy werksmense en vreemdelinge, sy standvastigheid om sy sonde nie te verberg nie, en selfs om ekologies verantwoord op te tree.

Ek bly verbind tot vroomheid in my familie – 31:1-12

Job begin deur te sê: “Ek het my plegtig verbind om nie na ‘n meisie te kyk om haar te begeer nie.” (31:1).  Dit is die refrein wat regdeur hierdie eerste 12 verse loop waarin hy aan die een kant erkenning gee aan God se vermoë om oortreders te straf: “Vernietiging tref immers die boosdoener, ‘n ongeluk dié wat onreg doen.

Maar, terselfdertyd wy hy aan die ander kant uit oor die feit dat hy nooit aan die versoeking van sy begeertes toegegee het nie: “As ek die spoor byster geraak het, my deur my begeerte laat lei het en my hande besoedel het, laat ander mense eet wat ek gesaai het, of laat my gesaaides uitgeruk word.” (31:7-8).

Job het konsekwent nee gesê vir verleiding deur iemand anders se vrou.  Hy het nie gretig geloer na sy buurman se deur nie.  Dit sou ‘n skande gewees het, en hy sou enige straf dan verdien het: “Dit sou ‘n vuur gewees het wat alles vernietig en al my besittings verteer.” (31:12).

‘n Mens hoor hierin nie net die sewende gebod weerklink nie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.” (Eks. 20:14).  ‘n Gebod wat Dawid so tragies verbreek het met Batseba en daarna selfs verder gegaan het en Uria laat doodmaak het, ‘n oortreding van die sesde gebod: “Jy mag nie moord pleeg nie.” (Eks. 20:13).

‘n Mens hoor ook die woorde van Jesus in die Bergrede: “Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” (Matt. 5:27).  Trouens, Jesus spel uit tot watter mate ‘n mens egbreuk moet vermy.  Dit is beter om jou oog uit te haal en weg te gooi as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word.  Ditto jou regterhand.  Die prys van egbreuk is eenvoudig net te groot.  Dit het ewige implikasies (Matt. 5:27-32).

Let weer op na die ooreenkomste tussen wat Jesus in die Bergrede sê, en wat Job oor sy oë en sy hande te sê het in vers 7.  Job sal sy oë en sy hande vir homself en vir die geoorloofde verhoudings binne sy familie hou, by wyse van spreke.

Kuisheid is die onverdunde eis van die wet sowel as van die evangelie, soos Paulus ook in 1 Kor. 5-7 uitspel.  Gelukkig wys Paulus ook die weg uit die dilemma van seksuele sondes aan deur die vryspraak van Christus te verkondig: “En so was party van julle juis ook.  Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” (1 Kor. 6:11).

Ek bly verbind tot vroomheid in die gemeenskap – 31:13-23

Job is ook baie bewus van sy verantwoordelikheid om teenoor die verdere kring van die gemeenskap waarin hy woon, dit sluit sy slawe en slavinne in, reg op te tree.  Hy moet só leef dat hulle geen grief teen hom sou kon substansieer nie, want dán sou die Here self hom tot verantwoording kon roep.

Let op hoe fundamenteel hy dink oor mense: “Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie?  Het Hy ons nie almal gevorm nie?” (31:15).  Dit is daarom tog net logies, sê Job, dat ek alle mense regverdig sal behandel, en alles in my vermoë doen om armes, weduwees, en weeskinders van lewensmiddele te voorsien.

Job beklemtoon dat hy van sy jongdae af reg opgetree het vir die behoeftiges in die samelewing: “Inteendeel, van my jeug af was ek vir die weeskind ‘n pa, van my kindsdae af het ek vir die weduwee gesorg.” (31:18).  Almal kon op sy voorsiening staatmaak, selfs wanneer hulle in regsmoeilikheid beland het.

Dit is juis sy dilemma.  Job is bereid dat hy erge kwaad aangedoen word as hy enigsins skuldig aan onbarmhartigheid teenoor behoeftiges was: “Mag my bo-arm afgeskeur word van my skouer af”! (31:22).  Maar nou is dit juis wat hy ervaar, heeltemal onskuldig, dat hy leed aangedoen word: “Maar vir die ramp wat God nou gestuur het, is ek bang, teen sy majesteit kan ek niks doen nie.” (31:23).

Ek bly verbind tot vroomheid in rykdom – 31:24-25

Ten spyte van die ervaring van verlies, sal Job egter vroom bly.  Hy het dit reeds bewys in die feit dat hy nie sy vertroue geplaas het op sy rykdom nie.

Ek bly verbind tot vroomheid teen die versoekings van afgodery – 31:26-28

Hy het nooit die skepping bó die Skepper vereer en die son of die maan aanbid nie, gesimboliseer met die Babiloniese gebruik: “‘n soen op my hand”. (31:27).  Dit is amper soos wat mense soms vandag hulle hand sou soen en dan die soentjie blaas vir iemand anders.

Ek bly verbind tot vroomheid in vyandskap – 31:29-30

Selfs in die konteks van vyandskap het Job hom weerhou om hom te verheug oor ongelukke of rampe wat hulle tref.  Hy het nie met sy mond of sy hart teenoor hulle gesondig nie en hulle dood gewens nie.

Ek bly verbind tot vroomheid teenoor my werksmense – 31:31

Job verklaar stellig dat hy sy werksmense genoeg betaal sodat hulle ‘n volhoubare lewe kan voer.

Ek bly verbind tot vroomheid teenoor vreemdelinge – 31:32

Job het hom aan die tradisie gehou om vreemdelinge wat op reis was nie buite te laat slaap nie. Sy deure het altyd vir reisigers oopgestaan, gegewe dat daar min geriewe soos herberge vir reisigers in daardie tyd bestaan het.

Ek bly verbind tot vroomheid teen die sonde – 31:33-37

Job het ook telkens afgereken met die sonde en dit nie weggesteek nie, selfs nie vir ander nie asof hy vir die skande of skaamte daarvan bang was nie.  Hy het homself nie weggesteek by die huis nie, soos mense soms gedoen het as hulle skuldig was.  Inteendeel, Job het sy lewe openlik voor die mense gelewe.

Is daar dan niemand wat na my luister nie!  My saak het ek gestel: nou moet die Almagtige my antwoord.” (31:35).  Job kan rekenskap gee van elke tree wat hy gegee het.  Daarom kan hy God met vrymoedigheid tegemoet gaan (31:37).

Ek bly verbind tot vroomheid teenoor die aarde – 31:38-40

In ‘n laaste voëlvlug oor die kontekste waarin Job lewe, verbind hy homself net ook weereens tot ‘n ekologies vriendelike lewe.  Hy verbind homself daaraan dat hy nie die grond sou uitbuit nie, en ook nie die eienaars daarvan nie.  Indien hy hom daaraan skuldig sou maak, kan die grond hom verraai met dorings in plaas van koring, met onkruid in plaas van gras.

Dit is die einde van Job se woorde.” (31:40).

Oorsig oor die gesprek van Elihu met Job en sy drie vriende – Job 32-37

Inleiding

Elihu se woorde in hfst. 32-36 is ‘n direkte reaksie op Job en sy drie vriende se gesprek. Elihu kla in 32:14: “Met my het Job nog nie geargumenteer nie.”  Hy is ook negatief oor die drie vriende: “Met julle argumente sal ék hom nie aanpak nie.”  Hieruit kan ‘n mens agter kom dat daar ‘n wisselwerking is tussen sy toespraak en die voorafgaande drie hoofstukke (29-31) sowel as die vorige drie gespreksrondtes tussen Job en sy drie vriende (3-27).

Elihu se vierdelige toespraak is dus ook ‘n antwoord op die vorige toespraak van Job.  Trouens, Elihu verwoord doelgerig sy woorde as ‘n antwoord aan Job en sy drie vriende: “Luister na my … ek het geluister na julle argumente.” (32:10-11).  Hoewel hfst. 31:40 dus die einde van Job se woorde in dié drie hoofstukke aankondig, en daarmee die einde van alles wat hy te sê gehad het, is daar tog ‘n eksplisiete verband tussen Elihu se woorde en Job se laaste woorde.  Daar is dus ‘n element van ‘n gesprek tussen Job en Elihu te bespeur, al was dit net van Elihu se kant af só bedoel.

“Daarom dien die mense Hom”

Elihu praat in sy gesprek met Job en sy drie vriende veral uit ‘n godsdienstige of teologiese beskouing van die lewe.  Hy hou rekening met die afstand wat daar tussen God en mens is en dat om die Here te dien, d.w.s. om godsdienstig te lewe, dat dít die ware wysheid is.  Hiermee sluit Elihu aan by die uitsonderlike hfst. 28 oor die wysheid en verklaar in 37:24: “Daarom dien die mense Hom”.  God sien immers: “nie die raak wat dink dat hulle wysheid het nie”, maar dié wat hulle wysheid in die dien van die Here soek.

God is soewerein

In sy vier toesprake begrond Elihu sy beskouing in die teologie dat God soewerein is en Homself nie aan ons hoef te verduidelik nie.  “Waarom beskuldig jy vir God?  Hy hoef nie vir jou rekenskap te gee van sy dade nie.” (33:13).  Hoekom nie?  Want, een: “God doen nie verkeerd nie, die Almagtige begaan nie ‘n onreg nie.  Hy straf die mens net vir wat hy doen, Hy laat hom maar net kry wat hy verdien.” (34:10-11).  En twee, God is só groot: “ons kan sy grootheid nie begryp nie” (36:26), soos Hy onder andere in die natuur demonstreer.

Trouens, ons vroomheid as sodanig het eintlik geen direkte effek op Hom nie, asof Hy daardeur tot enige optrede van watter aard ook al gedwing kan word (35:1-7).  God vra wel, eis selfs, dat ons Hom dien, dat ons vroom sal lewe, maar ons gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid het as sodanig geen direkte effek op Hom nie.

God gebruik verlies as waarskuwing en dissipline

Wat wel waar is, sê Elihu, is dat God Homself openbaar aan die mens – onder andere deur die ervaring van die verlies van ons goed en ons gesondheid – om jou aan die een kant te waarsku en van jou verkeerde pad af weg te keer, sodat jy die lewe wat God gee, kan geniet in verhouding met God.  Of, aan die ander kant bring God hierdie tipe uitdagings oor jou pad om as loutering te dien.

God gebruik dus siekte en pyn om ons tot insig en nuwe lewe te bring.  Vgl. 33:19,26,30: “Hy spreek die mens aan met ernstige siekte, met pyn wat aan sy liggaam knaag … 26Hy sal tot God bid, God sal sy gebed verhoor … 30So keer God die mens weg van die graf af en laat Hy hom weer lewe.”  Dit is waarom Job: “end-uit getoets word” (34:36) sodat sy argumente oor en teen God as “sonder kennis” (35:16) uitgewys kan word en hy hom van sy hoogmoed kan bekeer (33;17; 35:12).

Hieroor moet Job eerder nadink (37:14).  God sal uiteindelik reg laat geskied ook vir Job, want “Hy laat reg en geregtigheid geskied.” (37:23).

God doen dus nooit verkeerd nie, sê Elihu (34:10).  God is nie partydig nie.  Hy is nie bevooroordeeld nie (34:19).  Maar God waarsku en dissiplineer (33:14-30), soos wat ‘n pa of ma met hulle kinders sou doen.

Elihu gaan dus verder as die eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie van die drie vriende.  Hulle het eenvoudig geargumenteer dat teëspoed die straf van God op die sonde is.  Elihu argumenteer egter dat dit nie die enigste interpretasie is nie.  God gebruik teëspoed ook om jou te waarsku of te louter.

Wat moet ek hieruit leer?

Die vraag wat Job dus volgens Elihu moet vra in sy ervaring van die verlies van sy goed en sy gesondheid is, wat moet ek hieruit leer?  Is daar ‘n waarskuwing in my verlies opgesluit?  Of is daar ‘n stuk opvoeding in opgesluit, iets wat aan my karakter of my ingesteldheid of my lewenstyl moet verander.

‘n Mens sou in die lig van die antwoord wat die Here self hierna gee, egter moet sê, dat Elihu wel ‘n baie meer genuanseerde antwoord gee op die verwerking van verlies, ten spyte van sy jonkheid.  Dit is ongetwyfeld só dat ons telkens moet vra wat ons leer in elke situasie waarin ons kom.  Soos Niebuhr sê: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to his action.” (The Responsible Self).

Ons is afhanklik van wat God doen

Maar dan is alles nog nie gesê nie.  Dit beskryf nog net wat ons aan ons kant kan doen.  Ons is in die laaste instansie afhanklik van wat God self doen.  En daarop mag en moet ons wag, soos wat Job dit ook regdeur die boek gedoen het.  Elihu gee dus die beste menslike antwoord, maar God moet nog aan die woord kom.  Daarsonder sal Job se situasie nie verander nie.

Anderson som dit só op: “Elihu gives the human estimate; Yahweh gives the divine appraisal.” (Job: 51).  Elihu dien dus as ‘n menslike wegbereider vir wat God uiteindelik sou sê-vra, amper soos Johannes die Doper dit vir Jesus in die NT gedoen het.

Elihu se toesprake vervul daarom ‘n teologiese, maar ook dramatiese funksie.  Dit hak aan by die teologiese soeke na wysheid, soos onder andere in hfst. 28 aangevoer is, maar skep ook die dramatiese verwagting dat Job die Wysheid self sal ontmoet, God wat Job antwoord uit die stormwind (hfst. 38-42).  Elihu is dus ook ‘n wegbereider vir God.  Dit sien ‘n mens ook in Elihu se antisiperende beskrywing van die stormwind waaruit God uiteindelik aan die woord kom (vgl. Job 37:9 met 38:1).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…