Skip to main content

Job 11

Sofar: As jy jou verstand reg gebruik, sal jy jou kop sonder skaamte kan oplig

Die arrogante en selfversekerde Sofar praat in die eerste rondte veral uit ‘n intellektuele deurskouing van die lewe: “As jy jou verstand reg wil gebruik … kan jy jou kop sonder skaamte oplig.” (Job 11:13,15).  Sofar het ‘n antwoord op alles, en hy spaar Job nie.  Job is volgens hom duidelik skuldig.  God het nog nie eers begin om hom vir al sy sondes te straf nie (11:1-6).  Job begryp nie werklik wie God is nie.  Hy tree soos ‘n idioot op as hy dink dat hy ‘n greep op die kennis van God het (11:7-12).  Job moet net sy hande in gebed na die Here toe uitsteek, sy sonde van hom af verwyder en nie toelaat dat onreg in hom woon nie.  Dan sal God sy lot verander en hy weer goeie vooruitsigte hê (11:13-20).

Job is skuldig – 11:1-6

Sofar is duidelik geïrriteer met Job en beskou sy treurmare as ‘n poging om homself te regverdig.  Dit is eintlik lasterlik, want Job beskou homself as onskuldig voor God.  As die Here die moeite wou doen om iets te sê, sal Hy verseker Job weerspreek het. God is nog nie eers regtig besig om Job vir ál sy sondes te straf nie.  Daar wag dus nog eintlik meer trauma vir Job, weens sy onverklaarde sonde.  Wreed!

Geen wonder dat die Here aan die einde Hom so duidelik distansieer van hierdie tipe onsin nie toe Hy wel aan die orde kom en met hulle almal in gesprek tree.

Job verstaan nie werklik wie God is nie – 11:7-12

Sofar begrond sy wysheid in sy vlymskerp intellek, en minag Job se kennis van God: “Hoe kan jy daarby uitkom?” Die kennis van God is omvangryk, en geen mens kan dit eintlik heeltemal verstaan nie, veral nie iemand wat deur God gevange geneem is en gevonnis is, soos dit in Job se geval duidelik vir Sofar blyk.

Die Godsbeeld wat Sofar teken, is van ‘n God wat nie net omvangryk in sy wysheid is nie, maar ongelooflik puntenerig in sy maatstawwe, wat mense vir goed straf waarvan hulle nie eers ‘n benul het nie.

Sofar beskuldig Job van skynheiligheid waarin hy sy eintlike sonde verberg.  Dit is egter idioties en sal hom net so min in sak bring as wat ‘n wildedonkievul ‘n hoop het om ‘n mens te word as hy gebore word.

Job moet sy verstand gebruik en sy skuld bely – 11:13-20

In die laaste deel kry ‘n mens die idee dat Sofar se vlymskerp tong eintlik bedoel is om Job van valse hoop te vrywaar en sover te kry om sy hande in gebed na God toe uit te steek, sy sonde te verwyder, nie toe te laat dat die onreg in hom woon nie, en sy hoop op ‘n lotsverandering deur God te plaas.  Hy beoefen ‘n soort wrede genade.  Hy is: “cruel to be kind.

Gebed is natuurlik ‘n ongelooflike stuk vertroosting in ‘n mens se verhouding met God, veral as jy rekening hou met sy genade en barmhartigheid.  Hy beloon dié wat Hom soek (Hebr. 11:6). Daarop kan ons reken.

Sofar se probleem is egter dat daar geen genade is in sy tipe raad nie, dat sy wreedheid uiteindelik net wreedheid bly.  God se genade is volgens hom ondergeskik aan God se  geregtigheid, nog erger aan Sofar se idee van God se geregtigheid.  God sal, volgens hom,  eerder straf as wat Hy sal vergewe.  Wat ‘n mens versigtig moet maak vir ‘n verkeerde toepassing van “tough love”, omdat jou oordeel in ‘n situasie, veral wanneer jy nie al die feite het nie, totaal destruktief kan wees.

Job sal nie weer die lig van nuwe vooruitsigte ervaar deur sy verstand te gebruik of valslik sy skuld voor te gee nie, veral nie omdat iemand hom op ‘n wrede manier wil wakker skud om sy gewaande skuld te bely nie.  Job sal net genoegdoening in ‘n ontmoeting met God kan bereik. En dit is al waartoe vriende dié wat ly moet begelei.

En dit is waarvoor Job steeds pleit, soos hy in die volgende drie hoofstukke verder sal aanroer.

Oorsig oor die eerste gespreksrondte – Job 3-11

As ‘n mens nou terugkyk op die eerste rondte van gesprek raak dit duidelik dat die drie vriende nie net in wisselende grade van wreedheid dieselfde vergeldingsdogma aanhang nie, maar eintlik stemme van Satan word, die teenstander van God wat die Here self aangevat het met sy slotsom oor die oorsaak-en-gevolg opsomming van die lewe.

Onthou dat die Satan beweer het in Job 1-2 dat godvresendes nie lojaal teenoor God sal bly as Hy nie vir hulle gee wat Hy belowe nie.  Daar is dus, het die Satan beweer, ‘n reglynige verband tussen oorsaak en gevolg in die toewyding van godvresendes.

Wat dus hier in die gesprek van die drie vriende met Job op die spel is, is presies dieselfde tipe vraag as in die hemel, al is hulle nie regtig bewus daarvan nie, hierdie keer net as volg uitgedruk: Sal Job sy vroomheid behou al draai sy vriende teen hom?  Hulle beskou hulle bydrae in die gesprek waarskynlik slegs as deel van die vraag na die regverdigheid van die lewe, wat vir hulle ‘n baie eenvoudige antwoord het.  Vanuit die hemelse perspektief is die vraag na vroomheid egter steeds baie lewendig, die vraag of Job enduit aan die Here sal vasgryp ten spyte van sy verlies.

En onthou dat dit eintlik ten diepste oor God self gaan.  God se invloed in mense se lewe is op die spel.  Hierdie keer is dit nie sonde wat die verhouding in gedrang sou kon bring soos in die tuin van Eeden nie, ook nie net die lyding en smart oor onverdiende onskuldige verlies en pyn, soos in Job 1-2 nie, maar die invloed van sy geloofsgemeenskap wat met dieselfde vergeldingsmodel as die Satan werk en Job skuldig bevind vanuit die oënskynlike “gevolge” van een of ander sonde wat hulle in sy lewe sien.

Sou Job dus die Here kon bly vertrou al draai almal in die geloofsgemeenskap teen hom?

  • Elifas het Job gekonfronteer met ‘n vraag oor sy vroomheid: Gee jou vroomheid jou geen hoop nie? (Job 4:1-5:1) Amper soos Job se vrou wat hom aangeraai het om liewer God te vervloek en te sterf.  Elifas het hom ook probeer troef met die wysheid dat dit goed gaan met die mens wat deur God tereggewys word (Job 5:2-27), hoewel die swak punt in sy argument was dat hy nie Job se skuld kon aantoon nie.  Hy het dit net vermoed vanweë sy eenvoudige teologie.  Job was egter nie beïndruk met sy gebrek aan medelye nie (Job 6) en het hom eerder steeds op God se moontlike vergifnis verlaat (Job 7).
  • Bildad het by Elifas aangesluit en stellig verklaar dat teenspoed God se afkeur en voorspoed sy goedkeuring beteken (Job 8), hoewel Job steeds volgehou het dat die lyding gekom het sonder dat hy dit verdien het (Job 9), en dat hy wag dat die Here self vir hom bekend maak wat aangaan (Job 10).
  • Hierop het Sofar gereageer dat dinge eintlik baie meer eenvoudig is as wat selfs sy vriende aangevoer het: As jy jou verstand reg gebruik, sal jy jou kop sonder skaamte kan oplig (Job 11). ‘n Wrede woord wat die tirannie van ‘n treurige teologie bevestig.

Job bly egter vasbeslote om verby die troostelose trant van sy vriende se raad die Here self te nader en wil eerder sy saak vir God stel: “Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie, ek moet my saak vir Hom stel.” (13:15).

En daarmee gee Job alreeds vir ons ‘n sleutel tot die boek se ontknoping, want dit is presies in hierdie besluit wat die evangelie opgesluit lê, soos ons in hfst. 38 en verder sal sien.  God bestaan en is ‘n beloner van dié wat Hom soek (Hebr. 11:6).  Daarop kan ons staatmaak.  En Job het dié besef vir ons deur sy volharding onderstreep.

Indeling van die volgende drie hoofstukke

Dit is met dié paar perspektiewe in gedagte dat ons die drie hoofstukke wat die volgende gespreksrondte inlei, gaan lees.  Ek verdeel dit in twee dele op grond van die wending wat in Job 13:20 kom, waar Job begin om die Here direk aan te spreek en dit tot die einde van hfst. 14 volhou.  In die eerste deel was hy duidelik met sy drie vriende in gesprek.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…