Skip to main content

Handelinge 12

God antwoord gebede in die gemeente van Jerusalem en bevry Petrus

Handelinge 12 fokus op die konflik tussen menslike mag en Goddelike ingryping, wat die wyse waarop God sy koninkryk vestig, selfs in die aangesig van vervolging, illustreer. Die hoofstuk begin met die martelaarskap van die apostel Jakobus (die “Grote” in onderskeid van die ander apostel, Jakobus, die “Kleinere”) en die gevangeneming van Petrus deur koning Herodes Agrippa I, maar dit eindig met God se bonatuurlike bevryding van Petrus en die dood van Herodes.

Teks en konteks

Toe die Joodse leiers nie slaag in hul poging om die evangelie te stuit deur vervolging nie, besluit die Joodse koning, Herodes Agrippa 1 (Herodes Antipas was die een tydens Jesus se kruisiging), om tot die stryd toe te tree en laat van die gemeentelede vang, vermoor een van die twee “manne van die donder”, Jakobus (Mark 3:17 – die bynaam wat Jesus Johannes en Jakobus gegee het!), en laat Petrus in die tronk opsluit. Let op dat dit twee van die eerste vier geroepe dissipels van Jesus is (Luk 5:1-11). ‘n Geweldige aanslag dus op die leierskap van die jong gemeente in Jerusalem.

Dit gebeur weereens op die Paasfees, soos ’n paar jaar tevore met Jesus se kruisdood, die fees van die ongesuurde brood. Herodes wou net na die Paasfees vir Petrus om die lewe laat bring, dieselfde fees waarop Jesus tereggestel is. Hy wou dus die leier, Petrus, wat begin het om die pas aan te gee vir die oorgrens beweging van die evangelie, se mond snoer, soos die Jode dit met Jesus probeer doen het, maar nie daarin kon slaag nie.

Herodes en die 16 soldate wat Petrus in die tronk bewaak, is egter nie bestand teen die gebede van die gemeente en die engel van die Here nie, en Petrus word bevry en as bevestiging van God se seën op hulle werk, vir hulle terug gegee.

Die verlossing uit die tronk en die aankoms van Petrus by die gelowiges word met baie detail beskrywe om ons van die werklikheid van die gebeure te oortuig. Selfs die diensmeisie, Rodé, se naam word genoem, wat Petrus aanvanklik nie inlaat by die gemeentebyeenkoms nie, waarskynlik weens haar verbouereerdheid.

Dit leer ons dat die gebede van die regverdiges – let op die kontras met Herodes se onregverdigheid – groot krag het wanneer dit gefokus word op God se wil in sulke situasies. En onthou dat Barnabas en Saulus ook in daardie tyd daar was en saam gebid het (vgl Hand 11:30). Die gemeenskap van gelowiges oor gemeentegrense heen is deel van hierdie wonderlike bevestiging van God se verlossing en ingrype in die geestelike en politieke werklikheid.

Die engel van die Here se werk is egter nog nie klaar nie, en toe Herodes as god vereer word in die interaksie met die afvaardiging van Tirus en Sidon, tree God in en laat hom sterwe, ‘n paar jaar na die dood en opstanding van Sy Seun (Josefus bevestig Herodes se dood; sy beskrywing dui op 44 n.C.).

Dit is nogal ’n verontrustende gebeure. Dit laat my dink aan die gesegde: die wiele van geregtigheid draai stadig, maar verseker. God laat nie met Hom mors nie, en tree op om Sy naam te beskerm en Sy wil te laat geskied. Dit is ook ’n duidelike aanduiding dat ’n mens nie God se lankmoedigheid moet onderskat nie of veral nie as swakheid of traagheid om op te tree, moet interpreteer nie. Waar Sy eer in gedrang gebring word, tree Hy op.

Lukas sluit die deel van sy verhaal af met sy herhalende opmerking dat die woord van die Here verder versprei het en veld gewen het. Die tafel is gedek vir die volgende uitbreiding van die koninkryk wat van Antiogië af sou kom met Titus en Johannes Markus wat saam met Saulus en Barnabas terugreis.

Boodskap en betekenis

Te midde van swaarkry en teenstand, wys Lukas vir ons hier hoe die gebede van die gemeente wat vasgryp aan God se almag, die onafwendbare verspreiding van die evangelie begelei. Ons word uitgenooi om met geloof en volharding op hierdie God te vertrou, selfs wanneer omstandighede onseker en bedreigend lyk. Die volgende fase van die uitbreiding van die evangelie sou met die gebedstyd in Antiogië aanbreek, waarvan ons in Handelinge 13 gaan lees.

Dit is egter tyd vir die brief van Jakobus wat moontlik in dié tyd geskryf is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar