Skip to main content

2 Samuel 9

Dawid is ‘n regverdige en billike koning

Dawid dink in hierdie tyd wat God ‘n verbond met hom sluit aan sy eie verbond met Jonatan (1 Sam 20:15) en doen navraag of daar nie iemand is uit die huis van Saul aan wie hy goedheid kan bewys nie. Hy het immers ‘n belofte aan Saul gemaak in dié verband (1 Sam 24:21-22). Hy hoor by een van Saul se dienaars, Siba, wat Saul se sake bestuur het, dat Jonatan se kreupel seun, Mefiboset, nog leef. Dawid besluit om vir Mefiboset Saul se eiendom te gee met Siba as sy dienaar. Hy het Mefiboset ook as deel van sy eie familie in Jerusalem aan etenstafel verwelkom.

Teks en konteks

Dawid word in hierdie hoofstuk as ‘n regverdige en billike koning geteken, wat ter wille van Jonatan, sorg vir Saul en Jonatan se familie. Mefiboset, seun van Jonatan, en kleinseun van Saul, die een met die gebreklike voet, wat in Lo Dabar aan die oostekant van die Jordaan gebly het, kry Saul se grond terug, onder bestuur van Siba, maar bly by Dawid in sy huis. Dit wys Dawid se gulhartigheid, maar dien natuurlik ook die doel dat hy só ‘n ogie oor Mefiboset sou kon hou.

Mefiboset se seun, Miga, word pertinent hier genoem, omdat Jonatan eintlik deur sy kleinseun Miga ‘n baie groot nageslag het (1 Kron 8). Hoewel Saul dus verwerp is deur die Here, word Jonatan geseën met ‘n groot nageslag.

Dawid bly dus lojaal veral aan Jonatan, maar is minder genaakbaar teenoor ander afstammelinge van Saul soos ons later sal lees in die verhaal van Rispa – Saul se byvrou – se seuns wat opgeoffer word op aandrang van die Gibeoniete (2 Sam 21).

Siba was waarskynlik nie baie tevrede met dié toedrag van sake nie, want ‘n mens sien later dat hy met Dawid se vlug van Absalom af die koning ondersteun, maar in die proses vir Mefiboset bykom sodat Dawid die grond vir Siba teruggee (2 Sam 16). Mefiboset gee later darem ‘n verduideliking waarom hy nie vir Dawid gehelp het nie, wat wys dat Siba leuens oor Mefiboset vertel het, maar Dawid besluit om dit daar te laat (2 Sam 19).

Boodskap en betekenis

Dawid wys hiermee ’n versoenende en vredesoekende kant van sy menswees wat nie net op kragdadige wyse sy vyande wil uitroei nie. Hy gee eintlik onverdiende genade aan Mefiboset, en selfs ook aan Siba. ’n Voorbeeld wat ons kan navolg. Soos Jesus dit vir ons geïllustreer het in die Bergrede waar hy in Matteus 5 vir ons aanmoedig om van vyande vriende te maak.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar