Skip to main content

Spreuke 26:1-28

Dwaasheid ken geen perke nie

Spreuke 26:1-3

Spreuke 26 is ‘n versameling van spreuke wat almal verskillende gestaltes van dwaasheid beskryf. Dit is opvallend hoe sonder enige perke die dwase se optrede geskilder word. Dit staan in ‘n skrille kontras met die selfbeheersing, versigtigheid en emosionele volwassenheid van die wyse se optrede. Spreuke sê hiermee:

  1. Wyse mense weet waar die grense lê in menslike verhoudings en leer om daarmee saam te leef, en dit te respekteer.
  2. Dwase mense ignoreer egter ander mense se grense en tree sonder respek vir die waarheid op en daarby oordadig. Dwaasheid ken dus geen perke nie.

Ek groepeer die spreuke oor dwaasheid in 14 temas. Dit vorm ‘n radikale kontras met die 9 temas oor wysheid in hoofstuk 25.

Tema 1 – Dis onvanpas dat dwase eer ontvang.

Vers 1. Dis onvanpas dat dwase eer ontvang. Dis net so onvanpas soos sneeu in die somer, of reën in die oestyd.

Tema 2 – Dwase se wandade kom tot niks.

Vers 2-3. Dwase se wandade kom tot niks, en hulle kry wat hulle verdien. God laat nie toe dat ‘n vervloeking iemand tref wat dit nie verdien nie. Dit verdwyn soos ‘n voëltjie wat wegfladder, soos ‘n swaeltjie wat wegvlieg. Daarteenoor sorg God dat dwase kry wat hulle verdien, ‘n goeie pak slae. Hy dissiplineer hulle soos ‘n perd met ‘n sweep. Hy beheer hulle soos ‘n donkie met ‘n toom.

Spreuke 26:4-5

Tema 3 – Dit verg uiterse wysheid om met dwase te werk.

Dit verg uiterste wysheid om met dwase te kommunikeer. Vers 4-5 verwoord met twee radikaal teenoorgestelde spreuke die konstante dilemma van wyse mense in hulle verhouding met dwase mense.

  • Sit jy ‘n wag voor jou mond deur ‘n dwase opmerking te vermy deur liewer niks te sê nie, het jy ‘n probleem dat ‘n dwaas kan dink jy is net soos hy/sy (Spr 26:4).
  • Antwoord jy ‘n dwaas egter op dieselfde dwase manier as wat ‘n dwase mens sou doen (moontlik met sarkasme), het jy ook ‘n probleem dat ‘n dwaas kan dink sy/hy is eintlik beter as jy (Spr 26:5).

Die twee spreuke sê dus dat ‘n mens soms gaan praat, en soms nie, maar dat dit altyd riskant sal wees, omdat jy nie noodwendig ‘n goeie reaksie gaan ontlok nie, en self in die gedrang kan kom.

Spreuke 26:6-8

Tema 4 – Dit is moeilikheid soek om ‘n dwaas met ‘n boodskap te stuur.

Vers 6. Dit is moeilikheid soek om ‘n dwaas met ‘n boodskap te stuur. Dit is soos om jou eie twee voete af te kap, gegewe dat ‘n boodskapper in daardie tyd soos twee ekstra voete gereken is. Jy doen jouself geweld aan.

Vers 7. Selfs ‘n spreuk in die mond van ‘n dwaas is nutteloos. Dit ontkrag die betekenis daarvan.

Vers 8. Dit is dom om ‘n dwaas mag te gee deur hom te vereer. Dit is soos om ‘n klip vas te maak aan ‘n slingervel. Net iemand wat niks weet van hoe ‘n slingervel werk, doen só iets.

Spreuke 26:9-12

Tema 5 – Dwaasheid is regtig amper ongeneeslik sleg.

Vers 9. ‘n Spreuk in die mond van ‘n dwaas, is nie net nutteloos nie, maar rig skade aan. Soos ‘n doring in die hand van ‘n dronkie. Hy weet nie eers dat dit homself seermaak nie.

Vers 10. Dit is selfs dwaas om ‘n dwaas te huur. Dit is soos om iemand met ‘n geweer los te laat op enige teiken wat voorkom. Dit is net so dwaas om sommer ‘n verbyganger te huur.

Vers 11. Dit is onafwendbaar dat ‘n dwaas dieselfde dwaasheid sal begaan. Dit is net soos ‘n hond wat sy eie braaksel opeet.

Vers 12. Die diepste dwaasheid is om te dink dat wysheid in jouself lê. Dit is die diepste waarheid van hierdie gedeelte oor die dwase, want dit skakel die hele gedeelte aan die boodskap van Spreuke van die begin af. Wysheid begin met die respek en ontsag wat jy vir God het, en die erkenning dat wysheid by Hom begin, en nie by jouself nie.

Spreuke 26:13-16

Tema 6 – Luiheid is ‘n passiewe vorm van dwaasheid.

Hierdie 4 verse stel die probleem van luiheid onomwonde:

  • Luiaards vind verskonings in verbeelde gevare – ‘n leeu in die pad of op die dorpspleine – vers 13 (vgl Spr 22:13).
  • Luiaards bly onaktief – hulle draai rond op hulle bed soos ‘n deur op sy skarniere – vers 14.
  • Luiaards maak niks klaar nie, want hulle is te moeg – hulle bring nie eers die kos na hulle mond toe terug nie – vers 15 (vgl Spr 19:24).
  • Luiaards dink uitermate baie van hulle eie insig – vers 16.

Luiheid is dus ‘n ontblotende beskrywing van dwaasheid. Dwaasheid gaan mank aan ‘n respek vir God.

Spreuke 26:17

Tema 7 – Dwaasheid rig regtig groot skade aan.

Vers 17. Dit is dwaas om by ‘n rusie betrokke te raak wat jou nie aangaan nie, soos om ‘n kwaai hond wat verbyloop aan sy ore te pak. Jy sal net jouself beskadig.

Spreuke 26:18-19

Tema 8 – Dit is dwaas om iemand te bedrieg.

Dit is dwaas om iemand te bedrieg, selfs al is dit bedoel as ‘n grap. Dit is soos ‘n mal mens wat brandende, dodelike pyle afskiet sonder om rekening te hou met die skade wat dit kan aanrig. Die boosheid hiervan word in die volgende drie spreuke verder uitgespel in terme van aanhitsing tot kwaadpraat, rusies en skinder. In die NT word die werk van die Bose ook met die metafoor van vurige pyle beskrywe. Paulus leer ons om die skild van die geloof op te neem waarmee ons al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus (Ef 6:16).

Spreuke 26:20-21

Tema 9 – Dit is dwaas om in rusies te verval.

Dit is dwaas om ‘n rusie te laat aangaan en aangaan. Dit is tydige raad aan enigiemand wat by die een of ander twisgesprek betrokke is. Hou net op met rusie maak, bly by jou eie oortuiging, en doen dit sonder om ander met mag en geweld tot dieselfde oortuiging te probeer oorhaal.

Spreuke 26:22

Tema 10 – Dit is dwaas om na ‘n kwaadstoker te luister.

Dit is dwaas om na ‘n kwaadstoker se geskinder te luister. Dit glip soos lekkernye in jou binneste in sodat jy self ‘n kwaadstoker raak (vgl Spr 18:22).

Spreuke 26:23

Tema 11 – Skynheilige woorde steek slegte bedoelings weg.

Skynheilige mooi woorde steek slegte bedoelings weg, soos silwer skuim of glasuur oor erdeware.

Spreuke 26:24-26

Tema 12 – Skynheiligheid is dwaas en destruktief.

Vers 24. Wees versigtig vir mense wat skynheilig is in wat hulle sê, maar jou eintlik wil bedrieg. Vers 25. Jy is reg om mooi praatjies te wantrou, want dit verberg die diepste boosheid – “sewe afskuwelikhede in sy hart.” Vers 27. Almal kom uiteindelik die bose bedoelings van skynheiliges agter. Moet dus nie net versigtig wees vir skynheilige mense nie. Waak daarteen dat jyself skynheilig optree.

Spreuke 26:27

Tema 13 – ‘n Dwaas val in die gat wat hy vir iemand anders grawe.

Hy wat probeer om iemand te laat val – ‘n gat vir hom grawe – sal self daarin val (vgl Spr 28:10). Hy wat probeer om iemand te vernietig – ‘n klip op hom rol – sal self vernietig word. Die beginsel hieragter staan bekend as die lex talionis – die wet van vergelding.

Spreuke 26:28

Tema 14 – Leuens is haatspraak.

Leuens (‘n vals tong) en vleitaal (‘n gladde mond) is Bybels gesproke haatspraak. Dit het albei ‘n destruktiewe uitwerking, want dit verdraai doelbewus die waarheid. Die valsheid van leuens verbrysel iemand deur verdagmaking. Die skynheiligheid van vleitaal bewerk jou ondergang deur misleiding.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda