Skip to main content

2 Samuel 12; 1 Kronieke 20:1-3

Die diepste ellende van die sonde lê in die minagting van die Here

2 Samuel 12 handel oor die oordeel wat Jahwe uitspreek teen Dawid vir sy oortreding van die 6de en 7de gebod, moord en egbreuk. Die profeet Natan, wat moontlik help skryf het aan hierdie boek, word gekies om die Here se boodskap aan Dawid oor te dra. Natan lewer dit in die vorm van ‘n gelykenis van ‘n ryk man wat ‘n arm man uitbuit. Toe Dawid besef dat dit eintlik oor sy sonde gaan, het hy sy sonde erken en die Here om vergifnis gevra. Die gevolge van Dawid se optrede sou hom egter hierna vir die res van sy lewe teister. Die hoofstuk sluit af met die uiteindelike oorwinning oor die Ammoniete soos dit ook in 1 Kronieke 20:1-3 vermeld word.

Teks en konteks

Hoofstuk 11 het afgesluit met die mededeling dat dit wat Dawid gedoen het, verkeerd was in die oë van die Here. Die Here het die profeet Natan toe na Dawid gestuur om vir hom tot insig te laat kom. Toe Dawid regtig baie kwaad word vir die verhaal van die ryk man wat die arm man se ooilam gesteel en doodgemaak het – Dawid het gedink dit het regtig gebeur – spel hy sy straf in sy eie woorde uit. Die man verdien eintlik die dood, maar hy sal viervoudig moet vergoed.

Natan openbaar dan die boodskap van die gelykenis en spreek die oordeel van die Here oor Dawid uit. Sy sonde was ten diepste dat hy die woord van die Here geminag het deur kwaad te doen in sy oë. Daarom sal die swaard nooit van Dawid se huis wyk nie.

Die Here voorspel dan dat daar onheil teen Dawid vanuit sy eie huis sou kom, soos dit later met die opstand van Absalom sou gebeur het dat Absalom openlik by Dawid se vroue geslaap het. Wat in die geheim gebeur het, sal nou voor die hele Israel plaasvind in die helder daglig.

Dawid kom weliswaar onmiddellik tot inkeer, maar moet steeds die straf dra weens sy oneerbiedigheid teenoor die Here. Die kind wat vir Dawid en “die vrou van Urija” gebore is – let op hoe hy geëer word, en Batseba se naam nie genoem word nie – sterf na sewe dae ten spyte van Dawid se intrede vir hom.

Dawid aanvaar sy dood met die hoopvolle uitspraak: “Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” Iets wat vir talle ná hom tot troos was met die dood van pasgebore babas.

Dawid en Batseba kry egter ’n stukkie troos met die geboorte van Salomo (= “vrede”), ’n kind vir wie die Here ook lief was. Daarom het die Here hom Jedidja (= “geliefde van die Here”) laat laat noem .

Intussen was die oorlog nog strykdeur aan die gang, soos ons aan die einde van 2 Samuel 12 lees, en het Joab die stad Rabba van die Ammoniete omsingel en Dawid laat roep om die oorlog in die guns van Israel te laat beklink.Hy het die koning se besondere kroon van goud met edelstene daarin vir hom gebuit, iets waarvan ons waarskynlik in Psalm 21 lees. Die Ammoniete is onderwerp en aan Dawid onderhorig gemaak.

1 Kronieke 20 vertel ook die verhaal met min of meer dieselfde detail. Die eerste verwysing na die feit dat Dawid in die stad gebly het is waarskynlik ’n bedekte verwysing na sy sonde met Batseba, sonder om daarop uit te brei. Hy tree wel uiteindelik toe tot die oorlog en kom sy verantwoordelikheid na.

Boodskap en betekenis

Die probleem met die sonde is reeds erg in terme van die effek van die mense wat daardeur geraak word, Batseba, Urija, en die ander wat ingespan word om die leuens in stand te hou, bv Joab. Vier seuns sou egter sterf in die uitkringende effek van hierdie onbesonne daad (vgl Dawid wat op ‘n viervoudige straf aangedring het vir die ryk man):

  • Batseba se eerste kind by Dawid sterf deur die Here as straf vir Dawid se sonde;
  • Amnon, omdat hy in sy pa se spore volg met ongeoorloofde seks met sy suster Tamar, en Absalom hom vermoor toe Dawid nie optree nie;
  • Absalom wat in opstand kom teen Dawid, se koningskap en doodgemaak word in die burgeroorlog wat uitbreek;
  • Adonia, omdat hy hom teen Salomo verset toe dié deur Dawid as koning gekroon word, waarskynlik met die rebellie van Absalom teen Dawid as voorbeeld.

Dawid betaal dus in ‘n sekere sin viervoudig, soos hy self voorstel!

Selfs Agitofel word daardeur geraak, want Batseba was sy kleindogter (Eliam, Batseba se pa, was sy seun – 2 Sam 23:34), en verklaar moontlik sy ondersteuning van Absalom later in die verhaal (2 Sam 15:12 vv).

Maar die diepste ellende van sonde lê in die minagting van die Here, waarmee sy sorg, beskerming en voorsiening in die wind geslaan word om jou eie, gewoonlik korttermyn, belange te dien.

Ons dink baie keer aan Psalm 51 en die vergifnis wat Dawid ontvang het na hy van harte belydenis van sy skuld gedoen het. Maar die tragiese gevolge van sy dade, en die oordeel van die Here wat hom tref, gooi ‘n groot skaduwee oor die hele loopbaan van Dawid hierna. Die ligpunt is die intense hertoewyding van Dawid en die geboorte van Salomo, die “man van vrede”, wat ook Jedidja, “die Here het hom lief”, deur die Here genoem is.

Dawid kom ook uiteindelik sy verpligtinge in die oorlog teen die Ammoniete na, en verower só die hoofstad Rabba.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar