Skip to main content

1 Korintiërs 16

Laat alles by julle in liefde geskied

Paulus sluit af met drie perikope: 1) ’n opdrag om die kollekte vir Jerusalem voor te berei deur op elke Sondag iets opsy te sit (1 Kor. 16:1-4), 2) ’n mededeling van sy reisplanne wat ’n besoek aan hulle in die winter insluit (1 Kor. 16:5-12) en 3) ‘n paar laaste versoeke waar hy weereens oor die liefde praat, ’n boodskap waarmee hy die brief begin het, in hoofstuk 13 breedvoerig geskryf het en hulle nou hier weer aan herinner (1 Kor. 16:13-24).

Teks en konteks

Opdrag om die kollekte vir Jerusalem voor te berei – 1 Korintiërs 16:1-4

Paulus begin met sy opdrag aan hulle – een van die doelwitte van hierdie reis wat hy ook in Galasië aandag aan gegee het – om die kollekte vir Jerusalem voor te berei. Hy moedig hulle aan om elkeen elke Sondag by hulle erediens, volgens hulle verdienste, iets opsy te sit daarvoor. Hy sal dit dan saam met iemand, wat hulle goedkeuring wegdra, stuur na Jerusalem toe, miskien selfs saam met Paulus.

Ons gebruik om dankoffers op Sondae by ons eredienste op te neem, kom onder andere van dié verse vandaan. Dit is ook die eerste skriftelike aanduiding in die NT van die byeenkoms van gelowiges op ’n Sondag en nie ’n sabbat nie.

Paulus se reisplanne – 1 Korintiërs 16:5-12

Paulus gee hulle ook ’n kykie na sy reisplanne wat ’n besoek aan hulle in die winter insluit. Hy vra hulle ook om hulle oor die jongman Timoteus te ontferm wat op pad terug na hom toe in Efese is waar die Here ‘n deur op ‘n groot en kragtige wys vir hom laat oopgaan het, ten spyte van die teëstanders wat maar altyd aanwesig was.

Hy vra verder dat die Korintiërs Apollos se afwesigheid sal verskoon, al het hulle gevra dat hy weer by hulle besoek sal aflê. Apollos was waarskynlik in Efese op dié stadium en wou “beslis” nie nou die Korintiërs besoek nie, ten spyte van Paulus se herhaalde aanmoediging.

Waarskynlik was dit omdat Apollos nie verdere verdeeldheid in die gemeente wou veroorsaak nie. Hy sou hulle wel besoek as die tyd meer geleë sou wees.

Laaste opdragte en versoeke – 1 Korintiërs 16:13-24

Paulus sluit af met ‘n paar laaste opdragte en versoeke aan hulle met ‘n bietjie persoonlike detail.

Sy opdragte is om waaksaam, vas in die geloof, dapper (manhaftig), en sterk te wees.

Let op hoe hy in vers 14 en 24 ook weereens oor die liefde praat, ’n boodskap waarmee hy die brief begin het, in hoofstuk 13 breedvoerig geskryf het en hulle hier weer aan herinner. Alles wat hulle doen, moet in die liefde geskied.

Hy rig ‘n ernstige versoek tot hulle om hulle aan die leiding van Stefanas en sy huisgesin te onderwerp, trouens aan elkeen wat saamwerk.

Paulus verklaar sy blydskap dat van die Korintiërs hom besoek het in Efese (Stefanas, Fortunatus en Agaïkus), want hulle het hom verkwik. Sulke mense moet erkenning kry.

Paulus groet hulle in sy eie handskrif met die groete van al die gemeentes in Turkye, nie net Efese nie, onder andere ook van die huiskerk van Akwila en Priska (Priscilla).

Boodskap en betekenis

Paulus se woorde in vers 14 is ‘n gepaste afsluiting van die hele brief aan die Korintiërs: “Laat alles by julle in liefde geskied.” (1 Kor. 16:14). Dit rond sy pastorale antwoord aan ’n gemeente vol verdeeldheid, vrae en wanpraktyke op besondere wyse af.

Hy herbevestig daarmee die sentrale boodskap van hoofstuk 13 en herinner hulle in hierdie laaste hoofstuk daaraan dat alles wat hulle in die geloof doen – of dit nou is om waaksaam, standvastig, dapper, of diensbaarheid te wees – deur liefde gedra moet word.

Hy moedig ook samewerking met geestelike leiers aan en wys op die noodsaak om ander se bediening te erken.

Ek sluit met sy laaste drie verse (1 Kor. 16:22-24):

  • As iemand die Here nie liefhet nie, laat hom vervloek wees.
  • Marana ta! (“Ons Here, kom” – vgl. Openb. 22:20)
  • Die genade van die Here Jesus bly met julle!
  • My liefde bly met julle almal in Christus Jesus.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar