Skip to main content

Sefanja 1

Die dag van die Here bring oordeel oor dié wat die Here nie opsoek en raadpleeg nie

Inleiding

Sefanja is ‘n ouer tydgenoot van Jeremia, Nahum, Obadja en moontlik Joël. Sefanja waarsku Juda en Jerusalem dat die belydenis van God se hulp in die profeet Nahum net vervulling kan vind in die nougesette terugkeer na en bekering tot die Here. Anders sal sy toorn hulle net so seker tref as wat dit Nineve sal tref. Hy profeteer ook téén die nasies (Sef 2:4-15).

Sefanja verkondig sterk – soos die profeet Joël – dat die “dag van die Here” (Sef 1:7,14) gaan aanbreek. Verwysings na “die/daardie dag” kom bv 16 keer voor tussen Sefanja 1:7 en 2:3! Hierdie dag van die Here sluit soos by al die ander profete oordeel en genade in. Vergelyk bv Sefanja 2:1-3 waar die dag moontlik ‘n geleentheid tot bekering kan wees: “Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here.” Maar, sonder bekering sal die oordeel van die Here die volk verwoes, soos inderdaad met die wegvoering in ballingskap gebeur het.

Tog eindig die boek steeds met van die mooiste beskrywings van die verlossing wat God sal bring. Dit geld vir beide die nasies – “daarna sal Ek weer nasies se lippe rein maak” (Sef 3:9) – as vir die Godsvolk – “Die Here jou God is in jou midde, ‘n held wat bevry. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou nuut met sy liefde. Hy sal met uitroepe van vreugde oor jou jubel.” (Sef 3:17).

Sefanja is volgens vers 1 moontlik ‘n koninklike afstammeling, ‘n agter-kleinkind van koning Hiskia, hoewel Amarja nie as ‘n seun van Hiskia êrens anders genoem word nie (daar is wel só ‘n hoëpriester, maar uit ‘n vroeër tyd – 2 Kron 19:11). Die ander name wat genoem word, is ook nie bekend nie. Daar is dus wel ‘n skraal moontlikheid dat Sefanja familie is van die koning van sy tyd, Josia. Ons het egter nie genoeg inligting om dit verseker te sê nie.

Sefanja profeteer in Juda vóór die val van Nineve in 612 vC (in Sef 2:13 word dit voorspel) en ook waarskynlik vóór die hervormings van Josia ingeskop het in 622-621 vC. Dié hervormings het veranderinge ingesluit van juis dié dinge waarteen Sefanja hom uitgespreek het (Sef 1:4 – Baälaanbidding; Sef 1:5 – aanbidding van hemelliggame). Josia het dus waarskynlik Sefanja se boodskap ter harte geneem, soos hy dit ook gedoen het met die boodskap van Jeremia (vgl 2 Kron 34-35).

Interessant genoeg tree daar ook ‘n priester met die naam Sefanja ‘n bietjie later in dié tyd op (Jer 21:1). Hoewel daar geleerdes is wat die priester en die profeet met mekaar in verband bring, was dié priester Sefanja se pa egter Maäseja.

Daardie Sefanja het ’n meer gematigde houding as die ander amptenare teenoor Jeremia gehad. Hy lees op ’n punt vir hom briewe wat van die ballinge af teruggestuur is (Jer 29:29) en reageer nie op die negatiewe inhoud daarin nie. Hy vra op ’n keer, in opdrag van koning Sedekia, dat Jeremia vir die volk sal bid (Jer 37:3), hoewel dit nie tot enige uitkoms gelei het nie.

Daardie Sefanja is in ballingskap weggevoer en deur koning Nebukadnesar doodgemaak in Ribla, in Hamat, ’n tragiese einde (Jer 52:24-27).

Teks en konteks

Hierdie hoofstuk is literêr baie kunstig saamgestel. Ná vers 1 die profesie histories geplaas het in die tyd van koning Josia van Juda, vervolg Sefanja met die aankondiging van die dag van die Here.

Die Here gaan die hele aarde vernietig met vuur – Sefanja 1:2-3 en 1:18b

Sefanja omraam die gedeelte oor die dag van die Here met ‘n aankondiging dat die Here metafories die hele aarde gaan vernietig soos eenmaal met die sondvloed in die tyd van Noag. Let op hoe Hy in vers 2-3 sê: “Ek gaan ‘n einde maak aan alles op aarde”. Dit sluit die mense, diere, voëls en visse in.

Dit word geëggo in vers 18b: “Hy bring vernietiging en skrik oor al die inwoners van die land/aarde.” Die Hebreeuse woord vir land en aarde is presies dieselfde: ‘êrêtz. In die konteks verkies ek om vers 18 te verstaan as dat dit op die aarde dui, soos dit in die OAV en NIV en verskeie ander vertalings gedoen word.

Dit enigste verskil is dat die oordeel nie met water geskied nie, maar met vuur.

Binne hierdie raamwerk wy Sefanja eerstens uit oor die sonde van Juda (Sef 1:4-9), beskryf tweedens die reaksie van die mense as God hulle oordeel (Sef 1:10-13) en beskryf derdens die katastrofale karakter van die dag van die Here wanneer dit uiteindelik in sy felheid aanbreek (Sef 1:14-18a).

Die rede vir dié verwoesting is in vers 2-3 die goddeloosheid van die mense wat nie net God geminag het nie, maar ander: “mense laat struikel het”. ‘n Mens dink onmiddellik weer aan die ooreenkomste met oortredings van die twee tafels van die wet soos dit opgesom is in die liefdesgebod in die NT.

Juda se sonde – Sefanja 1:4-9

In die res van die gedeelte binne hierdie raamwerk word die sondes van die mense verder uitgepak. Sefanja verwys na die sondes van Baälaanbidding (Sef 1:4), hemelliggaam aanbidding (Sef 1:5), kinderoffers aan Milkom (Sef 1:5), en doodgewoon: “dié wat die rug vir die Here draai, nie na sy wil vra nie en Hom raadpleeg nie.” (Sef 1:6).

Daarby word gevoeg: dié wat “uitlandse klere dra” (Sef 1:8 – ander kulturele gebruike aanneem), bygelowe handhaaf deur bv, nie op ‘n drumpel te trap nie (Sef 1:9 – dit verwys moontlik na die Filistynse gebruik om nie op die drumpel van die tempel te trap nie ná die val van die afgod Dagon, soos in 1 Sam 5:5 vertel), geweld en bedrog (Sef 1:9) en selftevredenheid waarin nie met God rekening gehou word nie (Sef 1:12).

Die Here gaan dit alles uit “hierdie plek” uitroei.

Juda se reaksie – Sefanja 1:10-13

Die nood en smart in die stad word baie konkreet beskryf met die benoeming van die plekke waar dit in Jerusalem ervaar sal word. Die Vispoort was in die noorde, die tweede stadswyk was waarskynlik ‘n nuwer deel (by wyse van spreke, anderkant die spoor), en die Vysel waarskynlik ‘n aanduiding van die markplein. Sosiaal en ekonomies sal Jerusalem verwoes word tot groot verbasing en afgryse van dié wat gedink het dat die Here nie goed óf kwaad kan doen nie.

Die katastrofale karakter van die dag van die Here – Sefanja 1:14-18a

Die dag van die Here kom met geweld. Dit is ‘n dag van nood en benoudheid – let op hoe poëties dit beskryf word met metafore uit die natuur. Angs pak die mense beet en laat hulle soos blindes loop. Geen rykdom sal in dié dag enigiemand red nie. Silwer en goud sal nutteloos wees, wanneer: “die hele land verteer word deur die vuur van sy woede.

Boodskap en betekenis

Sefanja gee vir ons hier dieselfde boodskap wat die ander profete ook gegee het rondom die oordeel van die Here wat metafories met vuur geskied (Jes 66; Jer 21; Eseg 20; Joël 2; Amos 7; Miga 1).

Dit word in die NT verder geneem en met die voleinding in verband gebring (Matt 13; 1 Kor 3; Hebr 12; Openb 14). Daarom is dit steeds ‘n boodskap wat ons ter harte moet neem en ons moet aanspoor om ons getuienis taak ernstig te neem om hierdie wêreld van God se verlossende oordeel te vertel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…