Skip to main content

Romeine 9

God bied die regte verhouding met Hom aan Jode en nie-Jode deur geloof

Na Paulus met soveel oorgawe oor die regte verhouding met God geskryf het wat vir alle mense deur geloof alleen geld, is dit heel natuurlik om te wonder oor die toekoms van die Jode na die vlees.

Paulus wy in Romeine 9-11 uitvoerig hieroor uit. Let veral op hoe hy in ’n reeks vrae sy antwoorde aan die orde stel, en dan aan die einde van hoofstuk 11 die beginsel gee wat die hele antwoord dra: “God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon.” (11:32)

Die eerste deel van Paulus se antwoord is ook die sewende hoofdeel van sy boodskap wat strek van Romeine 9:1-33. Dit handel oor God se plan om redding deur geloof alleen aan Jode en nie-Jode aan te bied. Dit sal opgevolg word met die tweede deel (in twee hoofstukke) wat ook die agtste hoofdeel van Paulus se boodskap is. Dit verkondig dat hierdie redding in Christus is en God daarvoor geprys moet word (10:1-11:36).

Teks en konteks

Paulus is hartseer dat Israel ten spyte van al hulle voorregte weier om in Christus te glo (9:1-5)

Paulus begin deur van sy ontsaglike droefheid en onophoudelike pyn oor sy volksgenote te praat. Hy sou inderdaad wou bid om self vervloek te wees, verwyder van Christus, in belang van sy volksgenote na die liggaam.

Paulus praat hier dieselfde taal as Moses dat hy graag in die plek van die volk van God afgesny wou wees, maar weet weens Moses se ervaring dat dit nie vir God aanvaarbaar sou wees nie (Eks. 32:32). Dit wys egter hoe ernstig Paulus oor die Israeliete voel. Sy volksgenote het immers ongelooflike voorregte gehad, waarvan die toppunt is dat Christus uit hulle gebore is.

God se heilsplan was altyd op beloftes gebaseer, nie op afkoms nie (9:6-9)

Paulus herhaal egter die gedagte dat blote afstamming nie die deurslag gee in die geestelike lewe nie: “Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie.” Gelowiges is kinders van die belofte en nie blote vleeslike kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore word nie, soos die verhaal van Abraham en Sara met Isak bewys.

Hy gebruik twee aanhalings uit Genesis om dit te onderstreep:

  • “Want dít is die woord van die belofte: ‘Teen hierdie tyd sal Ek kom en sal Sara ‘n seun hê.’” (Gen 18:10, 14)
  • “Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.” (Gen 21:12)

Daaroor het Paulus ook al in Galasiërs 4 geskryf met Sara en Hagar as voorbeelde van hierdie onderskeid.

God se heilsplan was nooit op dade gebaseer nie, maar op sy uitverkiesing (9:10-13)

Paulus brei dit hier uit met die voorbeelde van Jakob en Esau wat vir Isak gebore is. Vóór hulle geboorte, vóór hulle nog iets goeds of kwaads gedoen het, het God al sy voorkeur vir Jakob bekend gemaak aan Rebekka: “Die oudste sal die jongste dien.” (Gen 25:23)

God se voorneme vir die verloop van hulle lewe was dus op sy uitverkiesing, op sy roeping, gebaseer, nie op grond van wat hulle sou doen nie.

As ‘n verdere bewys van hierdie keuse van die Joodse volk – die nasate van Jakob – haal Paulus die profeet Maleagi aan wat God se verhouding met die Jode ná die ballingskap steeds op God se keuse van Jakob bó Esau baseer: “Jakob het Ek liefgehad, maar van Esau het Ek ‘n afkeer gehad.” (Mal. 1:2-3)

Die verwysing na “liefde” en “afkeer” (“haat”) moet nie letterlik verstaan word nie, maar as verbondstaal. Die “liefde” dui op uitverkiesing (vgl Deut 7:8; Jer 31:3; Hos 3:1; 9:15; 11:1) en die “haat” op verwerping in terme van die verbond.

God is nie onregverdig om sy uitverkiesing op sy ontferming te baseer nie (9:14-18)

Die vraag is dan egter of God nie onregverdig is deur só ‘n keuse nie. Beslis nie, sê Paulus!

Paulus gebruik twee voorbeelde om dit te illustreer.

Die eerste is die voorbeeld van God wat Moses se versoek om sy heerlikheid te mag sien, toestaan. God verklaar die toegewing aan sy vryheid om barmhartig te wees oor wie Hy wil (Eks 33:19). Dit berus nie by die mens se wil en inspanning nie, maar by God se keuse oor wie Hy Hom wil ontferm.

Die tweede voorbeeld is die verharding van farao se hart. Dit is net soseer ‘n getuienis van God se soewereine vryheid. Paulus haal uit Eksodus aan: “Juis hiervoor het Ek jou verhef, sodat Ek deur jou my krag kan toon, en sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.” (Eks. 9:16)

Paulus se gevolgtrekking is dus dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en Hy maak hardkoppig wie Hy wil, soos ‘n mens dit in die verhaal van farao kan sien uitspeel (vgl Eks. 4:21; 10:20,27; 11:10; 14:4).

Dit is uit Eksodus ook duidelik dat farao self koppig bly (vgl Eks. 7:13; 9:12), dws dat hyself skuldig is aan die verharding, hoewel Paulus dit nie hier in sy argument intrek nie, want Hy wil God se soewereiniteit beklemtoon.

God het die reg om te besluit wie Hy uitverkies uit Jode en nie-Jode (9:19-29)

Die vraag wat dan hieruit voortspruit, is hoe God enigsins met mense fout kan vind, hulle verantwoordelik kan hou vir hulle lewe. Want, hulle kan tog nie sy wil weerstaan nie.

Paulus het al vroeër ‘n antwoord hierop gegee uit die hoek van die oordeel oor die sonde met verwysing na Dawid en Batseba. Dit is immers nie God se skuld dat iemand sy wet oortree nie. Hy is regverdig en sal die wet handhaaf, en gevolglik altyd die sonde straf as mense ongehoorsaam is aan sy wet (vgl Rom 3:5-6).

Hier antwoord Paulus die vraag uit die hoek van God se soewereiniteit met voorbeelde en aanhalings uit die profete Jeremia, Jesaja en Hosea.

God het soos die pottebakker die reg om uit dieselfde stuk klei ‘n voorwerp vir edele gebruik, ‘n voorwerp van sy ontferming, of vir onedele gebruik, ‘n voorwerp van sy toorn, te maak (vgl Jer. 18).

Hy het die verdere reg om die voorwerpe van sy toorn met groot geduld te verdra en so sy krag aan almal bekend te maak.

Op soortgelyke wyse het Hy die reg om te verklaar dat Hy die voorwerpe van sy ontferming voorberei vir heerlikheid. Uit Jode en nie-Jode.

Paulus haal twee gedeeltes uit Hosea aan om te wys dat hierdie uitverkiesing vir nie-Jode geld (Hos. 2:22; 1:10). Ook nie-Jode sal kinders van die lewende God genoem word.

Hy haal ook twee gedeeltes uit Jesaja aan om te wys dat hierdie uitverkiesing uiteraard steeds vir Jode geld, maar beklemtoon daarmee dat dit net ‘n oorblyfsel sal wees, omdat die Here: “‘n volledige en spoedige afrekening op die aarde hou.” (Jes. 10:22-23)

Trouens: ““As die Here, Heerser oor alle magte, nie vir ons ‘n nageslag laat oorbly het nie, sou ons soos Sodom geword het, en sou dit met ons soos met Gomorra gegaan het.” (Jes 1:9)

God gee die regte verhouding met Hom deur geloof en nie deur die wet nie (9:30-33)

In aansluiting by die oorblyfsel idee, verduidelik Paulus sy ironiese gevolgtrekking in twee stellings:

  1. Die heidene het God se genade deur die geloof gevind al het hulle nie daarvoor gesoek deur wetsgehoorsaamheid nie.
  2. Israel daarenteen het genade in wetsgehoorsaamheid gesoek, maar dit nie gekry nie, omdat dit net deur geloof gevind kan word.

Die Jode het dus oor die struikelblok gestruikel soos Jesaja dit eenmaal geformuleer het: “Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer waaroor ‘n mens kan struikel, ja, ‘n rots wat jou kan laat val.” (Jes 28:16)

Maar, sommige het wel die pad van geloof gevind. En daaroor het Jesaja gesê: “maar wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” (Jes. 8:14)

Dit geld Jood en nie-Jood.

Boodskap en betekenis

Romeine 9 beklemtoon God se soewereine heilsplan, waarin redding deur geloof aan Jode en nie-Jode aangebied word. Paulus worstel met sy hartseer oor Israel se ongeloof, ondanks hul unieke voorregte as God se volk. Hy verduidelik dat redding nooit op fisiese afkoms of menslike prestasies gebaseer was nie, maar op God se beloftes en uitverkiesing. Met verwysing na voorbeelde soos Isak, Jakob, en Esau, sowel as Jeremia, Hosea en Jesaja, wys Paulus dat God se genade nie beperk is tot een groep nie en dat geloof die sleutel tot die regte verhouding met God is. Hierdie boodskap beklemtoon God se regverdige soewereiniteit en sy insluiting van beide Jode en nie-Jode in sy plan van verlossing, terwyl Hy steeds aan sy verbond getrou bly.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.