Skip to main content

1 Korintiërs 10:1-11:1

Gemeenskap met God moet ten alle koste beskerm word

Paulus vervolg in hoofstuk 10 om hulle verder te waarsku teen afgodsdiens en onsedelikheid veral met die perspektief van die gemeenskap met God wat ten alles koste beskerm moet word. Hy gebruik die voorbeeld van Israel se afvalligheid in die woestyn om hulle te waarsku om hulle nie teen God te verset en Hom uit te tart met soortgelyke sondes nie (1 Kor. 10:1-22). Hy spel ook die regte verstaan van Christelike vryheid uit weereens soos in hoofstuk 6 met verwysing na die gesegde wat die Korintiërs gebruik het om hulle sonde goed te praat: “Alles is geoorloof.” (1 Kor. 10:23-11:1).

Teks en konteks

Afgodsdiens en onsedelikheid bedreig die gemeenskap met God – 1 Korintiërs 10:1-22

Wat Paulus hier in hoofstuk 10 aan die orde stel, is integraal verbind aan dit waarmee hoofstuk 9 afgesluit is, om só die Christelike wedloop te hardloop dat jy die wenpaal kan behaal.

Paulus herinner daarom die Korintiërs aan die ervaring van die volk in Moses se tyd, dat hulle al die voorregte wat God gegee het in die woestyn kon geniet, maar tog nie die wenpaal, die intog in die beloofde land, bereik het nie.

Die oordekking met die wolk (simbool van God se teenwoordigheid) en die tog deur die see (simbool van God se redding) by die Uittog laat Paulus aan die funksie van die doop dink – dit ontferm en beskerm. Net so laat die voorsiening van brood (manna was “kos uit die hemel” – Eks. 16:4; Ps. 78:24-25) en water (Eks. 17:6; Num. 20:7-11) in die woestyn Paulus dink aan die funksie van die brood en wyn van die Nagmaal – dit voed en les ons dors deur ons gemeenskap met God. Die rots was beide die simbool van God se voorsienigheid sowel as sy teenwoordigheid, iets wat met die werklikheid van Christus by hulle verbind word, lank voor Hy in die vlees gekom het – ’n misterieuse wonder (vgl. Judas 4-5 waar op soortgelyke wyse van die Here Jesus se teenwoordigheid in die woestyn gepraat word).

Met dié voorbeeld spoor hy die Korintiërs aan om nie in onsedelikheid en afgodsdiens te verval nie, want dit bring hulle gemeenskap met God in gedrang, wat ten alle koste beskerm moet word. Hy verwys hier terug na vyf gevalle uit die geskiedenis van Israel in die woestyn tydens die Uittog, wat vir die Korintiërs as voorbeeld en waarskuwing moet dien:

  1. vers 6: sondige begeertes (Num. 11:4–35 – waar die volk gestraf word by Kibrot-Taäwa weens hulle lus vir vleis wat hulle in opstand teen die Here laat kom – die Here stuur wel kwartels, maar straf hulle vir hulle gulsigheid – ’n oortreding van die tiende gebod);
  2. vers 7: afgodsdiens (Eks. 32 – die bekende verhaal van die goue kalf waar die volk die goue kalf as God aanbid het en losbandig te kere gegaan het – net Moses se tussenkoms keer dat die hele volk uitgewis word – ’n oortreding van die eerste twee gebooie);
  3. vers 8: onsedelikheid (Num. 25 – die verhaal van die Israelitiese mans wat met Moabitiese en Midianitiese vrouens seks gehad het as deel van die offers aan Baäl-Peor en deur die Here gestraf is – ’n oortreding van die sewende gebod. Terloops, Moab was een van die kinders van Lot by sy dogters [Gen. 19:37]);
  4. vers 9: uittarting van God (Num. 21:4–9 – die verhaal van die ongeduld van die volk teenoor die Here toe hulle by die Horberg verbygetrek het, en Hom verkwalik het vir die Uittog, en waar die Here giftige slange gestuur het om hulle te straf, maar daar redding was deur die koperslang wat Moses gemaak het);
  5. vers 10: verset teen gesag/God (Num. 16 – die opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses en Aäron se gesag as leiers, maar wat eintlik ‘n verset teen die Here en sy keuses was, met die Here wat hulle uitgewis het deur die aarde wat hulle insluk).

Paulus skets dus hier op ’n baie grafiese manier die versoekings van gulsigheid, onsedelikheid, afgodsdiens, ondankbaarheid (die uittarting van God deur nie met sy pad met jou tevrede te wees nie), en die verset teen gesag, want dit is eintlik ’n verset teen God self.

Maar daarmee saam skets hy die pad uit die versoekings – God sal nie toelaat dat ’n mens versoekings kry wat jy nie in staat is om te weerstaan nie, want Hy sal saam met die versoekings ook die uitkoms gee, sodat hulle dit kan weerstaan.

Hy sonder dan die versoeking uit om by afgodsdiens betrokke te raak, en hoewel hy steeds erken dat ‘n afgodsoffer of ’n afgod van geen betekenis is nie, het dit wel betekenis vir die persoon wat aan ’n afgod offer. In ’n sekere sin, sê hy, is dit net soos wat die gelowiges by die Nagmaalstafel ervaar – daar is gemeenskap met God. Dit beteken dat met ’n afgodsoffer dieselfde gebeur, maar die gemeenskap is nie met God nie, maar met bose geeste, d.i. met die duiwel self, en dit bring hulle gemeenskap met God in gedrang.

Dit gaan dus in elkeen van sy voorskrifte oor die beskerming van hierdie gemeenskap met God. Niks mag met God in jou lewe kompeteer nie, nie jou begeertes nie, nie jou gedrag nie, en ook nie jou (af)godsdiens nie.

1 Korintiërs 10:23-11:1

In vers 23 brei Paulus verder uit op die tema van die eet van afgodsvleis. Dit is iets waaroor hy al vroeër in hoofstuk 8 geskryf het. Hy herhaal hier dat ’n mens nie jou vryheid moet gebruik ten koste van ander se gewete nie, iets waaroor hy ook reeds in hoofstuk 6 geskryf het met verwysing na die gesegde wat die Korintiërs gebruik het om hulle sonde goed te praat: “Alles is geoorloof.”

Ons is vry in Christus, ja, maar dit is ‘n vryheid van sonde. Ons moet dus in alles vra wat is nuttig en opbouend, want ons mag nie ons eie belang soek nie, maar dié van ander.

Dit is belangrik om raak te sien dat dit dus nie gaan oor die eet van vleis as sodanig nie, want “die aarde en die volheid daarvan behoort aan die Here”, kos ingesluit. Dit gaan in die eerste plek oor die een saam met wie jy eet. Sy of haar belange moet gedien word.

As jy dus saam met ‘n ongelowige eet, moenie ‘n kwessie maak van die vleis nie. Maar, as iemand se gewete daardeur beswaard kan word, moenie dié vleis eet nie.

Want, nog dieper as die gewete van die een saam met wie jy eet, gaan dit in hierdie lewe oor die eer van God. Ons moet dus nooit aanstoot gee aan mense nie, omdat dit hulle Godsbeeld in gedrang kan bring. Hoe ons optree, sê vir hulle hoe God is!

Daarom soek Paulus nie sy eie belang nie, maar dié van ander, sodat hulle gered kan word, soos hy reeds in hoofstuk 9 vertel het. Omdat hy hierin die voorbeeld van Christus navolg, moet ons hom ook daarin navolg, soos hy in die volgende hoofstuk sal skryf (1 Kor. 11:1).

Boodskap en betekenis

Gemeenskap met God is die grootste voorreg wat enigeen van ons ooit kan hê. Dit moet dus ten alle koste beskerm moet word. Paulus gebruik Israel se geskiedenis in die woestyn as ’n ernstige waarskuwing teen die gevaar van afgodsdiens, onsedelikheid en opstandigheid – sondes wat hulle verhouding met God vernietig het en daartoe gelei het dat hulle die beloofde land misgeloop het. Hy waarsku die Korintiërs om nie dieselfde foute te maak nie, want alhoewel God genadig is en ’n pad uit versoeking bied, is Hy ook heilig en regverdig wat dié dinge straf.

Paulus se sentrale boodskap in al die etiese vrae wat die Korintiërs aan hom stel, is dat ware Christelike vryheid nooit losgemaak mag word van verantwoordelikheid teenoor God en medegelowiges nie. Gelowiges moet hulle vryheid gebruik om ander op te bou en God te eer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar