Skip to main content

Joël 1

Die Here roep die volk op tot bekering deur verwoestende bedreigings

Inleiding

Die datum van die profeet Joël se optrede word nêrens aangedui nie.  Daar is ook niks meer oor hom bekend as wat ons in die boek self lees nie. Al wat ons daar van hom lees, is dat hy die seun van Petuel was (1:1).  Meer weet ons nie van hom af nie.

Dit wil voorkom asof Joël ná die tyd van die noordryk optree aangesien hy net oor Juda en Jerusalem praat.  Die noordelike tienstamme ryk is in ballingskap deur die Assiriërs in 722 v.C. weggevoer.  Joël se klem op Sion en Jerusalem beteken verder dat hy waarskynlik ‘n profeet van die suidelike tweestamme ryk was.  Só ‘n argument uit stilswye is egter nooit iets waarop ‘n mens alleen kan staatmaak nie.

Daarom verwys sommige geleerdes na Joël se gebruik van die “vyand uit die noorde” (2:20) wat ooreenkom met verskeie van die profesieë van Jeremia (Jesaja praat egter ook daarvan) waarmee Jeremia veral na die bedreiging van die Galdeërs onder Nebukadnesar verwys.  Joël se skildering van dié bedreiging as ‘n vlaag opeenvolgende sprinkaanplae (1:4 – hy noem vier swerms), gekoppel aan die onafwendbare nabyheid van die finale veldslag, die “dag van die Here” (1:15), sowel as die feit dat die tempeldiens nog in volle swang is (1:13 – al roep hy die priesters op om te treur oor die bedreiging!), laat ‘n mens dink aan ‘n optrede net voor die val van Jerusalem, 588-586 v.C.

Indien dié argument water hou, was Joël dan waarskynlik ‘n 6de eeu v.C. tydgenoot van Jeremia, Obadja en Habakuk. Hy tree waarskynlik op net ná Sefanja en Nahum, en weer net voor Esegiël wat eers in ballingskap deur die Here geroep word.

Joël is die boek wat die “dag van die Here” die helderste en mees volledige op die tafel sit (1:15; 2:1; 3:14).

Waar Amos vroeër in die 8ste eeu v.C. die dag van die HERE eintlik nét as ‘n dag van oordeel geskets het (Amos 5:18-20), beskryf Joël die dag van die Here as ‘n dag wat veral oordeel oor die nasies sal beteken (Joël 3:12), maar op redding vir Israel sal uitloop (3:16).

Die boek van Joël verwoord dus op noodsaaklike en meer omvattende wyse een van die sentrale temas van die Kleiner Profete – die koms van die “dag van die Here” – al het hy waarskynlik lank ná Amos en Hosea eers op die toneel verskyn.  Ook die besondere plek wat die verwante tema van die beskerming van Jerusalem in die boek Joël inneem, sal verder op uitgebrei word in die ander profete wat volg.

Dié boek het daarby ook duidelike eskatologiese trekke waaraan die NT uitstorting van die Heilige Gees verbind word, en waarvan sommige van die kosmiese oordeelsbeskrywings daarin ook met die Openbaring van Johannes verbind kan word.

Teks en konteks

Hierdie eerste deel van Joël begin met ‘n oproep tot aandag.  Dit word gerig aan die leiers sowel as aan al die inwoners van die land.  Aan hulle word ook die belangrike opdrag gegee om dié boodskap aan die komende geslagte deur te gee: “aan julle kinders, en laat hulle dit weer aan húlle kinders vertel, en dié weer aan húlle nageslag”.

Joël 1:4-7 – Die verwoesting van die sprinkane is ‘n teken van die verwoesting deur die vyand

Die Here vestig hulle aandag op vier verwoestende sprinkaanplae ná mekaar wat die wingerde vernietig het.  Al die wynsuipers, sê die Here, gaan ontnugterd nugter word.  Die wyn is op!

Dít is ‘n metafoor vir die vyand wat teen die land optrek en hulle sal vernietig. Aan die een kant is dit werklike sprinkane wat aan die hand van hulle vreeslike vreetlus beskryf word. Maar aan die ander kant is dit ook ‘n tekening van die politieke vyand, soos hoofstuk 2 verder op sal uitbrei.

Indien Joël nét voor die ballingskap na Babel geskryf is, dui dié vyand op die Galdeërs.  Die vier sprinkaanplae is moontlik as metafore gebruik vir die verskillende veldslae teen Jerusalem tussen 609 v.C. en 586 v.C.  Josia sterf in 609 v.C. in die konflik tussen die Galdeërs en Egipte, Daniël en ander hooggeplaastes word weggevoer in 606 v.C. na ‘n veldtog van Nebukadnesar teen Juda, Jojakim word weggevoer in 597 v.C na Babel in ‘n volgende veldtog, en in 586 v.C. val Jerusalem finaal in die tyd van Sedekia en word Juda in ballingskap weggevoer.

Let ook op dat die vernietiging wel in landbou terme uitgespel word, maar dit is ook ‘n metafoor vir die volk, want dit is “my” wingerd wat verwoes is, “my” vyeboom wat afgebreek, kaalgestroop, en die bas afgevreet is. Dit raak ‘n mens ook dat selfs in hulle vernietiging die Here hulle met Hom identifiseer.  Hulle is steeds syne.

Joël 1:8-12 – Treur en rou oor die verlies en vernietiging wat julle ervaar

Die skade wat die sprinkane/nasie aanrig word steeds in landbou terme uitgespel.  Die graan, drank, weiding, veld, koring, wyn, olywe, gars, vrugte, vye, granate, dadels en appels het alles ten gronde gegaan.  Dit is ‘n totale skade vir die ekonomie van die plaaslike saai- en vrugteboere, maar ook ‘n skade vir die tempel ekonomie: die priesters treur omdat daar niks in die tempel is om te eet nie! Die veeboere het ook swaar gekry, soos later genoem word, maar die beweeglikheid van hulle kuddes het waarskynlik ‘n groter ramp vir hulle voorkom.

Weens die verwoesting, raai die Here hulle aan om te rou – soos ‘n bruid rou oor haar bruidegom (“die verloofde van haar jeug” – d.w.s iemand wat aan haar beloof is, maar wat óf nie tot trou kom nie, óf dood is) – want die krisis moet vierkantig in die oë gestaar word.  Hulle moet treur en kla “want daar het ‘n einde gekom aan die vreugde van die mense.

Joël 1:13-20 – Kom by mekaar en roep saam na die Here

Die krisis wat die Here stuur, is gemik daarop dat daar ‘n nuwe eendragtigheid onder die volk onder leiding van die priesters gevestig kan word.  Die priesters moet daarom ‘n vasdag bepaal waar al die leiers en die inwoners van die land bymekaar kan kom om na die Here te roep.  Wat hulle beleef, is ‘n “dag van die Here”, ‘n dag waarin Hy verwoestende bedreigings gebruik om hulle tot bekering te roep.

Die verwoestende effek daarvan word weereens in terme van die tempel ekonomie uitgespel, sowel as in terme van die saaiboere se skade, maar nou ook bykomend in terme van die veeboere wie se vee bulk en blêr.

Die profeet self roep hartroerend tot die Here en wys dat hy raaksien wat gebeur, dat dit hom diep raak en verklaar dat hulle almal, soos die diere, “wag op uitkoms van U af.

Boodskap en betekenis

Dit is regtig fundamenteel dat die boodskap van die Here van geslag tot geslag oorgedra moet word, nie net in goeie tye nie, maar ook in tye van verlies en vernietiging.  ‘n Mens sou selfs kon sê, veral in tye van vernietiging.  Ons staan immers in ‘n geloofsverbintenis nie net met die gelowiges wat saam met ons aanbid nie, maar veral en in die eerste plek in ‘n geloofsverbintenis met ons kinders en kleinkinders en selfs verder aan in die geslagte.

Dit is ook net so fundamenteel deel van die boodskap van die Here dat verlies en vernietiging ‘n oproep tot samehorigheid en eendragtigheid is vir die hele geloofsgemeenskap. Dit is hierdie tye wat deur die Here gebruik word om mense tot inkeer en ‘n herverbintenis aan Hom te bring wat só noodsaaklik is as soeke na en die wag op die uitkoms van die Here.  Soos Joël kan ons dan ook uitroep dat ons “wag op uitkoms van U af.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…