Skip to main content

Esegiël 47-48

God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land

Esegiël sluit sy profesieë af met ‘n inspirerende visie op die stroom water wat van onder die heiligdom se drumpel deur die oospoort loop en lewe gee so ver as wat dit gaan tot in die Dooie See (47:1-12). Daarna fokus hy op die grense en verdeling van die land (47:13-48:29) sowel as op die stad waarvan die naam voortaan sal wees: “Die Here is daar.” (48:30-35). Al drie hierdie beskrywings skets die ideale situasie wat God vir sy mense in gedagte het. Oorvloedige lewe, gelyke kanse in sy teenwoordigheid.

Teks en konteks

Esegiël 47:1-12 – Die stroom water uit die tempel gee lewe tot in die Dooie See

Die man met die meetstok vestig Esegiël se aandag op die stroom water wat van onder die heiligdom se drumpel regs deur die oospoort loop. Dit word met verdrag al hoe dieper. Groot hoë bome het op die walle daarvan gegroei waarvan die vrugte voedsaam en die blare genesend was.

Met die terugkeer na die tempel sê die man vir Esegiël dat dié stroom deur die Jordaanvallei tot in die Dooie See loop en selfs die soutwater vars maak tot voordeel van die mense, die dier en selfs die visse: “Waar die stroom kom, sal alles lewe.” Net ‘n deel sal sout bly, waarskynlik vir gebruik in die kultus (43:24). Die vissers sal oral voordeel uit die oorvloed trek van En-Gedi (vandag nog aan die Dooie See) af tot by En-Eglajim (waarskynlik die varswater bron naby Qumram waar die Dooie See rolle ontdek is).

Interessant is die ooreenkoms met Johannes se visioen van: “die rivier met die water van die lewe” wat elke maand vrugte lewer en waarvan die blare van die boom genesing bring “vir die nasies” (vgl. Openb 22). Dit is duidelik dat Johannes op Esegiël se profesie uitbrei en in ‘n breër konteks plaas, beide in terme van die eindtyd sowel as in terme van die boodskap ook vir die nasies.

Esegiël 47:13-48:29 – Die land word regverdig onder die twaalf stamme verdeel

Let op dat die land regverdig verdeel word onder die twaalf stamme, die nageslag van Jakob, d.w.s die hele Israel. Omdat Levi hulle deel by die heiligdom gekry het, kry die twee seuns van Josef, Efraim en Manasse, elkeen ‘n gelyke deel soos die ander tien stamme. Dit gee ‘n verdeling van dertien grondgebiede as ‘n mens die grondgebied van die heiligdom byreken.

Anders as in Numeri 34 met die vorige indeling van die gebiede van die 12 stamme, gee Esegiël hier ‘n baie meer eweredige verdeling van die land as van te vore. Die enigste voorrang lê in hoe naby Juda en Benjamin aan die middelste strook ingedeel word, die deel waar die heiligdom van die Here geleë is. Vergelyk die indeling op meegaande kaart (Grafika met erkenning aan http://www.gutenberg.org).

Die grense is basies die Jordaanvallei aan die oostekant, die Middelandse See aan die westekant, die grens tussen Israel en Damaskus (Sirië) aan die noordekant, en die grens met Egipte aan die suidekant.

Interessant genoeg kry die vreemdelinge wat al ‘n geslag lank tussen hulle woon ook grondgebied: “Julle moet sulke vreemdelinge as medeburgers tussen julle beskou.” (47:22).

Sewe van die stamme lê na die noorde van die sentrale strook waar die heiligdom, die Levitiese gebied en die grondgebied van die regeerders is. Van die noordgrens af tot by die tempel word die gebiede van Dan, Aser, Naftali, Manasse, Efraim, Ruben en Juda ingepas. Die eerste drie stamme is afstammelinge van Jakob se byvroue (Dan en Naftali van Bilha, Ragel se slavin – Aser van Silpa, Lea se slavin), en die volgende vier stamme van sy vroue Lea (Ruben en Juda) en Ragel (Josef – Manasse en Efraim).

Vyf van die stamme lê na die suide van die sentrale strook af. Hierdie keer word hulle genoem van die heiligdom af tot by die suidgrens: Benjamin, Simeon, Issaskar, Sebulon en Gad. Die eerste stam is ‘n afstammeling van Jakob se geliefde vrou Ragel (Benjamin), en dan volg drie seuns van Lea (Simeon, Issaskar, Sebulon) en die laaste stam is ook ‘n afstammeling van Silpa, Lea se slavin.

Esegiël 48:30-35 – Die stad se naam word: “Die Here is daar.

Esegiël sluit sy visioen af met ‘n visie op die uitgange uit die stad wat op eweredige wyse toegang aan die twaalf stamme verleen. Die stad self is vierkantig en 5 km2 in oppervlak, 9 km in omtrek. Sy naam is: “Die Here is daar.” Weereens is die ooreenkomste met Johannes se visioen van die hemelse Jerusalem met sy twaalf poorte opvallend.

Boodskap en betekenis

Esegiël se laaste visioen sluit nie net hfst. 40-48 op ‘n inspirerende wyse af nie, maar inderdaad ook sy boek as sodanig. Teenoor die afgryse van die ballingskap en die verydeling en verwoesting van Jerusalem en die tempel in die eerste deel van sy boek, beskryf hy hier die ideale situasie wat God vir sy mense in gedagte het. Dit begin by God wat ‘n plek vir Homself in die lewe van sy mense skep, en ‘n tempel wat sy oorsprong in Homself het (hfst. 40-42). Dit word voortgesit in die vergifnis en aanbidding wat die sentrum van nie net die Godsvolk se geestelike lewe vorm nie (hfst. 43-44), maar alles in die gewone lewe beïnvloed. Selfs die Dooie See kan die effek van die lewe wat God gee nie weerstaan nie (45-48).

Die hart van Esegiël se visie is dat die Here oorvloedige lewe gee vir al sy mense met gelyke kanse in sy teenwoordigheid. Selfs die regeerders moet soos gewone gelowiges aanbid in die tempel! Dit is wat God vir sy mense in gedagte het, selfs vir die vreemdelinge wat hulle met die volk assosieer.

Hierop is natuurlik ook die boodskap van die NT gebaseer, hoewel dit in die lewe van Jesus en die Openbaring aan Johannes met nog meer detail uitgespel word. Die vervulling van dié visie van Esegiël lê uiteindelik in die nuwe hemel en aarde, die nuwe Jerusalem waarin God self die tempel in die midde van die gemeenskap van gelowiges sal wees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…