Skip to main content

Filippense 1:1-11

Laat julle liefde in onderskeiding toeneem

Hierdie intens-persoonlike brief aan die gemeente van Filippi is een van die briewe wat Paulus uit die gevangenis geskryf het (soos ook Kolossense, Efesiërs en Filemon). Die oudste tradisie hieroor is dat Paulus die brief uit Rome skrywe, wat klop met die interne getuienis in die brief self: die “keiserlike wag” (Fil. 1:13), “die huis van die keiser” (Fil. 4:22), en natuurlik dat hy uit die gevangenis skryf (Fil. 1:7).  Dit beteken dat Paulus die brief waarskynlik in die vroeë sestigjarige van die eerste eeu geskryf het, so 10 jaar na die stigting van die gemeente.

Die brief word aan die gemeente in Filippi gerig, die eerste gemeente op Europese bodem. Die gemeente is tydens Paulus se tweede sendingreis gestig. Dit was die direkte gevolg van die gesig wat Paulus in Troas (Turkye) van die Masedoniese man gesien het wat hom gesmeek het om hulle te kom help (Hand 16:8-10). Hy sou hulle later op sy derde sendingreis weer besoek, waarskynlik in die tyd van die Paasfees van 55-56 nC – die fees van die ongesuurde brode (Hand. 20:6) – voor hy Jerusalem toe vertrek het.

Teks en konteks

Let op dat Timoteus ook as skrywer aangedui word in vers 1, en daarby dat hy op dieselfde manier as Paulus as dienaars (douloi – slawe) van Christus bekendgestel word. Paulus kies dus om homself nie as apostel bekend te stel nie, maar as ’n dienaar, soos Timoteus. Dit is betekenisvol. Trouens dit is die eerste en enigste keer wat Paulus só skryf oor homself in samehang met iemand anders. En dit word nie net gedoen omdat Timoteus vroeër in Filippi gewerk het, en nou weer op pad was daarheen nie (Fil. 2:19), maar omdat Paulus daarmee iets van die selfontlediging illustreer wat in hoofstuk 2 aan die orde gestel sal word.

Vennote in die evangelie

Paulus begin die inhoud van sy brief met waardering en danksegging, veral omdat hulle vennote in die verkondiging van die evangelie geword het (vers 5). Hy gebruik die Griekse woord koinonia hier in die betekenis van vennootskap (partnership) wat op ander plekke in die betekenis van gemeenskap (fellowship) gebruik word. Dit sê vir hom dat die genade van God regtig sy werk gedoen het in die praktyk van hulle lewe (vers 7). En daaroor is hy baie bly, trouens die hele brief word deur hierdie onderliggende toon van blydskap gekenmerk.

Na aan die hart

Let op hoe Paulus twee keer praat van sy hart. Die eerste keer, in vers 5, praat hy daarvan dat hulle hom na aan die hart lê. Die tweede keer, in vers 7, praat hy van die verlange na hulle wat van Christus Jesus se liefde in sy hart af kom. Ons moet dit egter nie net as emosies verstaan nie, soos ons gewoonlik die woord hart gebruik nie. Die hart is in Grieks (en in die NT) nie net die setel van emosies nie, maar ook van denke. Net so is die woord wat hy gebruik vir dink (phronein), in vers 5, ’n woord wat juis ook gevoelens insluit. Paulus het dus nie net ’n diep gevoel van liefde vir hulle nie (gebore uit die liefde van Christus Jesus wat in sy hart uitgestort is – Rom. 5:5 verbind dit aan die werking van die Heilige Gees), maar dink ook die hele tyd aan dinge wat hulle belange op die beste manier kan dien, presies dit waaroor hy later in Filippense 2:3-4 gaan skryf.

Liefdesonderskeiding

Dit hang saam met wat Paulus dan in vers 9-10 beskryf. Ons ken waarskynlik geloofsonderskeiding – om in geloof te onderskei wat God se wil is – beter. Hier praat Paulus egter van liefdesonderskeiding, waar hy die woord liefde (agape) koppel aan die woorde betekenisvolle kennis (epignosis) en alle onderskeiding (pase aisthesis) in die oorspronklike Griekse teks, wat in die NAV met liefde, begrip en fyn aanvoeling onderskeidelik vertaal word.

Die woordjie alle (onderskeiding) beteken nie soseer volledige onderskeiding nie, maar ’n breë of diep begrip van wat op die spel is. Paulus bid dus dat hulle liefde só sal toeneem, spesifiek in betekenisvolle kennis (begrip/insig/praktiese kennis) en diep onderskeiding (ervaring/fyn aanvoeling/diep begrip), dat hulle die dinge kan onderskei waarop dit regtig aankom. Hulle perspektief op wat God doen, moet dus – soos ’n dataprojektor se lens – verhelder en skerper gefokus word. So kan hulle intelligente keuses maak deur te onderskei wat God wil, gebaseer op ‘n liefde wat groei in/deur kennis en onderskeiding! En die doel daarvan is 1) persoonlik: om geheel en al in die regte verhouding met God te kom – om “the best people possible” te wees, en 2) publiek: sodat hulle manier van leef en liefhê tot God se lof en eer sal wees – om “the best choices possible” te maak.

Boodskap en betekenis

Paulus sit dus twee konsepte reg aan die begin van die brief op die agenda: vertroue en verantwoordelikheid. Hy is oortuig daarvan dat God die goeie werk in hulle begin het, en dat Hy dit end-uit sal voer en voleindig op die dag van Christus (Fil. 1:6). Sy vertrekpunt, vertroue en verwagting is dus dat die gelowiges met God se voortdurende betrokkenheid en genade (Fil. 1:7) staande sal kan bly.

Maar, dit sal ook nie gebeur sonder dat elke gelowige hulle verantwoordelikheid nakom nie. Daarom die klem hier op onderskeidende liefde, wat in die brief aangevul sal word met ’n oproep tot persoonlike, en publieke gehoorsaamheid wat in ooreenstemming is met die evangelie van Christus Jesus. Dit sal verseker dat hulle op die dag van Christus onberispelik en sonder blaam sal wees, en deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God. En sy gebed is dat hierdie proses tot God se lof en eer sal bydra, die einddoel en mikpunt van alles (Fil. 1:10-11).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.