Skip to main content

Jesaja 40-41

Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag

Jesaja 40 gaan doodgewoon aan waar Jesaja 39 ophou, en hoewel dit duidelik is dat ‘n nuwe episode begin, is dit steeds deel van die oorhoofse literêre en teologiese eenheid van die boek.

Om die literêre en teologiese eenheid van die boek te illustreer, kan jy bv die volgende verwysings na die kenmerkende titel wat Jesaja vir God gebruik – die Heilige van Israel – naspeur.

Die frase kom net 6 keer in die res van die OT voor (2 Kon 19:22; Ps 71:22; 78:41; 89:18; Jer 51:5; Eseg 39:7), maar gereeld in Jesaja, altesame 26 keer. Dit is dus kenmerkend van Jesaja se teologiese taalgebruik.

Interessant genoeg kom die frase eweveel keer voor in beide hoofstuk 1-39 (13 keer) as in hoofstukke 40-66 (13 keer).

  • Jesaja 1-39: Jes 1:4; 5:19, 24; 10:17, 20; 12:6; 17:7; 29:19; 30:11, 12, 15; 31:1; 37:23.
  • Jesaja 40-66: Jes 41:14, 16, 20; 43:3, 14; 45:11; 47:4; 48:17; 49:7; 54:5; 55:5; 60:9, 14.

Dit maak dit baie waarskynlik dat dieselfde outeur verantwoordelik is vir die hele boek.

In die Nuwe Testament haal die apostel Johannes op een plek ook uit “beide dele” van die boek Jesaja aan en plaas dit, in omgekeerde volgorde, langs mekaar. Gaan kyk na Jesaja 53:1 en Jesaja 6:9 wat in Johannes 12:38-41 aangehaal word.

Dit is ook merkwaardig dat Jesaja 35 se boodskap van ‘n terugkeer uit ballingskap presies met Jesaja 51 se beskrywing daarvan ooreenkom. Dieselfde vers kom in beide hoofstukke voor:

“dié wat deur die Here vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met jubelkrete – met ewige vreugde sal hulle gekroon wees. Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig, en verdriet en ‘n gesug sal wegvlug.” (Jes 35:10; 51:11)

So ook Jesaja 11 se beskrywing van die Messias wat ooreenkom met Jesaja 65 s’n waarin presies dieselfde sin voorkom:

“Mense sal nie kwaad doen of hulle wangedra nie – nêrens op my hele heilige berg nie.” (Jes 11:9; 65:25)

Dié perspektief op Jesaja word onder andere deur die geskrewe boekrol van Jesaja gesteun. In Qa, ‘n Dooie See-rol van Jesaja, is die laaste vers van hoofstuk 39, Jesaja 39:8, twee reëls van die onderkant van die kolom aangebring, en begin Jesaja 40:1 direk daarna, en die res van die hoofstuk daarna, sonder enige suggestie van ‘n breuk of ‘n nuwe begin.

“Tweede” en “derde” Jesaja

Baie geleerdes verbind egter hierdie profesieë in die tweede deel van die boek aan ‘n “tweede” Jesaja (Jes 40-55) as ‘n boodskap van hoop aan die ballinge wat begin terugkeer uit Babilonië in die tyd van Sesbassar, die Judese leier (Esra 1). Hulle stel selfs ‘n “derde” Jesaja voor (Jes 56-66) wat die boodskap van ‘n Messiaanse koninkryk in die toekoms verkondig, in die tyd van Serubbabel, die volgende Judese leier (vgl Esra 2).

Ek dink egter daarteenoor dat daar genoeg rede is om die boek as ‘n eenheid te hanteer,  soos ek hierbo aangetoon het. Opsommend:

  • Daar is ‘n onteenseglike skriftelike en literêre eenheid tussen Jesaja 1-39 en die tweede deel van die boek in Jesaja 40-66, soos geïllustreer deur kenmerkende frases en ooreenstemmende gedeeltes.
  • Daar is profesieë van oordeel teen Babilonië (Jes 13-14; 21) in die eerste deel wat ook eers ‘n eeu en ‘n half later in vervulling gegaan het. Die vraag kan dus met reg gevra word, as die profesieë van oordeel in Jesaja se tyd pas, hoekom dan nie ook die profesieë van hoop nie?
  • Die ballingskap in Babilonië word ook voorspel in die eerste deel van die boek wat eers ‘n eeu en ‘n half later in vervulling gaan (Jes 39).
  • Die profesieë van hoop vir ‘n terugkeer van ballingskap kom ook in die eerste deel van die boek voor wat ‘n duidelike ooreenkoms toon met dié wat in die tweede deel van die boek verskyn (Jes 35; 51).

Die oorweginge gee my genoeg rede om Jesaja 40-66 in dieselfde tyd te plaas as Jesaja 1-39, soos baie geleerdes doen.

Jesaja 40-66

Die tweede hoofdeel van Jesaja, hoofstuk 40-66, werk met God se plan om ‘n oorblyfsel van sy volk in ballingskap te red wat Hom sal dien in ‘n nuwe bedeling. Die Dienskneg van die Here speel hierin ‘n sleutelrol.

Die profesieë dui op die boodskap wat aan die einde van die ballingskap van Juda in Babel verkondig moet word. Daardie einde het eers ‘n eeu en ‘n half later in 539 vC aangebreek met die terugkeer wat moontlik gemaak is deur die Persiese koning, Kores (Darius), wat die Babiloniese ryk tot ‘n einde gebring het.

Dit hang saam met die profesie wat Jesaja oor Juda in hoofstuk 39 uitgespreek het:

“Hoor die woord van die Here, Heerser oor alle magte, ‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, na Babel weggedra sal word – daar sal niks oorbly nie,’ het die Here gesê. ‘En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, en hulle sal paleisamptenare word in die paleis van die koning van Babilonië.” (Jes 39:5-7)

Soos ek al geskryf het, ‘n mens kan selfs die rol wat Daniël en sy vriende later in Babilonië sal speel, in hierdie profesie raaksien!

Jesaja 40-41

Jesaja 40:1-11 is ‘n opdrag aan die profeet om ‘n boodskap van troos vir Juda te bring. Jesaja 40:12-31 is ‘n omvattende beskrywing van die grootheid van God.

Jesaja 41:1-20 verheerlik Jahwe dat Hy in die geskiedenis optree en daarmee sy soewereiniteit oor die nasies bewys. Die Here verseker ook sy mense dat, net soos Hy voorheen namens hulle opgetree het, Hy dit weer sal doen. Dit sluit die hele volk van Israel in. In Jesaja 41:21-29 roep Hy die nasies op om hulle afgode te bring om bewys van hulle krag te lewer, iets wat uiteraard sinloos gaan wees, omdat die afgode nikswerd is: “nie een van hulle het ‘n woord te sê gehad nie!” (Jes 41:28)

Teks en konteks

Let op dat die eerste perikoop van Jesaja 40 begin (Jes 40:1-2) en eindig (Jes 40:9-11) met die boodskap dat dit God se inisiatief is wat die uitkoms bring vir Jerusalem. In die eerste gedeelte word met Jerusalem gepraat en in die laaste gedeelte word hulle (Sion, Jerusalem) juis opgeroep om die goeie tyding vir Juda te bring. Die prentjie van God waarmee die volk opgeroep en getroos word, is God as Herder.

Tussenin is daar ’n verbeeldingsgesprek tussen moeilik identifiseerbare partye (in vers 6b is dit moontlik die profeet self) wat klem lê op die woord van God wat vir ewig bly, en gekontrasteer word met die mag van mense. Tog moet daar voorbereidings getref word vir dié woord om gehoor te word. Dit laat ’n mens onwillekeurig dink aan die bediening van Johannes die Doper wat aan dié verse gekoppel word (Joh 1:23; Luk 3:2-7 vv).

In die tweede perikoop van Jesaja 40 word die onvergelyklike wysheid en skeppingsmag van die Here besing (Jes 40:12-26). Let op hoe dié gedagtes oor God dan ingespan word om vir Juda te oortuig dat God hulle belange op die hart dra (Jes 40:27-31). Hulle hoef nie meer te kla dat God hulle nie raaksien nie, trouens mag nie meer kla nie, want dié God sien hulle nie net raak nie, maar sal nooit moeg word om vir dié wat op Hom vertrou nuwe krag te gee nie.

Die uitkoms word in Jesaja 41 verbind aan die optrede van ’n heerser uit die ooste, na alle waarskynlikheid Kores van Persië (vgl Jes 45), wat deur die Here ingespan word. Hierdie Kores kan moontlik dieselfde persoon wees as koning Darius wat verantwoordelik was vir die terugkeer van die Jode in die laaste helfte van die 6de eeu vC. (vgl Dan 6:29 waar die sin só vertaal kan word: “gedurende die regering van Darius, dit is die regering van Kores die Pers.”)

Jahwe word daarmee verheerlik dat Hy in die geskiedenis optree en daarmee sy soewereiniteit oor die nasies bewys. Hy verseker ook sy mense dat, net soos Hy voorheen namens hulle opgetree het, Hy dit weer sal doen. Dit sluit die hele nageslag van Abraham in.

Sy optrede ontlok vrees by die nasies wat hulle dryf tot die nuttelose afgode wat met spykers ondersteun moet word sodat hulle nie omval nie (Jes 41:1-7)! Maar Israel kan moed skep, want God is met hulle, al voel hulle soos ’n wurm in hulle onbenulligheid. God sal hulle gebede verhoor en groot veranderinge bring tot ’n getuienis vir baie nasies (Jes 41:8-20). Let op hoe Israel as God se dienskneg geteken word, die eerste betekenis van die dienskneg van die Here in die boek.

Die wonder is dat die nasies niks aan God se uitkoms kan verander nie (Jes 41:21-29). Hulle afgode is niks en kan niks doen nie. Hulle hoef net sowel nie daar gewees het nie! Die Here het hulle opgeroep om tog iets te sê, maar: “nie een van hulle het ‘n woord te sê gehad nie!” (Jes 41:28)

Boodskap en betekenis

Neem gerus vandag een van die gedagtes oor God wat jou getref het, en spandeer tyd om daaroor na te dink en die Here te loof vir wie Hy is.

Of neem een van die beloftes wat jou eie situasie aanspreek en bevestig jou vertroue op die Here dat Hy dit ook vir jou in vervulling sal laat gaan soos eenmaal vir Juda met die terugkeer uit die ballingskap.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar