Skip to main content

Spreuke 19:1-29

Integriteit in alles

Spreuke 19:1-3

Vers 1. Integriteit (eerlikheid) het meer waarde as rykdom. ‘n Eerlike arme is beter af as ’n perverse ryke. Vers 2. Jy kan nie opmaak vir ‘n gebrek aan kennis met jou spoed of energie nie. Ywer sonder kennis is gevaarlik. Boonop: “Haastige hond verbrand sy mond.” Of: “Getting nowhere fast!” (Kidner). Vers 3. Jy kan nie dwase besluite neem en dan God blameer nie.

Spreuke 19:4-5

Vers 4 stel nog ’n harde werklikheid. Welvarendes het meer vriende as armes. Vroeër in Spreuke is al gesê dat armes selfs deur hulle buurmense in die steek gelaat word (vgl Spr 14:20). Konflik met die familie kan armes self dié bietjie vriende kos wat hulle nog het (vgl Spr 19:7). Vers 5. ‘n Gebrek aan integriteit – vals getuienis en leuens – kan ‘n duur straf beteken in ‘n hofsaak (vgl Spr 19:9 wat dit herhaal, net met die klem op die vernietiging wat dit bring). Die wet het geleer dat wat ‘n vals getuie aan die een wat hy beskuldig wou doen, aan hom gedoen moet word (Deut 19:18-19).

Spreuke 19:6-7

Hierdie verse brei verder uit op die harde werklikhede van welvaart en armoede soos in vers 4 en 5 gestel. Vers 6. Almal wil voordeel trek uit ander se mag en vrygewigheid. Dit kan vir die ryke ’n vloek of ’n seën wees. Vers 7. Daarenteen, ‘n arm man se vriende word beïnvloed selfs deur sy familie se mening oor hom. Armoede is ’n bitter werklikheid waarin die enigste positiewe punte ’n lewe van integriteit teenoor mense en God is (vgl Spr 19:1).

Spreuke 19:8-9

Vers 8. Jy doen jouself ’n guns as jy groei in wysheid van hart. Net so sal jy sal vir jouself ’n goeie lewe verseker deur ’n helderheid van verstand te behou. Vers 9. ‘n Gebrek aan integriteit – vals getuienis en leuens – kan jou jou lewe kos (vgl Spr 19:5 waar dit reeds gesê is, net met die klem op straf). Die wet het geleer dat wat ‘n vals getuie aan die een wat hy beskuldig wou doen, aan hom gedoen moet word (vgl Deut 19:18-19).

Spreuke 19:10-12

Vers 10. Weelde pas nie by ’n dwaas nie, want hy kan die waarde daarvan nie waardeer nie. Dit is so goed ’n werker (slaaf) kom in bevel van sy werkgewers (prinse). Nie dat dit nie soms gebeur nie (Pred 10:6-7), maar dit laat ’n samelewing in wanorde verval. Soos dit met die skeuring van die ryk van Israel gebeur het waar Jerobeam koning geword het en die volk afvallig geraak het.

Vers 11. Die 1983-vertaling het dit pragtig vertaal. “’n Verstandige mens beteuel sy humeur,” want ’n koel kop voorkom ’n onvanpaste optrede. Hy “stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees,” want wie wrokke koester, kom in ’n siklus van wraak en weerwraak wat almal se ondergang beteken. Verstandigheid (śekel) beteken die kapasiteit om nie net beginsels te begryp nie, maar daarvolgens op te tree. Dit help hulle om oopkop na ander te kyk en nie deur woede of wrokke van stryk gebring te word nie. Hulle is daarom lankmoedig – ’n eienskap van God – wat beteken dat hulle nie gou kwaad word nie. Hy stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees, iets wat in die NT ook baie hoog waardeer word vgl (Matt 18:21-35).

Die Hebreeuse woord עֲבֹר (’avor) – met “vergewensgesindheid” vertaal in die Afrikans – beteken in hierdie konteks volgens NET Bible: “to pass over” (KJV, ASV). Die NCV, TEV vertaal met “ignore.”

McKane sê hieroor:

“The virtue which is indicated here is more than a forgiving temper; it includes also the ability to shrug off insults and the absence of a brooding hypersensitivity.… It contains elements of toughness and self-discipline; it is the capacity to stifle a hot, emotional rejoinder and to sleep on an insult” (Proverbs [OTL], 530).

Vers 12. Peterson vertaal: “Mean-tempered leaders are like mad dogs; the good-natured are like fresh morning dew.” (The Message). Dit leer ’n mens om leiers met groot takt te hanteer.

Spreuke 19:13-14

Vers 13. ‘n Dom-astrante seun en ‘n twisgierige vrou kan ‘n man knak (vgl Spr 27:15-16 wat uitbrei hierop). Vers 14. Welvaart is ‘n geskenk van jou ouers. Wat egter nog beter is, is ‘n verstandige vrou, want dit is ‘n geskenk van God.

Spreuke 19:15-16

Vers 15. Luiheid lei tot lusteloosheid en traagheid lei tot honger. Peterson vertaal uitnemend: “Life collapses on loafers; lazybones go hungry.” (The Message). Vers 16 formuleer ’n weergawe van die bekende twee weë: Gehoorsaamheid aan die wet van God beskerm jou lewe; ongehoorsaamheid aan sy weë eindig in die dood.

Spreuke 19:17

Hulp aan arm mense word deur God beloon. Dit is soos ’n lening aan die Here wat Hy aan jou sal terugbetaal. Dit eggo die ander uitsprake oor deernis met armes in Spreuke (vgl Spr 14:13; 17:5; 22:2; 29:4). Dit vorm ook die onderbou van die talle NT uitsprake oor armes deur Jesus en die ander NT skrywers (vgl Matt 19:21; Luk 4:18; 6:20; 14:13; Rom 15:26; 2 Kor 6:10; Gal 2:10; Jak 2:5).

Spreuke 19:18-19

Vers 18. ‘n Streng opvoeding bring hoop, maar moenie oorboord gaan daarmee nie. Vers 19. Om ‘n opvlieënde mens te help, word baie gou ‘n konstante verantwoordelikheid.

Spreuke 19:20-21

Vers 20. Wysheid kom deur te luister na raad en teregwysing. Wysheid is daarom ’n langtermyn belegging (Kidner). Vers 21. Jou planne kan nie God se besluite verander nie. Die mens wik, maar God beskik. Dit is ’n gerusstelling vir dié wat sy wil soek en doen. Dit is ’n waarskuwing vir dié wat hulle eie kop volg en onafhanklik van God wil leef.

Spreuke 19:22-23

Vers 22. Lojaliteit (standvastige liefde) is jou kosbaarste eienskap. Dit is beter om arm te wees as om vir eie gewin bedrog te pleeg en jou lojaliteit te verraai. Vers 23. Die vrees vir die Here (ontsag) bring rus en beskerming.

Spreuke 19:24-25

Vers 24. Luiheid is regtig ‘n verlammende siekte wat jou energie só tap dat jy nie eers die voorsiening wat daar is benut nie (vgl Spr 26:15). Vers 25. Sterk optrede (klap) teen ‘n respeklose mens (ligsinnige) is ‘n les vir onervarenes en uit straf leer die verstandiges.

Spreuke 19:26.

Gewelddadige mishandeling en minagtende verstoting van jou ouers is skaamteloos en veragtelik.

Spreuke 19:27-29

Vers 27. Luister na raad word net ‘n bate as jy iets positiefs daarmee doen. Anders kan jy net sowel ophou luister daarna. ’n Groei in wysheid veronderstel ’n lewenslange luister en gehoorsaamheid daaraan. Vers 28. Kwaadwillige en goddelose getuies dwarsboom die reg doelbewus. Vers 29. Respeklose mense (ligsinniges, spotters) verdien straf en slae.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…