Skip to main content

Nahum 2

Die Here jaag Nineve uitmekaar

Nahum voorspel die val van Nineve, die hoofstad van die Assiriërs: “Daar kom iemand wat jou sal verjaag, Nineve.” Hierdie voorspelling het waar geword in 612 vC toe ‘n koalisie van ‘n hele aantal magte teen Assirië in opstand gekom en hulle oorwin het. Dit was ‘n leërmag van onder andere Meders, Perse, Galdeërs, Babiloniërs en nog ander.

Die Galdeërs van Nabopolassar het hierna vanuit Babilon regeer en die volgende wêreldmag geword. Nebukadnesar, Nabopolassar se seun, sou in 604 vC sy pa opvolg en verantwoordelik wees vir die uiteindelike ballingskap van Juda in 597 en 586 vC, hoewel dit iets is wat Nahum nie hier aanraak nie.

Teks en konteks

Nineve word opgeroep om hulleself te beskerm, maar dit is tevergeefs. Die Here gaan hulle verwoes – deur die nasies wat teen hulle in opstand kom – en Juda weer herstel deur die juk van die oorheerser van hulle af te werp.

Terloops, hoe jammer is dit nie dat Josia, die koning van Juda wat amper die gety vir hulle met sy hervormings gedraai het, dié voorsiening van die Here in die laaste dekade van die 7de eeu nie genoegsaam aangegryp het nie. Sy koppigheid om by wêreldpolitiek betrokke te raak, dwarsboom die kanse wat die volk op ‘n werklike radikale transformasie gehad het (vgl 2 Kron 34-35)

Die aanvallers, sê Nahum, is soos ‘n “rooi gevaar” wat met groot vertoon so vernietigend soos fakkels of weerlig die stad oorrompel. Nineve probeer keer, maar die soldate struikel met hulle verdediging en die stormram van die vyand is al aan die werk. Vers 6 se vertaling van: “sluise van die kanale” gee die Hebreeuse teks: “die poorte van die rivier,” weer. Dit kan verwys na die Griekse storie hieroor wat die val van die stad wyt aan die rivier wat deur die stad loop en in vloed die stadsmure laat intuimel het. Dit is egter meer waarskynlik dat dit verwys na die stadspoorte by die rivier wat oopgebreek is en vanwaar die stad ingeneem is.

Die stad word dus ingeneem en hulle “mooi goed” gebuit. Die stad word ontvolk en weggevoer in ballingskap. Hulle is soos ‘n dam waarvan die water uitloop, ‘n besonder effektiewe metafoor, weens die sisteem van damme wat in die rivier gebou is om nie net beheer oor die rivier uit te oefen nie, maar ook water vir die stad te verskaf.

Let op hoe hartverskeurend die harde werklikheid van die nederlaag beskryf word: “sy mense is verslae, hulle knieë knak, hulle kry krampe in die onderlyf (stomachs retch, vertaal Peterson in The Message), almal is bleek van die skrik.

Die tragiek van die situasie word in die laaste drie verse verhoog met ‘n spotlied wat oor Nineve aangehef word: “Waar is die lêplek van die leeus nou … waar is die leeu en sy wyfie wat onbevrees met hulle welpies rondgeloop het?” Nahum gebruik juis dié beeld, omdat Nineve lief was om hulle as leeus voor te stel soos op die baie reliëf tekeninge uit dié tyd te siene is. Die eens trotse wêreldmag se moed is gebreek, hulle mag is tot niet.

Die Here tree op teen hulle. “Hy vee alles wat jy bymekaargemaak het, van die aarde af.” Dit is klaar met Nineve.

Boodskap en betekenis

Die oorheersende gevoel wat my bybly ná die lees van hierdie hoofstuk is een van verydeling. Die wyse waarop nasies mekaar regdeur die eeue verwoes en vernietig, bly ‘n hartverskeurende werklikheid. Dat die Here uiteindelik agter dié gebeure sit, maak dit net nog erger.

Die enigste drie ligpunte in dié ontstellende stuk is eerstens dat die Here die ontvolking en wegvoering van Nineve laat gebeur nádat hy reeds ‘n profeet, Jona, daarheen gestuur het, en tweedens dat die grusame dade van die Assiriërs van Nineve regtig eeue lank aangehou het. Aan hulle word gedoen wat hulle aan ander gedoen het. Daar is ‘n sekere sin vir regverdigheid wat daardeur bevredig word.

In die derde plek herstel dié nederlaag “die eer van Jakob” (vers 2) … maar dit is op sy beurt weer ‘n tragedie van sy eie, want Josia kon dié kans wat die Here vir hulle gegee het, nie benut nie, weens sy koppigheid om eerder sy stem op die internasionale verhoog dik te probeer maak, met tragiese gevolge. Hy is dood in die veldslag teen Egipte en sy opvolgers het die land in die afgrond in bestuur.

Die evangelie in dié tragiese ontplooiing van Josia se lewe is dat daar tóg die kans is om die uitkoms van die Here aan te gryp. ‘n Mens kán onderskeiding aan die dag lê en die Here se plan vir die toekoms aangryp. Mag jy genade kry om dit te doen.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…